Ek loop al die hele week met die tema van God se goedheid in my hart rond, maar dis nie sommer net goedheid nie, dis uitspattige goedheid wat jou inhardloop, inhaal en oorrompel. Wil jy weet hoe die prentjie in my kop lyk van God se goedheid? Die Pa wat die verlore seun staan en inwag op die bultjie, en dan wanneer Hy hierdie nikswerd, sondige, verlore seun op die horison raaksien, los Hy alles net so, dan begin Hy hardloop, met uitgestrekte arms… en Hy raap hom uitasem op en druk hom styf teen Sy bors vas…
With the goodness of God to desire our highest welfare, the wisdom of God to plan it, and the power of God to achieve it, what do we lack? Surely, we are the most favored of all creatures. (AW Tozer)
God se goedheid deur die hele Skrif is moeilik om mis te kyk… In die vuuroond was Daniel se vriende nie alleen nie, in die vuur saam met hulle was God. Voor die Rooisee was Moses en die miljoen Israeliete nie alleen nie, net stomgeslaan, want God se goedheid het ‘n pad deur die see gemaak. Onder in die pit het Josef die goedheid van God beleef en sy lewe ‘n getuigskrif van ‘n God wat betrokke is tot in die fynste detail. Ragab die prostituut ervaar God se goedheid en genade eerstehands…
God’s goodness is the root of all goodness, and our goodness, if we have any, spring out of His goodness. (William Tyndale)
Sy goedheid reflekteer op ons harte en maak ons ‘n bietjie beter. Hy is vir ons en met ons elke oomblik van elke dag. Hoe groot is U goedheid: dis altyd daar vir dié wat U dien, U bewys dit voor die oë van die mense aan dié wat by U skuil. (Ps. 31:20) Kom ondervind en sien self dat die Here goed is! (Ps. 34:9)
Ons weet God is goed,want:
#God is by my en jou. (Matt. 28:20)
#God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie. (1 Joh. 1:5)
#God is getrou en regverdig. (1 Joh. 1:9)
#God is liefde. (1 Joh.4:8)
#Die Here is my en jou Herder, ons kom niks kort nie. (Ps. 23:1)
For the Lord God is brighter than the brilliance of a sunrise! Wrapping Himself around me like a shield, He is so generous with his gifts of grace and glory. Those who walk along His paths with integrity will never lack one thing they need, for He provides it all! (Ps. 84:11 TPT)
Alles wat goed is in hierdie wêreld is God. Niks wat God van jou vra/verwag sal ooit nie goed wees nie. Die Here is vir almal goed en barmhartig oor alles wat Hy geskep het. (Ps. 145:9)
God is goed, Sy goedheid ‘n waarborg, al sien ek en jy nie altyd Sy goedheid in elke situasie, in die midde van die storm nie. Al sukkel ons soms om Sy goedheid aan ons lywe te voel, maak dit Hom nie minder goed nie. God is altyd goed in alle omstandighede. Dit is wie Hy is! As jy eendag terugkyk op jou lewe, sal jy Sy goedheid en genade soos ‘n goue draadjie deur jou hele lewe sigbaar wees, ononderbroke…
Soms verflou hierdie gevoel van God is goed. Hoekom? Want soms wanneer dinge woes raak draai ons weg van Sy aangesig en loop ons in die teenoorgestelde rigting van Sy goedheid. Wanneer ons lewensbootjie rof begin skud, spring ons oorboord, pleks van uitklim en op die water loop, hand aan hand saam met ‘n God wat goed is. En verseker vriendin, ‘let’s not sugarcoat it’, die lewe is soms bitter en hard en minder goed, maar ons moet darem ook net nooit vergeet nie, die planne van die vyand met ons lewens is alles behalwe goed! Life is hard, but God… He is good.
There is but one good, that is God. Everything else is good when it looks to Him and bad when it turns from Him. (CS Lewis)
Ek los jou vandag met hierdie twee kosbare verse: Mag die goedheid van my Heer ons God, oor ons wees. (Ps. 90:17 2020) Loof die Here, want Hy is goed, aan Sy liefde is daar geen einde nie! (Ps. 107:1)
Mag jy bewus word van Sy hand oor jou, want Hy is waarlik en waaragtig ‘n God en Vader wat goed is. Mag jy altyd oorbewus van die Herder van Psalm 23 wat langs jou stap deur die dal van doodskaduwee… Vriendin en mag Sy goedheid en guns jou volg, inhaal en oorrompel elke dag van jou lewe.
Wow Dankie so baie, die Here is Altyd goed en ek kan getuig dat as dinge sleg gaan moet jy ook aanhou glo en opkyk na Onse Vader Hy is altyd goed. AMEN.
So waar Christine!