‘n Vurige Tiener.

Liewe vriendin, ek het begin dink tieners is soos vure. En as hulle soos vure is, is daar ‘n paar kosbare lesse wat ons kan leer. Ek dink die eerste les is dalk ‘n vuur wat hoog en warm brand veroorsaak dat hare, ooghare en wimpers skroei. Behalwe dat dit nie juis mooi lyk nie, ruik dit ook nie baie lekker nie.

Les nommer 1, as die vuur hoog brand moenie te naby staan nie. Moenie deur onnodige harde woorde nog hout op die vuur gooi nie. Dit maak die vlamme hoër en groter.

Soms spreek ‘n handeling veel harder as die woorde wat by ons monde uitkom! Wanneer jy vermoed daar is ‘n vuurwerk vertoning op pad, ek bedoel jy kan dit op ‘n myl sien aankom. Vermy sinsnedes soos: “Watse houdinkie sien ek nou weer daar?” “Wat is fout?” Wat van: Dit lyk vir mamma of jy Hot Chocolate nodig het. Les nommer 2, Hot Chocolate kan vure blus.

‘n Tiener wil so graag onafhanklik wees, al weet hulle nie presies wat dit beteken nie, en dis goed en reg so. Ons wil ook hê hulle moet eendag onafhanklik wees, maar weet jy wat hulle het nodig om dit te oefen. Die onafhanklik wees besigheid gebeur nie vanself oornag nie. Ek het deur skande en skade al geleer… don’t cramp their style, don’t fuss. Les nommer 3: Gee vir hulle die nodige spasie om te ontdek wie hulle is.

Ek is slim genoeg om nie olie of petrol op ‘n vuur groot of klein te gooi nie, want ‘n ontploffing sal daar wees en beserings is ‘n waarborg. As jy sien jou tiener, wat die ander dag nog ‘n klein dogtertjie was, sien effe vurig daarna uit, dan is ek en jy slim genoeg om nie olie op die vuur te gooi deur dit wat ons doen, sê of dit wat ons nie sê nie. Want as jy ook ontplof dan kring die beserings na die hele gesin uit… is mos? Les nommer 4: Olie en vuur is ‘n dodelike kombinasie.

Les nommer 5: Moenie die aas vat nie… ek is nou nie ‘n hengelaar nie, het nie die geduld daarvoor nie en om na vis te stink maak my nie woes opgewonde nie… maar ek weet die volgende: jy sit aas aan ‘n hoek om ‘n vis te vang. As jou tiener kind aas aan ‘n hoek sit en dit voor jou neus swaai… dan vat jy eenvoudig nie die aas nie. Dis ‘n keuse wat jy maak. Kies vrede eerder as oorlog. Kies om jou ‘cool’ te hou… jy en ek is immers die grootmense en behoort eintlik al so bietjie beter te weet. So as jou tiener met daai ‘whateva’ houdinkie in die kombuis inslinger met ‘n skoorvoetende houding en erg begin skoor soek dan sê jy: “laat ek net gou so bietjie dink… nee dankie mamma is nie nou lus vir baklei nie”. Dis water nie olie nie.

Jy kan ver kom deur die volgende op ‘n te vurige tiener toe te pas: Kill them with kindness. Dis verseker les nommer 6. Luister daar is genoeg binne gevegte, self gesprekke en dinge in hulle harte, gedagtes en koppe aan die gang. As jy wil positief bydra sê ietsie moois, sê ietsie positiefs. As jy ver moet gaan krap en soek vir ietsie positiefs, dan maak jy so… ons kinders het nodig om te hoor… jy is okay, alles gaan okay wees, mamma is in jou span. Jy het altyd vir my.

Soms wanneer daar situasies kom wat bietjie hande in die hare tot gevolg het dan gaan vra jy vir wysheid en genade… nie krag nie hoor! Want krag kan dalk nadelige gevolge vir hierdie tiener-amper-nie-mens wat voor jou staan hê! Net wysheid en genade. Les nommer 7: Wyse woorde wat genadiglik gespreek word blus vure en genees wonde.

Weet jy wat is die kosbaarste les wat God my geleer het: “Dink ‘n bietjie terug en onthou.” Dis les nommer 8. Soms het ek en jy nodig om terug te dink aan ons eie tiener wees, geite en goete. Ek was ‘n maklike tiener. Maar ek kan baie duidelik onthou soms het ek gehuil en nie geweet waaroor nie, soms was ek kwaad en ek het nie geweet vir wie nie, soms was ek geirriteerd en nie geweet hoekom nie- en dit was alles in die dae voor Tik Tok, Instagram en Twitter of X of wat ookal. Ons tieners se belewenis en ervaring van die lewe is heeltemal anders as toe ons jonk was…

Les nommer 9 kom sommer reg uit die goeie Boek uit. Vaders, (en natuurlik moeders ook) moenie gedurig by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie. (Kol. 3:21) Weet jy watter houding frustreer tieners grensloos? Die houding wat sê ek weet alles en kan alles beter doen as jy. Hande op wie is skuldig. Jip, ek ook! Daar steek miskien waarheid in, maar ons moet terugstaan sodat hulle kan leer, soms deur om foute te maak.

Opstandigheid onder tieners- it’s a thing. Les nommer laaste is moenie vir jou kind hout, blits en petrol aandra om ‘n vuur te begin nie. En, Vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil. (Ef. 6:4)

Ek en jy moet vandag besluit, wil ons die geveg wen, of wil ons die oorlog wen? Ons kan maklik met tieners redeneer, altyd die laaste sê het, altyd beter weet, maar dan wen ons net die geveg. Wanneer ons die oorlog wil wen moet ons sorg dat die kommunikasie kanale oopbly, dat ons beskikbaar is met hot chocolate in die hand, nie noodwendig woorde nie, want dan ‘preek’ ons weer.

Ek het twee maklike tieners in die huis gehad, hulle gee my min grys hare, maar vriendin ek wil hê jy moet weet elke huis met tieners in is daar iewers ‘n biddende, soms moedelose ma. Selfs in so huis moet daar so nou en dan vure doodgeslaan word, ruk argumente hand uit, is daar soms trane van frustrasie en misverstaan, jy is verseker nie alleen nie.

As daar ‘n vuur in jou huis moet wees laat dit ‘n braaivleis vuur wees, ‘n vreugdevuur waar hartsmense bymekaar kom, waar marshmallows, choppies en natuurlik ‘n braaibroodjie gebraai word. Maar intussen onthou jy: Jy is nie alleen nie, ek wou net doodseker maak jy het dit gehoor!

2 Replies to “‘n Vurige Tiener.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *