Op pad kerk toe anderdag besluit ek en manlief (ons) mag vir een dag glad nie kla nie. Hy vra altyd hoeveel onse is in my pond, want as ek sê ‘ons’ moet die vuilgoed uitvat beteken dit eintlik hý moet. Maar ek is darem die vrou in die ‘ons’, so ek kla seker meer as hy, maar ek kan dit nie met sekerheid sê nie, ek het net so vermoede.
Elk geval, ek het nie opgestaan en besluit dis ‘n kla-lose dag uit my eie uit nie. Ek volg Mel Robbins op sosiale media, en haar uitdaging vir die dag was om vir een dag glad nie te kla nie. Jy kan haar gerus gaan volg, druk maar net jou ore so nou en wan toe, want sy is nogals lief om die kierietjie ‘F’ woord te gebruik.
Hier stap ons met die trappe op kerk toe en ek sê: “Sjoe! My bene is lekker lam na gister se stap, maar ek kla nie… ek sê maar net!” Gits amper kla ek 5 sekondes nadat ek gesê het ons mag nie kla nie! Goeie genugtig!
En in die loop van die dag besef ek, ons kla te veel, te vinnig. ‘Kla jy?’ vra ons elke nou en dan vir mekaar. En as jy my die vorige dag gevra het of ek klaerig is op ‘n gereelde basis, sou ek dalk met oortuiging in my hart kon gesê het: Beslis nie! Nou is egter nie meer so seker van my saak nie!
Ons boerevolkie sal ook ten sterkste ontken dat ons nogals kan kla, dat ons boonop daarvan hou en ons kla met die witbrood onder die arm en al. Ons het kla tot ‘n kuns vervolmaak, dat dit ampertjies nie meer soos kla klink nie, maar eerder soos ‘n gesprek.
Ek weet nie met sekerheid of kla ‘n sonde is nie, wat ek wel agtergekom het is dat kla en dankbaarheid nie lekker in een sinnetjie inpas nie. Jy is of dankbaar of klaerig, jy kan nie albei wees nie. Daar is darem ‘n Klaagliedere van Jeremia boek en die Psalms bevat heelparty kla gedigte… En onthou jy Jona se treurmares en klagtes onder die komkommer plant wat die wurm kom opvreet het? Dis menslik om te kla, maar kla moet nie ons gesprekke en gedagtes oorvat en oorheers nie.
Is kla ‘n vorm van ondankbaar wees? Ek vra net, want ek was self salig onbewus van die hoeveelheid keer wat ek per dag kla… Jy sal maar vir jouselwers ‘n kla-vrye dag moet verklaar en self besluit of jy ook in die Klakous-kategorie val.
As ek en jy eerlik met mekaar moet wees, sal ons kan erken dat dit dalkies makliker is om te kla as om dankbaar te wees, maar die vrug van dankbaarheid en kla lyk net aan die einde van die dag nie naastenby dieselfde nie. Paulus skryf aan die gemeente in Filippense (uit die TRONK uit) Doen alles sonder kla of teëpraat. (Filip. 4:14) As ek die briefie uit die tronk uit geskryf sou dit dalk anders bewoord gewees het. Dit sou heel waarskynlik die woorde bedompig, onaangenaam, vrot en rot ingesluit het. Dis nie so natuurlik en maklik om alles sonder kla of teëpraat te doen nie… ons sal dit moet inoefen.
Wanneer mor en neul word wie ons is, wanneer ons lekkerste tydverdryf kla raak, en ons foutvinderig, oordelend en moeilik is, is dit dalk tyd om te herbesin. Kla, dink ek, raak ‘n sonde wanneer jy iets aan die situasie kan doen, maar jy doen niks nie, jy kla net.
Dennis Prager het ‘n waar ding gesê, hy sê:
Complaining not only ruins everybody else’s day, it ruins the complainer’s day too. The more we complain,
the more unhappy we get.
Miskien moet ons net met meer bewustheid ons woorde kies. Miskien moet ons weer bestek opname gaan doen van ons lewens, wie ons is, wat ons het, aan wie ons behoort. Die Here is goed vir my en jou. Aan Sy liefde is daar geen einde nie. (Ps. 136:1)
Be cheerful with joyous celebration in every season of life. Let joy overflow, for you are united with the Anointed One! Let gentleness be seen in every relationship, for our Lord is ever near. Don’t be pulled in different directions or worried about a thing. Be saturated in prayer throughout each day, offering your faith-filled requests before God with overflowing gratitude. Tell Him every detail of your life, then God’s wonderful peace that transcends human understanding, will make the answers known to you Through Jesus Christ. (Phill. 4:4-6)
Maak jou kla-lysie vriendin, dit wat jou pla, dit wat jou terug hou, die goedjies wat vir jou te veel raak, en vat dit vir HOM. Vertel Hom elke detail van jou lewe… Hy wag vir jou! Ek vermoed ten spyte van klakous- kategorieë en maniertjies het Hy ons steeds innig lief.