God is ‘n Koelteboom.

Ek het iemand eenkeer hoor sê: God is ‘n Koelteboom. En dit het my vir weke bygebly. Ek het al gesê ek hou baie van bome, nou soek ek ‘n voorbeeld van ‘n boom wat ek dink ‘n goeie instaan boom kan wees van God se goedheid en guns. ‘n Boom wat uitskree… God is my skuiling en my behoud.

‘n Silver birch is besonders en my gunsteling boom, met sy stam wat ek nie anders kan nie, maar net aan wil vat. Dan is daar ‘n Baobab, ‘n pragtige boom wat kompleet lyk of die Vader hom onderste-bo geplant het.

Die apiesdoring wat peule afgooi en dorings het of die koorsboom met sy groen, poeieragtige stam… weet jy waar het die koorsboom sy naam vandaan gekry? Toetertyd se mense het geglo die boom maak jou siek en veroorsaak koors, later het hulle agtergekom dat koorsbome groei in gebiede wat malaria het. Misterie opgelos…

Nietemin, kry ek nie die boom wat uitskree, God is ‘n Koelteboom nie. As ek my oë styf toeknyp dan sien ek die boom. Groen, welige boom, blare wat omarm en toemaak, met koelte, ‘n sterk stam, langs ‘n kabbelende rivierstroom… waar daar vrede is. Ek besef my koelteboom staan iewers in die midde van Psalm 23. Nie heeltemal in die hemel nie, maar in my gedagtewêreld daar waar God se genade my kan bykom en waar vrede my geselskap opsoek en waar daar rus is…God is vir my en jou baie dinge.

God is goed.
God is my Rots.
God is my Vriend, Geneser, Raadgewer, Hulp.
God is die een wat my sien, die Een wat my altyd maar altyd raaksien.
God die Vader, my Vader.
God is my Metgesel.

Maar Sjoe vriendin, vir party mense is die lewe werklik swaar.  Uitermatige verslane mense,  moeilikheid wat nie net in drieë kom nie, maar dit hou net nooit op nie.  Omstandighede wat eenvoudig nie kan slegter nie, maar dan tog versleg…  verstote, verslane mensies na liggaam en gees.

En Beloftes van hulp, genade en vrede van Bo dwarrel by die een oor in en by die ander oor uit, want die lewe het gemaak dat hulle ver van God af voel. Hulle ervaar nie die God wat goed is nie, die ‘plan’ wat Jeremia 29:11 van praat voel hulle nie, sien hulle nie en die Hoop beskaam en is nie eers sigbaar op die horison nie. Moedeloosheid het hul daaglikse metgesel geword. Vrees en Angs het deel geword van wie hulle is, en hulle voel agterweë gelaat, godverlate en alleen.

Miskien is dit waar jy is, in die middel van die woestyn, in sak en as. Vriendin, dan wil ek vra… kan Hy vir net vandag vir jou ‘n Koelteboom wees? Kan jy sien en voel hoe Hy jou naderwink en beduie dat jy net bietjie moet kom sit… onder hierdie lieflike groot koelteboom wat God is? In Sy teenwoordigheid? Woordeloos, moeiteloos, sonder vrees… in stilte jou gebrokenheid en moedeloosheid in die skadu van die Boom kom los.

Wanneer Hy jou saggies in Sy arms intrek en in jou oor fluister: ‘Wees stil en weet Ek is God’. (Ps. 46:11 DB)

Hier is waar jy vrylik kan in en uit asem, hier is waar jy veilig is. Onder hierdie Koelteboom wat God is, is vrede. Onder hierdie Koelteboom is daar geen verwagtinge nie, net genade en liefde in oorvloed. En die wind wat liggies deur die blare ritsel sal, Sy liefde vir jou bevestig. Sy stem ‘n streling, ‘n salf vir jou gebrokenheid. En jy is ver buite die bereik van die wêreld en sy stukkendgeit.

Sit maar net, wees maar net…vir ‘n oomblik…

Jesus doesn’t abandon us in our pain. He enters into every sorrow, every mess, every hard thing we’re facing. And He Loves us through it all.  (Jennifer Dukes Lee)

Soos ‘n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. (Ps. 42:2-3)Ek smag na U soos in ‘n dor en droë land. (Ps. 63:2) In wanhoop, roep ek na U. (Ps. 61:3) Ek is in die moeilikheid. Ek het U hulp nodig. My binneste is stukkend. (Ps. 109:22 DB)

U hou my vas en laat my altyd by U bly. (Ps. 41:13) U beskut my onder U vleuels en is vir my ‘n veilige skuilplek. U trou beskerm my aan alle kante. U is my toevlug en veilige vesting, my God op wie ek vertrou. (Ps. 91:2,4) U laat my drink uit die strome van U goedheid. (Ps. 36:9)

U laat my rus in groen weivelde. U bring my by waters waar daar vrede is. U gee my nuwe krag. (Ps. 23:2-3) Onder U vleuels sal ek skuil tot die bedreiging verby is. (Ps. 57:2) Hoe kosbaar is U trou, o God! U beskerm my wanneer ek by U kom skuil. (Ps. 36:8) Beskerm my soos die appel van U oog, steek my weg in die skaduwee van U vleuels. (Ps. 17:8)

Maak my bly, Here, ek hunker na U. U is goed, Here, U vergewe altyd weer, U is getrou teenoor dié wat na U roep om hulp. (Ps. 86:5) Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby U te wees. Ek het U gekies as my toevlug. (Ps. 73:28) U is mý Koelteboom.

8 Replies to “God is ‘n Koelteboom.”

    1. When you abide under the shadow of Shaddai,
      you are hidden in the strength
      of God Mos High. (Psalms 91:2 TPT)

      Dankie vir jou boodskappie Petra. 🌻

  1. Dankie so amazing..
    VADER het jou so geseënd met Woorde..
    Sal nou altyd onthou as ek bome sien- VADER hou ons onder SY
    (Koelte) beskerming..

    1. Lord, how wonderfully you
      bless the righteous.
      Your favor wraps around each
      one and cover them
      under your canopy of
      kindness and joy.
      Psams 5:12 (TPT)

      Mag tannie Sy koelte en beskerming in oormaat geniet. 🌻

  2. Sjoe, mens kan hierdie koelteboom fisies in jou geestesoog sien en die Groot Koelteboom se rustige Teenwoordigheid ervaar wat kalmte en rus bring. Dankie liewe Martha, jy het dit treffend beskryf. Liefde vir jou.

    1. Die hart van die mens soek na ewigdurende vrede en geluk- U het ons vir Uself gemaak, o Here, en ons hart bly onrustig tot dit rus vind in U. (Augustinus)
      Hoe wonderlik die wete dat ten midde van onrustigheid ons vrede en rus net by Hom kry. Liefde vir Tannie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *