Vir die mens wat in gevaar verkeer, is die Here ‘n toevlug, ‘n skuilplek in tye van nood. Daarom vertrou almal wat u Naam bely, op U, want U, Here, laat dié wat vra na U WIL, nie in die steek nie. (Ps. 9:10-11)
Op die vlakte, tussen sand en stof, in die Suide van Namibië staan ‘n boom tussen êrens en nêrens. Die Boom vertel ‘n storie van swaakry, uithou, aanhou en oorwinning. Van ver af is dit ‘n pragtige boom, ‘n boom wat jy wil verewig op kamera, maar soos jy nader stap en wil kennis maak met die boom, vertel die boom ‘n heel ander storie.
‘n Storie van seer, dood en struikeling. In die middel van die boom groei ‘n dooie tak ‘n halwe meter bo die top van die boom uit, die stam ‘n stille getuienis van intense seerkry, en selfs, gedeeltelike dood. Sien vriendin, hier in die woestynagtigheid moes hierdie boom kies… lewe of dood. Die keuse om te lewe en te floreer ten spyte van woestyn omstandighede is soms moeilik. Die besluit om kop op te tel en voort te beur in geloof, en vertroue. Om te blom ten spyte van ongunstige omstandighede.
Die Boom het ‘n paar goed geweet en vir homself uitgemaak:
# Selfs in die woestyn is God alomteenwoordig
# God is in beheer… ongeag wat sy emosies hom wil wysmaak
# God sien hom raak, Hy is nie onsigbaar voor die God van die hemel en die aarde nie.
# God was deur sy hele lewe getrou in alles, die oppe, maar by verre die getrouste in die affe.
Die Boom het ook lankal besef om te oorleef in die woestynagtigheid, om mooi te wees, om skadu te gee vir mens en dier, om nessie plek te gee vir voëltjies is ‘n kopskuif nodig. Die Boom moes begin anders dink oor omstandighede. Die laaste ding wat hy kon bekostig was moed opgee…
Die boom se oorlewingsstrategie was om na sy Maker te draai. Die boom het geweet daar is ‘n plan, al kon hy glad nie uitkoms sien in die dorheid en die niksheid nie. Die Boom het begin vasklou aan die beloftes van sy Maker. Oor en oor soos ‘n refrein het die beloftes deur sy wese gemaal. Blaamskuif en verontskuldiging sou geen doel dien nie.
Die Boom het begin lewe spreek, oor homself en oor ander. Die Boom het hom nie opgehou met die negatiwiteit van uitsprake en opinies om hom nie… dit het eenvoudig nie meer saak gemaak nie. Al wat saak gemaak het is die sagte oë van Sy Verlosser. Die Boom het oorleef oor genade onbeskryflik groot, die Boom het geleef, want die alternatief was ondenkbaar.
Vriendin, ek weet nie in watter seisoen jy tans is nie, dalk is jy vasgevang in jou eie woestyn. Dit is nie noodwendig ‘n lekker plek nie, maar dit is die plek waar ons na die aangesig van God smag. Wat ons dieper en intenser in Sy oë wil kyk. Waar ons wil veilig voel onder Sy vlerke en beskerming. Dit is ‘n geleentheid vir groei as ons net kan stilstaan, stilword en luister. Dat dit nie nodig is om nog eenkeer om dieselfde berg te strompel nie.
Faith is taking the first step even when you can’t see the staircase. (Martin Luther King) Vriendin ons weet mos geloof is nie tasbaar nie. Hoor hoe mooi sê Hebreërs 11:1 in die Amplified dit: NOW FAITH is the assurance (title deed, confirmation) of things hoped for (divinely guaranteed), and the evidence of things not seen [the conviction of their reality-faith comprehends as fact what cannot be experienced by the physical sense].
Relying on God has to start all over every day, as if nothing has yet been done. (CS Lewis) Vertrou op God in stede van op en in jouself. Ek en jy weet mos teen die tyd dat die vertroue in self ‘n resep vir chaos is!
I know not the way God leads me, but well do I know my guide. (Martin Luther King) Raak bewus van God se hart vir jou dan is dit nie so moeilik om jou vertroue in Hom te stel te alle tyd nie. Vertrou God se hart vir jou!!
Vir jou my liefste vriendin wat vir die soveelste keer om die berg stap, wat in die woestyn vasgeval het, God sien vir jou raak… Hy sê vandag vir jou:
“Ek wil My oog oor jou hou. (Ps. 32:10) As jy om hulp roep, hoor EK jou en EK red jou uit al jou benoudhede. Ek help jou wanneer jy moedeloos voel. (Ps. 34:18-19) Toe jy met baie onrus in jou binneste gesit het, het My vertroosting jou tot rus gebring. (Ps. 94:19) Dit is Ek wat jou in die woestyn, in ‘n dor land versorg het. (Hos. 13:5) Ek het jou in die woestyn gevind…. Ek het jou omhels, jou vertroetel en versorg soos die appel van My oog. (Deut. 32:10) Liefste kind, nadat jy ‘n kort tydjie swaargekry het, sal Ek jou self weer herstel; Ek sal jou moedig, sterk en standvastig maak. (1 Pet. 5:10 NLV)”
My gebed vir jou vandag is dat jy die liefde wat God vir jou het sal verstaan. Hou groot en wyd en diep dit is. Vriendin en die vrede en die genade van God in jou lewe beteken nie alles gaan nou goed en voor die wind gaan nie, dit beteken wel; Die stryd is nou SYNE. Dit beteken jy is nie meer ALLEEN nie. Nooit nie. Dit beteken Sy vrede in jou kop en hart en lyf dra jou deur elke woestyn-seisoen, en dat jy Sy genade sal beleef te midde van elke lewensstorm…
Sy Heiligheid sal jou heel maak. Raak verlore in Sy liefde vir jou, deurweek met Sy genade, en dan kan jy met moed, hand aan hand, in ‘n onbekende toekoms instap saam met Hom. En in plaas van paniekbevange raak en te vat en te los, te wonder en te kla… om na jou Pa in die hemel te draai en te verklaar: “Nie my krag nie, maar deur U krag!”
Baie dankie weereens Martha vir jou diepe insig en empatie vir mense wat swaarkry al ken jy hulle nie eers nie. En dan….jou bemoediging wat nie net leë woorde is nie, maar wat jy in die Woord van God self uitlig.
Baie mooi geskryf met soveel bemoediging .
Baie Dankie 🌼