Op Pad.

Die afgelope week of wat het elke tweede vers wat ek lees iets te doen met rigting, koers of met ‘n pad… Ek het nou al die versies wat ek oor rigting en koers kon kry gaan opsoek! En sjoe daar is hordes, die gaan ‘n laaang post wees, hoop jy sit gemaklik!

My liewe man, vir wie ek bitter-baie lief is, vra nie vir rigting aanwysings nie. Ek dink dis ‘n alleman ding- ek wil net vandag sê ek is bitter dankbaar vir die engelse tannie op my selfoon wat vir my sê of ek links of regs moet draai. Sonder daai tannie sou ek al menige male diep verdwaal het! Is dit nie ook so bietjie met ons op die lewenspad nie? Het ons nie juis op hierdie belangrike pad aanwysings nodig nie. En as jy soos ek of ousus nie juis rigting vas is nie, kan dit net ‘n gelol afgee.

Ons kan soveel tyd mors op die lewenspaaie, vir maande beur ons voort op die onbekende, te skaam om rigting te vra, te moedeloos, te hardkoppig. Ons bevind ons soms op die pad van dwaasheid, waar ons rondploeter en kosbare tyd vermors. Spreuke 19:3 sê dit so mooi! Sy eie dwaasheid bring ‘n mens op die verkeerde pad en dan is hy kwaad vir die Here. Hoe waar is dit my liewe vriendin? Soms blameer ons vir God vir die verkeerde afdraai pad wat ons self gekies het. Wanneer ons die stem agter ons geïgnoreer het, die stem wat gesê het:

“Hier is die pad, loop hierlangs.” (Jes. 30:21)

Ons draai soms af, op die ingewing van die oomblik en dan bevind ons op die krom-kronkel-verkeerde pad. (Spr. 2:15) Vra vir God, enige tyd, dag of nag: Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad! (Ps. 139:24) Nie die maklike pad nie, die beproefde pad. Die Here is goed en regverdig, Hy wys selfs vir sondaars die pad aan. (Ps. 25:8) Dít is genade!

Soms bevind ek en jy ons op die toemaar-almal-doen-dit pad. Dis die pad van oneerlikheid. Slegte nuus: daar is dorings en strikke in oorvloed op hierdie pad, wie sy lewe wil behou, moet eerder weg bly van hierdie pad. (Spr. 22:5)

Rig jou padwysers op, bring vir jou rigtingborde aan, hou jou oog op die pad wat jy moet loop, (Jer. 31:21) want met my God by my kon ek die pad aanhou loop. (Ps. 56:14) God is in jou hart, jou koers is nie onseker nie. (Ps. 37:31) Die aanwysings is daar, die padwysers beskikbaar. Ek en jy moet dit net raaksien en gebruik.

Daar is ‘n pad wat mens volg wat nie altyd maklik is nie, waar die eie-ek die ek-sal-self, die ek-sal-maak-soos-ek smaak homself telkemale op die offerstapel moet gaan neerlê. Dis die gehoorsame pad, die pad waar jy sonder om te skroom jouself in lyn trek met Vader se wil vir jou lewe. Die gehoorsaamheid van die opregte maak sy pad gelyk. (Spr. 11:5) Wil jy die gelyk pad loop liewe vriendin? Kom in lyn, in gehoorsaamheid met die wil van Vader vir jou lewe.

Die pad van die regverdige is ‘n goeie pad om te loop, dis ‘n helderverligte pad.(Spr. 4:18) Geen donker, weggesteekte draaie en blinde hoogtes nie.  As jy loop, sal daar niks in jou pad wees nie, en as jy hardloop sal jy nie struikel nie. (Spr. 4:12) Daarenteen: Die pad sonder lig is meermale die eensame-alleen pad. (Klaagl. 3:2) Die dwaas dink male sonder tal dat sy eie pad die regte pad is. (Spr. 12:15)

Voor jy jou oë uitvee bevind jy jou voor ‘n vurk in die pad. Links? Regs? As iemand die Here dien, leer Hy hom watter pad hy moet KIES. (Ps. 25:12) Hy sal jou op die regte pad bring, my liewe vriendin. (Ps. 107:7) So sê die Here: staan by die kruispaaie en kyk: Vra watter pad die beste en loop dit.(Jer. 6:16) Die pad na die lewe is smal, die pad na die verderf is breed Kies mooi vriendin, kies met wysheid. (Matt. 7:13-14)

Hou jou oë op die pad vorentoe, kyk reg voor jou uit. (Spr. 4:25) Salomo se raad is goed. As ons die heeltyd in die verlede leef, wanneer ons bly terugkyk na dit wat was, die dinge wat ons niks meer aan kan verander nie, maak dit dat ons die skoonheid van die pad waarop ons is skoon miskyk! Dit maak dat ons al struikelend vorentoe beur met ons hart en siel wat nog iewers in die verlede vasgevang is.

Jy is nie alleen op hierdie pad wat jy jou bevind nie. Hy, die God van die hemel en die aarde wat nog altyd met jou bemoeienis gemaak het, hou wag oor die pad van sy troue dienaars. (Spr. 2:8) Onthou altyd liewe vriendin, my en jou lewe lê oop voor die Here, elke tree wat ek en jy gee sien Hy! (Spr. 5:21) Hy wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Hy wil jou raad gee en Sy oog oor jou hou. (Ps. 32:8) Dit is God se belofte vanoggend aan jou:

Ken My in alles wat jy doen en Ek sal jou die regte pad laat loop. (Spr. 3:6) Volg My waar Ek gaan, Hou op My pad en draai nie af nie. (Job 23:11) Ek sal vir jou ‘n onverdeelde hart en ‘n vaste koers gee. (Jer. 32:39) Jy is nooit alleen nie.

Mag die woorde,  die versugting en die gebed wees van my en jou hart: Ek weet, Here, die mens kan nie self sy pad kies nie, niemand kan self sy koers bepaal nie. (Jer. 10:23) U, Here, bepaal die koers van die mens met wie se pad U tevrede is. (Ps. 37:23) Jesus wees my koers bepaler, my Rigtingaanwyser. Wys my. Leer my. U woord is die lamp wat die weg wys, die lig op my pad. (Ps. 119:105) Amen.

2 Replies to “Op Pad.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *