Die Vyf Sekonde Reël.

Met jou eerste baba moet alles mos ordentlik gedoen word, volgens die boek, die regte manier. So wanneer die fopspeen val word hy gewas en geborsel en gesteriliseer vir 10 minute in die mikrogolfoond, as ek reg onthou. Dis ‘n goeie 19 jaar gelede, so die onthou is soms vaag. Met tweede kinders is tyd ‘n oorweging en meermale ‘n probleem, so die 3 sekonde reël geld dan, as jy die fopspeen binne die geallokeerde 3 sekondes kan opraap dan suig jy hom net so twee keer… en die fopspeen is… good to go. Mits die fopspeen op ‘n Mall se vloer geval het, dan beter jy hoop jy het ‘n ekstra skoon enetjie in die doeksak oor jou skouer.

Ousus het haar fopspeen op 9 maande vir goed weggegooi. Sy het verkeerdelik gedink die Goeie Vader het nie verniet vir haar twee duimpies gegee nie. Kleinsus het so bietjie langer aan die fopspeen vasgeklou, maar van die twee het sy ook die beter immuniteit, seker oor al die valle, optelle en 3 sekonde reëls wat gegeld het.

Ek het die ander dag van ‘n ander 5 sekonde reël gehoor, maar ek het oral gaan soek ek kry dit nie, weet nie of ek dit gelees het, en of ek dit dalk op die radio gehoor het nie. Nietemin ek onthou darem dit was in Engels! Nadat ek van die 5 sekonde reël gehoor het, toe is ek sommer spyt my girls is nou groot, want dis so praktiese vinnige manier om vir kleiner kids te vertel van die wag voor jou mond. Gits! Ons kan almal seker doen met die opskerping van die 5 sekonde reël. My weergawe was meer uit die oude doos. Die ene wat ek doodseker is my ouma en dié se ouma ook gebruik het: As jy nie ietsie mooi kan sê nie, bly eerder stil.

Ek het die volgende sê-ding op FB raakgeloop: If you can’t figure out how to be kind, figure out how to be quiet. (Anoniem) Dis amper ‘n raps oor die vingers nê!

Maar hoe meet mens nou ook wat mooi is? So hoe werk hierdie lewensveranderde Vyf-sekonde-reël? As jy vir iemand iets wil sê, iets persoonliks, vra jouself af of die persoon die iets wat jy gaan of wil sê binne 5 sekondes kan verander of regmaak? Bv. Daar is pietersielie tussen jou voortande… daar sit ‘n stuk toiletpapier onder jou skoen vas, jou knoop is los… Maklik, jy kan die probleempies binne 5 sekondes regstel.

Maar… Jy is vet. Ek hou nie van die kleur van jou hare nie…jou tande is skeef en lyk soos mieliepitte. Jou oë lyk soos die sterrre, nie so mooi nie, maar so ver uitmekaar… nou daardie is probleempies wat soms jare vat om op te los, indien dit ooit opgelos kom. So kan jy dit binne 5 sekondes regstel. Nee jy kan nie, so dan bly jy stil.

En weet jy dis ‘n oulike reël om vir kleuters en jong kinders te leer, maar ek dink dis ook sommer ‘n goue reël wat ons vir ons selwers weer kan onthou. Veral wat dit ons mans en die mensies wat naby ons hart leef aanbetref. Woorde is nie net sommer woorde nie. En die verweer dat jy net die waarheid gepraat het… ai, ons weet mos nou al teen die tyd a.g.v grysheid en wysheid, dat die waarheid bitter seer kan maak.

Kom ek en jy raak dag na dag meer en meer bewus wat uit ons monde kom. Kom ons word die sprekers van woorde wat opbou en versterk en regop hou. En ek dink dit is soms meer ‘n gebedsaak as wat ons dink of vermoed. Ek en jy moet aktief bid dat God ons sal help met dit wat uit ons monde uitkom.

Moeder Teresa het gesê: Woorde wat nie die lig van Christus uitstraal nie, intensiveer die duisternis. Sjoe! En dit op sigself is ‘n aanklag. My en jou woorde weerkaats Jesus… of nie… miskien moet ek dit weer sê: Ons woorde weerkaats Jesus OF NIE!

Daar is bitter baie versies oor die waarde van woorde, en hoe ons woorde behoort te lyk. Ek het hulle almal gaan opsoek in verskillende vertalings en deel graag met jou die handjie vol wat regtig my hart geraak het.

Here, stel ‘n wag voor my mond, bewaar die DEUR van my lippe. (Ps. 141:3 1953)

‘n Bron van LEWE is die mond van ‘n regverdige. (Spr. 10:11 2020)

Hy wat sy woorde TEL, is verstandig. (Spr. 10:19 NLV)

‘n Verstandige mens SWYG. (Spr. 11:12 1983)

SAGTHEID van tong is ‘n lewensboom, maar valsheid daarin is verbreking in die gees. (Spr. 15:4 1953)

Die hart van die regverdige DINK na om te antwoord… (Spr. 15:28 1953)

Aangename woorde is heuning, soet en GENEESKRAGTIG vir die mens. (Spr. 16:24 1983)

Whoever RESTRAINS his words has knowledge, and he who has a cool spirit is a man of understanding. (Prov. 17:27 ESV)

Die Tong het mag oor dood en lewe… (Spr. 18:21 1983)

Met woorde wat altyd VRIENDELIK en SINVOL is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee. (Kol. 4:6 NLV)

Think twice before you speak, because your words and influence will plant the seed of either success or failure in the mind of another.

(Napoleon Hill)

One Reply to “Die Vyf Sekonde Reël.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *