Watter Rol Definieër Jou?

In wie of wat of selfs waar lê jou identiteit? Watter rol definieër jou my liewe vriendin?

As vroue het ek en jy dikwels so baie rolle om te vertolk en die rolle wat ons vertolk is konstant aan die verander. Rolle val weg en rolle kom by. Sommige rolle soos hooikoors… net seisoenaal. Jy is vrou, mamma, sussie, dogter, taxi-bestuurder, berader, vriendin, kok, skoonmaker… en ‘n bal-in-die-lug ophouer van formaat.

Terselftertyd is jy versorger, bemiddelaar, vredemaker en betermaker. Jy is berug en bekend vir die helende soen wat ‘n stukkende kniekop kan laat beter voel. Jou kinders kom soek vrede in jou omarming en kalmte teen elke lewensstorm wat hulle trotseer. Jou man maak staat op jou gebede, jou gesprekke met God wat baie groter impak het as wat jy ooit sal besef. Niks of niemand kan hierdie wêreld mooier en beter maak as juis ‘n vrou nie, as juis jy nie.

As ek jou vandag vir die heel eerste keer ontmoet, wie sal jy sê is jy? Sien die probleem is meermale dat ons identiteit vasgevang word deur ‘n sekere rol wat ons vertolk en die meeste van die tyd besluit die wêreld watter belangrike rol dit dan is.

Lank lank gelede was my identiteit vasgevang in dit wat ek gedoen het… so as ek jou vir die heel eerste keer ontmoet het dan was ek Martha die Teatersuster. Dit was die rol wat my gedefinieër het, want sien ek het waarde gevind in wat ek gedoen het. Ek het gevoel ek maak ‘n verskil in die wêreld. Tog, terselftertyd was ek in my hart van harte eintlik ‘n mamma.

Na die besluit om voltyds mamma te wees geneem is, het ek ‘n identiteitskrisis beleef soos min. Ek het gevra: Here, wie is ek nou? Nou was ek maar net mamma en tuisteskepper. My waarde was teen die grond… Ek het naarstigtelik na myself begin soek. Wie is EK?

Dis natuurlik makliker om te besluit wie jy is as jy vooraf die posbeskrywing gesien het, as jy ten minste weet wat van jou verwag word. Soms is ons selfs braaf genoeg om rolle wat nooit ons sin was vir die vat nie, ook by te voeg. Rolle soos bekommeraar en broekdraer van die huis… hierdie rolle het natuurlik dan vele stres en ongelukkigheid tot gevolg.

In my soeke na myself het ek besef, om jouself volgens ‘n rol te definieër is ‘n gevaarlike besigheid, want geen rol is permanent nie. Sommige rolle is verseker meer ‘glamorous’ as ander en ons kyk juis na die wêreld vir goedkeuring, ook ‘n foutjie… die wêreld is moeilik om tevrede te stel. Nog ‘n foutjie wat ons so graag maak in hierdie soeke na self is die ek-vergelyk-myself-met-ander-vroue. Die probleem is wanneer die vergelykings-duiweltjie sy kop uitsteek skiet jy meermale ver te kort in jou kop en in jou hart, want die reine waarheid is- iemand is altyd mooier, maerder, langer en ouliker as jy.

God het ‘n lang pad met my gestap… met geduld het Hy my gewys wie ek werklik is. Wanneer ek moedeloos was het Hy gefluister: “Ek het jou op ‘n wonderbaarlike wyse geskep.” (Ps. 139:14) Wanneer ek onwaardig gevoel het is dit Vader wat my aan die hand gevat het: “Ek het jou op jou naam geroep, jý is MYNE!” (Jes. 43:1)

Ek is nie NET ‘n huisvrou of NET ‘n mamma nie. Uiteindelik na vele soeke, gespoeg en gespartel het ek met finaliteit geweet wie ek is: “Ek is ‘n dogter van díe Koning.” Dit is my identiteit, dis is wie ek is. Ongeag die baie rolle wat ek daagliks moet vertolk het ek uiteindelik kennis gemaak met die ware ek. Kon ek uiteindelik sê: “Bly te kenne, dis lekker om jóú te ontmoet!”. Met sekerheid het ek die volgende geweet.

Ek is geliefd.
Ek is kosbaar.
Ek is waardevol.
Ek is uitverkies.
Ek is genoeg.

Liewe vrou na aan God se hart, hou op om jouself te definieër volgens jou vele rolle, laat God jou definieër. Laat die EEN wat jou gemaak het jou definieer. Jy is die appel van Sy oog en vir jou het Hy innig lief. Jy is die Koning se dogter.

Vir ‘n oomblik, maak jou oë toe en sien jouself deur God se oë, luister…hoor as Hy in jou oor fluister: Dit moet jy weet dogter, niks kan jou skei van My liefde vir jou nie. (Rom. 8:35) Ek het jou nog altyd liefgehad. (Jer. 31:3) Niks of niemand kan jou uit My hand ruk nie. (Joh. 10:28) Ek het My liefde in jou hart uitgestort. (Rom. 5:5) Ek hoop jy verstaan en begryp hoe ver en wyd en hoog en diep My liefde vir jou strek, want (Ef. 3:18) Ek het jou EERSTE liefgehad! (1 Joh. 4:19)

 Ek is in jou midde, jy sal nie wankel nie. Ek sal jou help wanneer die oggend aanbreek. (Ps. 46:6) Wees dapper en sterk liefste dogter. Moenie paniekbevange wees nie en moet jou nie laat afskrik nie, want Ek, die Here jou God is by jou, oral waar jy gaan. (Jos. 1:9 2020) Jy is my dogter, en aan MY behoort jy tot in ewigheid.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *