‘n Mynveld.

Beywer julle vir vrede met alle mense… (Heb. 12:14)

Om ‘n tiener in die huis te hê  is soms soos om in ‘n mynveld stilletjies rond te sluip en te hoop niemand (enige tiener in die omtrek) sien jou raak nie en dat jy nie onwetend ‘n landmyn aftrap nie. Sommige tiener(s) in my huis is nie juis oggend mense nie. En as hulle nog sleg geslaap het, bietjie gestres is, bo op die karaktertrek dan kan dit… kom ons sê interessant raak.

So wyle terug het ons die gevreesde kombinasie van nie-oggend-mens bo-op min slaap. Baie soos ‘n beer met ‘n seer voetjie, maar nie noodwendig die cuddly tipe nie. Ek besef sommer vinnig dis ‘n mynveld… en ek soek nie moeilikheid nie, probeer uit die pad bly en al daai lekker dinge.

Vriendin, voel jy ook soms so bietjie soos ‘n slaansak? Partykeer voel dit dan maar okay dat hulle hulle goete en geite op ons uithaal, want waar ook nou anders? Beslis asb nie by die skool nie, want vir drama is ek en jy nie lus nie! Ek gee ook nie baie om om soms ‘n instaan slaansak te wees nie, ek hou nie altyd daarvan nie, maar dan moet ek bysê solank dit respekvol gebeur is dit dan maar seker okay.

Nietemin, terug by die mynveld. Hoor hier, net sodat jy weet mens vra nie in die middel van ‘n mynveld wat is fout nie, nee nou is nie dit tyd nie… jy vat vrede as wapen op en jy reageer nie… want dit wat nou gebeur gaan nie oor jou nie. Jy staan terug en bly heel.

Op ‘n stadium kry ek raas omdat ek die betrokke tiener se lekker ruik spuitgoed iewers neergesit het… nee ek is onskuldig… het dit nie gedoen nie, weet ook nie waar dit is nie.

Ons tweetjies beland toe saam in die motor op pad skool toe. Klein spasie om so baie emosies in te prop… maar onthou ek het VREDE as wapen gekies… so ek luister musiek, ry rustig skool toe, sê nie ‘n woord op pad skool toe nie. By die skool kry ek darem ‘n baai… altyd iets om voor dankbaar te wees nê? Ek sê: baai, lekker daggie, lief vir jou.

Op pad terug huis toe voel ek nou nie wonderlik nie, maar ek besluit toe om regtig te glo: dit gaan nie oor my nie. My vrede is my vrede, en ek gaan dit ten alle koste behou. Op pad terug sing ek kliphard saam met Whitney Houston “I want to dance with somebody”. En ek ry by die hek in met Queen wat luidkeels verklaar: “I want to break free”… don’t we all?

Nie eens ‘n uur terug by die huis kom die whatsappie in: Mamma ek is jammer… my optrede was ongevraag en nie reg nie. Vergewe my.

En die hele oggend loop ek rond met die gedagte dat as ek vanoggend op die oorlogspad was, en dit het ontaard in ‘n bloedbad, dan sou ek nou ook iets gehad het om voor omverskoning te vra, en sou dit heel waarskynlik baie langer gevat het om vrede te maak tussen ons. Kon dit dalk dae gevat het wat net gelei het tot nog misverstande en onopgeloste konflikte soos ons probeer om gemene grond te kry, waar landmyne nie geplant is, om vrede te maak.

En wanneer die whatsappie dan deurkom, wat uit die hart uit kom, moenie terug sit eerste rat toe en ‘n stemborrel van 5 minute stuur wat aankla en baklei nie. ‘n ‘Dis okay, mamma vergewe jou’ sal doen, want raai wat volgende keer is dit vir hulle soveel makliker om te sê: ek is jammer my gedrag, dit wat ek gesê het, dit wat ek gedoen het, was nie reg nie.

Moenie reageer wanneer hulle oorreageer nie. Hulle weet nog nie altyd so lekker nie, maar ek en jy wat al so paar myle op die klok het, ons weet van beter en moet beter doen. Onthou, jou tiener deel nie alles met jou nie, daar is ongelooflik baie wat in hulle lewens en koppe aangaan. Moenie deel wees van hulle probleme nie, wees deel van die oplossing.

Maak tyd om gereeld te vra: Is jy Okay? Onthou mamma is net hier. Hulle moet nooit vir ‘n oomblik twyfel dat jy aan hulle kant is nie en hulle moet altyd weet dat jy beskikbaar is en dat jy vir hulle sal baklei…

Ali Flynn skryf: Be the reason your teen is able to exhale as they walk in the door after an exhausting day at school. Ons tieners moet sonder enige twyfel weet dat ons hulle liefhet met ‘n ‘fierceness’.   “Never forget I love you as much on your worst day as I do on your best day.” (Alex Shahla) Dit is wat jou en my tiener moet hoor en verstaan. Ons liefde is konstant, en beskikbaar.

Ek het hierdie stukkie goud raakgelees op Instagram op die blad: Parenting TEENS & Tweens;

Parenting teens is more about learning how to manage our own issues,
regulate our emotions and grow our parental skills than changing, controlling and micromanaging our kids.
Read it again.

 

2 Replies to “‘n Mynveld.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *