S T O P

The truth of the matter is that you always know the right thing to do. The hard part is doing it.  (Norman Schwarzkopf)

Soos oudergewoonte stap ek en manlief weer ‘n paar Saterdae terug dorp toe. Durbanville voel vir my soos ‘n dorp en as jy in die hoofstraat kuier voel dit soos platteland, kompleet met ‘n Koöperasie en Pep Boutique aan weerskante van die straat.

Ons sit en drink koffie   naby ‘n stopstraat. Manlief weet al, ek kry die sitplek waar ek mense en hulle dinge kan dophou. Ek hou van mense.

Nietemin, hier sit ons en koffie drink naby die stopteken, en as jy lank genoeg sit, besef jy net so een uit elke vier voertuie stop, 2 uit 4 ry darem stadiger soos hulle nader kom, maar die res jaag sommer net oor die stopstraat… hoekom? Want hulle kan, en wil en gaan…

Nou sit en praat ons so, en ek wil net sê, altans dis hoe ek dit verstaan, ‘n stopstraat is gemaak om by te stop, terug te sit eerste rat toe, kyk en dan kan jy ry… mits dit jou beurt is. En by ‘n vier-rigting stop hoef jy net tot by drie te tel. 1,2,3…my beurt.

Probleem is wanneer ons die reëls verontagsaam en maak soos ons smaak. Dit  is alles goed en wel tot daar ‘n ongelukkie kom. Boetie met sy blink nuwe karretjie en nog nuwer bestuurlisensie jaag vervaard oor die stopstraat en nou is daar probleme. Ander mense kry seer, boetie kry seer. En almal vra verontwaardig: Hoe kon dit gebeur? Boetie is ‘n versigtige bestuurder, en allerhande verskonings word uitgedink.

Wanneer sy ouers by sy bed en die ICU staan en huil, gebroke en verslae, vra hulle moeilike vra… hoekom God het U dit toegelaat, hoe het U dit laat gebeur, waar was U? En dis sommer net ‘n storietjie… maar die werklikheid is nie so ver daarvan verwyder nie.

Op die lewenspad verontagsaam ons soms die stoptekens, en dan kry ons erg eina, en dan kyk ons met betraande gesigte op na God met vrae in ons oë, ons gee die wêreld die skuld, ons pak die skuld op ander mense of sommer net op die vyand… ons vra: Hoekom, hoekom God? Wat het ek gedoen om dit verdien?

Wat ek gedoen het, was darem nie moord nie, ek het bietjie belasting onduik, ‘n boodskap of twee gestuur vir ‘n getroude persoon. Ietsie geleen wat nie aan my behoort nie. Nie die regte ding gedoen nie… nou het ek my vingers verbrand…

Ons doen dit vriendin, ons ignoreer die stoptekens langs die lewenspad. Want as ons gestop het, bietjie gedink het, bietjie Woord gelees het, bietjie tyd spandeer het in die troonkamer, bietjie gesels het met Hom wat op die troon sit, sou ons die waarskuwing van die Heilige Gees duidelik gehoor het.

Wanneer ons jaag oor die stoptekens van die lewe dan doof die jaag en die geraas die stem van die EEN wat ons liefhet uit. Word die waarskuwings uitgedoof… hoor ons wat ons wil of glad nie.

Soms vriendin het ons net nodig om stil te wees, te stop, het ons nodig om die Gees van God beheer oor ons lewens te gee. Die leisels te oorhandig. Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. (Gal. 5:16)

Ek en jy weet meeste van die tyd presies wat die regte ding is om te doen, maar om dit te doen, dit sukkel maar partykeer so bietjie.

Knowing what’s right doesn’t mean much unless you do what’s right. (Theodore Roosevelt.)

Ek vermoed hoe nader jy aan God se hart leef, hoe moeiliker raak dit om oor die stopstrate van die lewe te jaag. Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. (Ef. 5:1) Nie omdat jy dink jy word dopgehou nie, maar omdat jy regtig geen begeerte het om die verkeerde ding te doen nie. Want al wat jou hart eintlik begeer is om die regte ding te doen, daar waar mense jou sien, maar dit raak nog belangriker om die regte ding te doen… daar waar net jy en God is.

Integrity is doing the right thing even when no one is watching. (CS Lewis)

Baie jare gelede het ons Ballade vir ‘n enkeling gekyk. (Kan jy dit nog onthou?) Ek was nog baie jonk, so ek kan nie die storie onthou of waaroor dit eintlik gegaan het nie, maar daar is so een stukkie wat ‘n groot indruk op my gemaak het. Die hoofkarakter Jacques staan op ‘n rots en wil afduik, half onseker… en sy vriend skree. Moenie dink nie, doen net! En daar spring hy…

Sjoe vriendin, en dis slegte raad, ons moet versigtig wees om te doen sonder om te dink, ons moet nog versigtiger wees om te doen sonder om te bid, te vra, seker te maak. Terug by Boetie wat oor die stopstraat jaag… ander mense kry ook soms seer, bitter seer wanneer ons die stoptekens van die lewe ignoreer. Onskuldige mense wat niks met jou slegte besluite uit te waai het nie, maar nogtans die nagevolge dra van ‘n oor die stopstraat gejagery. Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na. (Ps. 34:15)

Kom ons leef so na as menslik moontlik aan God se hart. Kom ons leef met oop ore, sodat ons tyd sal maak om na die stem van God te luister, sodat ons sensitief sal wees vir die Heilige Gees wat ons Helper is. Kom ek en jy doen die regte ding, daar waar mense ons kan sien, maar veral daar waar niemand ons kan sien nie.

2 Replies to “S T O P”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *