Ek voel al vir ‘n geruime tydjie nie so heeltemal tuis in my eie vel nie. Meeste van die tyd het ek dit afgemaak as spanning, of dalk is ek besig om siek te word of iets. Elke skeet, pyn en subtiele verandering beteken iets, maar heel waarskynlik niks. Vir maklik ses maande kan ek nie verduidelik hoekom my hart sommer net op loop gaan met tye nie, dan wonder ek nogals waaroor kan ek nou moontlik stres, meer en anders as gewoonlik?
Ek begin half sleg slaap, en dan is ek natuurlik lekker moeg deur die dag… en teen 20h00 dop ek om. Ek lees die anderdag ‘n stukkie op FB! En dis skreesnaaks so akkuraat beskryf dit my slaappatrone van deesdae…
LYF: “Dit is laat. Jy beter nou slaap.”
BREIN: “Hi, skies ek pla. Soek jy die goedjies wat dalk môre kan skeefloop in alfabetiese of kronologiese volgorde.”
Ek raak met tye lekker vergeetagtig en woorde soos ding, dinges en daardie een raak deel van my woordeskat. Ek begin vermoed die helfte van my brein is vervang met basaarpoeding. Jy weet mos, dis ‘n mengelmoes jellies, vla’s en wie weet wat nog. ‘n Drillerige deurmekaarspul wat sukkel om woorde te onthou.
En eendag slat die hitte my van midlyf tot op my kroontjie… skielik, onverwags. Ek gaan neem toe maar my koors, want iets moet iewers tog fout wees as die hitte jou so oorval. My temperatuur is ‘n baie mooi, normale 36.9°C. En daar slaat dit my soos ‘n nat vis teen die kop… Hallo MENOPAUSE!
Ai jinne, my heel eerste gedagte is net om te sê nee dankie en hou gerus verby. Die hittegolwe en gloede verstaan dit toe heel verkeerd en bring maats saam en dit raak ‘n oor en weer gekuiery soos min. So vriendin, dis offisieël, my man het ‘n ‘HOT’, vergeetagtige vrou wat stoei met menopause.
Die eerste keer toe die Dokter my vermoedens bevestig met bloede, toe syg ek neer teen pappa se bors en ek huil… ‘ugly cry’… snot en trane. Pappa vra onskuldig: Huil ons of lag ons? Defnitief huil, want die maskara loop riviere op sy blokkies hemp. Groot emosies, en ek sukkel self om te bewoord hoekom dit vir my so erg is, die vermoede wat eintlik maar net bevestig is… maar ek dink dis dieselfde rede hoekom ek en jy, wat ‘n XX chromosoom het, huil wanneer die dokter sê ons moet ‘n keisersnit kry en jy wou so bitter graag jou babatjie normaal die wêreld in gebring het.
Is menopause ‘n slegte ding… ek weet nie… dis verseker nie ‘n lekker ding nie, maar helaas, hier is ons nou. Ek weet verseker opstandigheid werk nie, het dit probeer, al wat Opstandigheid kom doen het is om my vrede te steel. En los maar vir Moedeloosheid ook uit, die kom steel net jou vreugde.
Ek het myself toestemming gegee om aan te pas, en ek is heel okay daarmee dat dit ‘n rukkie gaan vat tot ek en my nuwe hormone, (TOTSIENS Estrogeen), lekker bymekaar aangepas het. Ek weet ‘n paar goedjies met sekerheid. EK IS NIE ALLEEN NIE. Miljoene vroue gaan op die oomblik deur wat ek en jy deurgaan. En dis okay.
Dis okay om soms te wonder wie die vreemdeling is wat na jou terugstaar in die spieël, dis okay om met tye nie okay te voel nie, bietjie angstig, baie warm en nie so heeltemal in beheer nie.
Vriendin die beste raad wat ek vir enige iemand kan gee wat hier is waar ek nou is: hê hope genade met jou kop, jou lyf en jou emosies. Hierdie is net ‘n seisoen, en soos alle dinge in die lewe sal dit ook oor en verby kom… met tyd. Wees jy net lief vir jouself.
Ek koop gou vanoggend Panado’s by Dischem, en die weer is op die oomblik deurmekaar en snaaks… dan is dit koud, volgende dag voel dit weer meer soos somer. Baie soos ek, dan kry ek koud, dan kry ek vuurwarm. Ek stap na die kassiere toe en toe ek my botteltjie pille op die toonbank neersit, voel ek hier arriveer ‘n meneer van ‘n gloed… een vir die boeke. Stadig maar seker voel ek die blos al naderkruip en met my een oor vang ek die lirieke van die liedjie wat speel in die agtergrond… “This girl is on fire…” en toe lag ek sommer net, ai want wat is ook die alternatief?
Ek besef toe ook sommer net weer, díe is nie ‘n alleen pad nie, want ek voel sommer hoe God saam met my lag, want een ding weet ek van my Pa in die hemel, ‘n goeie sin vir humor het Hy beslis. Ek weet Hy sien my raak, al sukkel ek so bietjie op die oomblik, al is ek nie so heeltemal lus vir hierdie seisoen nie. Ten minste weet ek dat ek weet Hy is by my.
Vandag wil ek jou los met hierdie kosbare belofte in Hebreërs 4:16 Dis die Amplified weergawe, want dis net vir my so mooi.
Therefore let us [with privilege] approach the throne of grace [that is, the throne of God’s gracious favor] with confidence and without fear, so that we may receive mercy [for our failures] and find [His amazing] grace to help in time of need [an appropriate blessing, coming just at the right moment].
Liewe Martha, jy kan so goed woorde gee aan jou emosies soos jy skryf! Dit is iets wat ek vir èlke mens gesê het wat in terapie voor my sit. “As jy woorde kan gee aan wat jy voel/emosie, het jy klaar beheer geneem oor daardie gevoel. Liefde vir jou.
Ware woorde Tannie Christa. Daar is Genesing in Woorde.
Jy slaan die spyker so op sy kop!😄