Leë-nes-sindroom… dis ‘n ding.

Natuurlik het ek al baie gehoor van leë-nes-sindroom, maar om dit te hoor en dit te voel aan jou eie lyf en hart is ‘n perd van ‘n heel ander kleur. Dis nie sommer net vir aanpas en daar gaat ons almal aan, gemaklik, gevestig en vol vrede nie. Nee, toe nou nie só maklik nie!

Niemand vertel jou van leë kamer wat nog na jou kind ruik nie, maar daar is nie beweging nie, alles is doodstil… Niemand vertel jou van Sondae wat nou ‘n ander betekenis aanneem nie, een van groet hier iewers in die stilte van die Sondag rustigheid. Niemand vertel jou dit gaan nie so lekker wees nie. Jy gaan meer verlang as wat jy beplan het… Elke outjie dra maar sy seer en ongemak naby die hart, weggesteek vir die wêreld. So spoeg en spartel jy maar hier in jou eie verlange en opstandigheid oor die ongevraagde, maar dog nodige verandering.

Dis ‘n stryd. ‘n Heel party dinge wat nou moet verander, mense, roetines en dingetjies wat moet aanpas en aangaan asof niks GROOTS gebeur het nie. Asof iemand wat deel van die intieme gesinskring vorm nou ewe skielik ‘vermis in aksie’ is nie. Jy dwaal in jou oorbekende huis en voel iets mis… net om te onthou ousus is fort. Die keuses is beperk in sekere situasies, veral die leë-nes-sindroom situasie, daar is geen salf te smeer nie. Dis vorentoe en aanpas… dis dit.

Ek besef weer lekker in hierdie tyd hoe min beheer ons werklik het oor die dinge om ons. Wat gebeur, wat nie gebeur nie, en wat dalk moontlik kan gebeur. Ek dink die eerste stap na aanpassing en okay wees is heel waarskynlik om jouself net weer (ja, al weer) te herinner dat jy regtig egtig nie in beheer is nie… nogsteeds nie.

Daar is wel so klein bietjie beheer wat jy het, en dis die beheer oor jou kop en gedagtes. Dit wat jy dink… want uit dit wat jy dink, die gedagtes kom die oorloop van ongewensde gevoelens en bekommernisse.

Jy kan gelukkig darem nog kies wat by jou mond uitkom… spreek lewe oor jouself, jou kind en jou halfpad leë nes. En leef met dankbaarheid in jou hart, vir die voorreg wat jou kind het om verder te kan studeer.

Met die hele leë-nes besigheid kom ‘n nuwe stel ongeskrewe reëls en bekommernisse. En dit vat blêddie harde werk om net jou kop in die regte rigting se dink in te probeer forseer. Dis nou die positiewe gedagtes, die gedagtes wat jou opbou en nie paniekeerig maak nie.

Hier iewers in die vroeë oggendure raak jou nuwe gesprek tyd met God oor hierdie kosbare kind van jou wat nou self moet vlieg. Wat jy weer opnuut elke oggend verklaar, Here, ek weet U is in beheer, U het hierdie kosbare kind van my in die holte van U hand. U het haar bitter-baie lief.

Ek dink baie keer hierdie jongmense, wat ons so verskrilik lief het, mis interpreteer hierdie leë-nes sindroom heel anders as ons. Hulle dink heel verkeerdelik dit gaan oor ‘n gebrek aan vertroue in hulle en eintlik is jou bekommernis meer gerig op eet hulle genoeg en gesond, slaap hulle genoeg, is daar balans? Voel hulle oorweldig deur hierdie nuwe vreemde wêreld? IS HULLE OKAY?

So, in hierdie tyd van ongemak en ‘n semi-seer hart herinner ek myself net bietjie weer wie Hy is en hoekom ek dan eintlik net kan glo en vertrou… In Hom wat goed is en goed doen. In Hom wat my nog nooit in die steek gelaat het nie. In Hom wat my nog altyd genoeg genade gegee het vir elke situasie waarin ek my bevind. In Hom wat my lief genoeg gehad het dat Hy sy enigste Seun in my plek aan ‘n kruis laat hang het.

Ek onthou bietjie weer van ‘n Man van Nasaret wat Hom op ‘n skuit bevind het, met paniekerige dissipels wat tog net nie wil vergaan nie, wat gered wil word. En hierdie Verlosser van my en jou wat ons so-so goed ken, spreek die wind en die golwe aan en dit raak doodstil. (Matt. 8:23-27) Met ‘n Woord uit Sy mond, verander alles. So Here dan vra Ek vir meer geloof in U. ‘n Stille verwondering en geloof in wie U werklik is. Spreek die storms in my gemoed en hart aan. Maak hulle stil… maak my stil.

Ek het die Here aangeroep en Hy het my geantwoord. (Ps. 34:5) Die Here hoor elke woord uit my en jou mond en die versugtinge van ‘n moederhart. Daarom kies ek weer vandag om Hom te glo as Hy vir my sê:

Jy moet nie ontsteld wees nie, en jy moet nie bang wees nie.’ (Joh. 14:27)

Wanneer Vader nader geloop kom en my saggies in Sy arms toevou hoor ek hoe Hy fluister:

Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo.’ (Mark. 5:36)

Ek vra-pleit weer vanoggend: Bring my op die rots waar ek veilig sal wees. (Ps. 61:2) Gee my ‘n nuwe uitkyk punt, ‘n nuwe perspektief. Wys my wat U sien. Laat my elke môre U liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue. Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig. (Ps. 143:8-9) My hoop, verwagting, vertroue, dit plaas ek vanoggend weer as ‘n offer in die binnekamer want, U is die God wat my sien. (Gen. 16:13)

Vriendin, miskien het jou ook ene wat moes vlieg hier iewers tussen die jaar en verlede jaar. Sommige het wyd ver gevlieg en die verlang is GROOT. Miskien is jou les nou dolleeg en die laaste het/moes vlerke span en die groot sprong vanuit die veilige nes in die groot wye wêreld in maak, maar miskien is jy soos ek…Ek is dankbaar vir ‘n kleinsus, ‘n asempie wat ek vir nog ‘n jaar of drie hier onder my vlerk kan intrek, snoesig, hier naby my hart. Gelukkig tog darem is my nessie vir nou net halfpad leeg.

Jy sal ook vind soos die dae, weke word, en die weke maande word, kom maak vrede nes in jou hart. En wanneer jou kind begin blom in hierdie nuwe fase buite die nes… dan raak die leë-nes-sindroom net ‘n vae herinnering.

 

2 Replies to “Leë-nes-sindroom… dis ‘n ding.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *