Ek wou nie sê liewe of liefste Kommerkous nie, dit klink te intiem en bekend, beste, was verseker ook nie die korrekte woordkeuse nie. So dan sal dit maar net moet wees… Kommerkous.
Met hierdie skrywe wil ek jou graag in kennis stel dat jou invloed met onmiddellike effek opgeskort word. Jou dienste word eenvoudig nie meer benodig nie. Ek is die baas van my, nie jy nie. So, dit is dan ‘n vaarwel, ek wil sê dit was lekker, want dis die ordentlike ding om te sê, maar ek is verby die punt van ordentlik wees met jou, ek is wel klaar met jou. Nie vir eens nie, sommer vir altyd.
Sien, ek het die afgelope tyd bewus geword van jou truuks. Hoe jou benadering my hart vinniger laat klop. So weet jy wat kom ek toe agter van jou, behalwe dat jy met oortuiging kan lieg? Jy weet eintlik niks. Ek was nog jonk en dom, en het so maklik vir al jou ‘sê nou maars’ en ‘wat as’ praatjies geval. Hook, line and sinker…
Jy het my oortuig, op die jonge ouderdom van 18, dat ek behoort bekommerd te wees oor my ouma wat moontlik kan doodgaan. Met oortuiging in jou stem nogals… want as jy in saal 3A werk van Universitas Hospitaal kom jy baie vining agter, mense gaan maklik dood van hartaanvalle… Eintlik het jy net gevra. Is jou oupa nie ook dood van ‘n hartaanval nie? Jy was baie lief vir hom en hy is dood! Jou ouma is ook nie meer jonk nie, nê?
Toe glo ek jou en ek begin in alle erns bekommerd wees oor my ouma. Weet jy wat Kommerkous? My ouma het nog jare, dekades later geleef en is eers op 94 oorlede. 94! Teen die einde het ek gebid dat die Vader haar moet kom haal. Gemorste jare van pure verniet bekommerd wees.
Jou toertjies om mens se aandag van dit wat waar en werklik is af te lei, is uiters effektief, dit sal ek jou moet gee. Vir jare het jy my laat glo, ek is ‘n Martha, bekommerd wees is wat ek doen, goed doen… dis in jou Naam het jy gesê, jou DNA, maar weet jy wat besef ek, in die gees is ek lankal ‘n Maria. Ene wat geleer het om by die Vader se voete te sit. Dis juis Hy wat my bewus gemaak het van jou.
Jy is nie aan my kant nie, jou planne vir my lewe is beslis nie goed nie… Jy dra beslis nie mý belange op jou hart nie, gits ek is oortuig daarvan jy het nie ‘n hart nie. Dis eintlik vir my so lekker om jou vir goed te groet.
Ek wou nog altyd graag by jou hoor? Wat help dit om oor gister en die verlede bekommerd te wees? Wat ‘n vermorsing van tyd en energie! Dan praat ek nie eers van bekommernisse wat tot in die toekoms strek nie? Nog ‘n vragie… dink jy regtig om bekommerd te wees oor more gaan iets aan môre verander? God is in beheer, liewe kommerkous en meestal dink ek, is jy nogals geneig om dit uit die oog te verloor!
Dis tyd dat ons paadjies moet skei, onthou jy die seisoen wat ousus vir die eerste keer Universiteit toe is, hoe jy my slaap, my eetlus, my vreugde kom steel het? Wat ek niks anders kon doen as om bekommerd te wees nie? Graag herinner ek jou liewe Kommerkous aan die versie in Romeine 8:28: Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet…
My kinders kan nie groei in karakter en gees en menswees as alles altyd klopdisselboom gaan nie! Maar ook in die swaarkry, agter die skerm, werk Hy, wat hulle die liefste het, vir hulle alles ten goede mee…
Was dit rof die eerste drie maande? Was daar baie trane en ongelukkigheid en stress en kommer… verseker… maar was God in haar storie? Beslis. Was God besig met haar, en besig om alles ten goede te laat meewerk? Verseker. Sy is nou so gelukkig in haar kursus, so gelukkig waar sy haar tans bevind. Het jou teenwoordigheid my enigsins gehelp? Nee!
Ek kies om van vandag af met oortuiging, met hart en siel en verstand vas te hou aan elke skrif in die Woord wat praat oor bekommerd wees… en ek herinner jou graag aan my gunstelinge:
Moet oor NIKS bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. (Filip. 4:6)
Moet jou dus nie bekommer oor die dag van more, want more sal oor homself bekommer. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad. (Matt. 6:34) net vir in geval jy gewonder het Kommerkous, oor die feit dat jy nie oor more hoef bekommerd te wees nie… want Hy is alreeds daar in elke liewe more, en Hy is goed!
Moenie bang wees nie,
Ek is by jou,
moenie bekommerd wees nie,
Ek is jou God.
(Jesaja 41:10)
Ek kan jou toegooi met al die versies, ek kan nog duisende voorbeelde gee van jou wat my aanmoedig om bekommerd te wees, ek wat sommer blindelings verplig voel om my hart en my ore aan jou te leen. Ek wil net so ten slotte sê: 95% van dit wat jy gedink het ek oor bekommerd behoort te wees, het NOOIT gebeur nie.
Kommerkous, hierdie is ek wat jou finaal groet. Jy is nie meer welkom in my hart en my lewe nie. As jy nog twyfel of ek jou langer wil vermaak in my lewe, lees gerus die versie hieronder dit kom van my Pa in die hemel af. En ek het klaar en finaal gekies. Ek het die beste gekies, ek het HOM gekies.
The Lord answered, “Martha, Martha! You are worried and upset about so many things, but only one thing is necessary. Mary has chosen what is best, and it will not be taken away from her.” (Luke 10:41-42)
Martha, ek het jou aanslag tot die onderwerp nou baie geniet. Ek dink meeste ma’s sukkel met die verhouding met Kommerkous! Ek het hom/haar ook al heel ernstig weggejaag en as ek weer sien loer die bogger om die hoek vir my!
Ja-nee! Dis verseker ‘n deurlopende proses van hom wegjaag! Hy is effe hardkoppig en volharding is sy ding!
Amen