Marta, Marta…

Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor so baie dinge… (Luk. 10:41) Sal Ek jou ooit verlaat? Jou ooit in die steek laat? Ek is jou Helper,  jy hoef oor niks bekommerd te wees nie. (Heb. 13:5-6) Daarom is dit Ek wat vir jou sê: “Moet jou nie so bekommer nie!” (Matt. 6:25) Moet nie bang wees nie, jy is meer werd as baie mossies. (Matt. 10:31)

Moet oor niks besorg wees nie, Ek is naby. (Filip. 4:5-6) Wees op jou hoede dat jou gees nie afgestomp raak deur die sorge van die lewe nie. (Luk. 21:34) Jou bekommernis oor alles druk jou net neer. (Spr. 12:25) Rig jou gedagtes eerder op die dinge daarbo, nie op die dinge wat op die aarde is nie. (Kol. 3:2) Moenie vergeet, kind na aan My hart, niks kan jou skei van My liefde vir jou nie. (Rom. 8:39) Niks wat jy sê, niks wat jy doen…

Moet jou nie oor môre bekommer nie dogter, môre bring sy eie bekommernis. Bring elke dag nie genoeg moeilikheid van sy eie nie? (Matt. 6:23) Kan jy jou lewe verleng met een uur deur te bekommer? (Matt. 6:27) Ek sal in elke behoefte van jou ryklik voorsien. (Filip. 4:19) Ek weet tog wat jy alles nodig het! (Matt. 6:32) Ek is jou Herder, niks sal jou ontbreek nie. (Ps. 23:1 1953)

Kom na My liefste Marta, jy wat uitgeput en oorlaai is met bekommernis, Ek wil vir jou rus gee. Leer van My, Ek is sagmoedig en nederig van hart. (Matt. 11:28-29) Kom nader kind, nog nader… werp jou bekommernisse op My, Ek het jou, Ek sal vir jou sorg. (1 Pet. 5:7)

Begenadigde kind, Ek is by jou! (Luk. 1:28) Net by My vind jy ware rus vir jou siel. (Ps. 62:2) Bedaar liewe kind, en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. (Ps. 46:11)

Laat My vrede oor jou hart wag hou. (Filip. 4:7) Deel vrede uit waar jy ookal gaan. (Luk. 10:5) Die vrede wat Ek vir jou gee is nie die tipe wat die wêreld gee nie, moet jou nie so ontstel nie liefste kind, Ek is naby. (Joh. 14:27) Toe jy met baie onrus in jou binneste gesit het, het My vertroosting jou tot rus gebring. (Ps. 94:19)

Beywer jou eerstens vir My koninkryk. (Matt. 6:33) Vertrou op My en jy hoef slegte tyding nooit te vrees nie. (Ps. 112:7) Ek gee altyd vir jou die uitkoms. (1 Kor. 10:13)

Ek sal by jou wees. (2 Thess. 3:16) Ek is hier! (Jes. 35:4) Dit gaan goed met jou Marta, as jy jou vertroue op My stel, wanneer Ek alleen jou veilige vesting is…  (Jer. 17:7) Gooi die las van bekommernis af, hardloop die wedloop van die lewe met oorgawe, kommerloos. Hou jou oë gevestig op My alleen. (Heb. 12:1-2) Ek is vir jou, wie kan dan teen jou wees? (Rom. 8:31) Jy het My gevind! (2 Kron. 15:4)

Wanneer jou hart swaar en bekommerd voel, roep na My. In My paleis hoor Ek jou geroep. As jy na My roep, luister Ek na jou. (Ps. 18:7)

Weet jy steeds nie liefste kind, Ek is aan jou kant. (Ps. 56:10) Ek sal vir jou alles goed laat afloop. Aan My liefde vir jou is daar geen einde nie. (Ps. 138:8)

Jy is heeltemal gedaan van bekommerd-wees oor alles en almal, jy kwyn weg van angs en benoudheid. Liewe Marta, Ek slaan ag op jou hulpgeroep. (Ps. 6:3,4,9) Onthou liefste kind, Ek beskerm jou van alle kante. (Ps. 3:4) Ek deurgrond jou hart en sien jou onrus raak. (Ps. 139:23)

Kom ondervind en sien self dat Ek goed is. (Ps. 34:9) Wees sterk, wees vasberade, want Ek, DIE HERE JOU GOD, is by jou oral waar jy gaan. (Jos. 1:9)

3 Replies to “Marta, Marta…”

  1. Baie dankie vir hierdie bemoedigende en vertroostende boodskap. Net Jesus kan jou vrede gee binne die storms van die lewe. Hy is by ons en versterk ons. Op hierdie aarde sal ons dit moeilik hê, maar die lewe wat Hy vir ons voorberei kan ons onsself nie eers indink nie.

Comments are closed.