Uit die Nes Uit.

Om ‘n kind wat moet vlieg onder jou dak te hê, bring ‘n warboel onwelkome emosies eensklap in jou geselskap in. Sommige van die emosies ou bekendes, ander wat jy liefs wil vermy as dit enigsins ‘n moontlikheid was.

Min ma’s praat oor die  half voel van kinders wat die nes verlaat, en al weet ons dit kom, is mens nie regtig daarop voorbereid nie. Daar is te min ma’s wat rondborstig erken dat dit nie die wonderlikste tyd van jou lewe is nie. Daar is te min ma’s wat eerlik genoeg is om te sê, dit ‘suck’ nogals.

Vriendin ek wil jou nie oortuig dat dit maklik gaan wees nie, maar ek wil jou verseker dat jy OKAY gaan wees. Dat jou kind OKAY gaan wees, en dat hierdie net ‘n hobbel in die lewenspad is wat oorkom moet word.

Die matriekjaar is so gepak met aktiwiteite, eksamens en toekomsplanne, dat dit min tyd oorlos vir dink, en refleksie. Niemand sê vir jou die afskeid is ‘n lang uitgerekte proses wat nogals aan ‘n ma se hart kan vat nie. Met tye voel jy onvoorbereid en onbevoeg vir die onvermydelike koebaai wat nie te ver in die toekoms wag nie.

Miskien moet mens deur al die emosies gaan, miskien moet mens tye van onthou in jou hart toelaat! Die eerste gevoel van vlinders in jou geswolle buik, van eerste ontmoetings, die heel eerste ‘mamma’, die eerste benoude skooldag in Graad 1. Jy onthou van donkiebloed op nerf-af knieë, soene wat einas beter maak. Jy onthou van laat-aand bytjie kostuums maak vir konserte, en hoe hard jy geskree het toe die doel uiteindelik deur die net geval het.

Jy onthou van maats probleme, gebeekte harte, van detensie punte wat harte laat huil, bangwees vir die donker, en koors in die nanag en ‘n koue lappie op die warm voorkoppie, en saam met die onthou kom die hartseer, want hoe is dit moontlik dat 18 jaar in ‘n oogwink verby is? Wanneer het die tyd met jou en haar weggehardloop?

Jy probeer braaf wees voor almal en alles. ‘Nee, dit gaan goed dankie, ons is almal vreeslik opgewonde vir die volgende hoofstuk….” Daar waar niemand jou kan sien nie, val jou trane geluidloos tussen skoon opgevoude bondels wasgoed. Raak stryktye, dink-tye, onthou-tye, bid-tye.

Jy weet jy moet laat gaan… jy weet dat iewers moet jy begin los, iewers moet jy toelaat dat die naelstring vir die heel laaste keer, finaal geknip word. Iewers moet jy in jou hart en kop begin afskeid neem van ‘n seisoen wat vir altyd tot ‘n einde gekom het… waar hier vervang word met daar en verlang gestil word met kortgeknipte stemboodskappies en ‘n whatsapp hier en daar.

Die proses van gewoond raak aan nie meer so nodig wees nie is ‘n ongemaklike een, wat jy amper skuif van deelnemer na toeskouer. Iewers begin die aanvaarding van nuwe seisoene en dinge, al ontbreek die opgewondenheid soms in ‘n ma se hart.

Die onbekendheid maak jou onrustig en jou bekommerde moeder hart wonder of hulle gaan huissiek wees, of hulle miskien te veel gaan verlang, maar daar is ‘n deeltjie wat amper bekommerder is dat hulle glad nie gaan verlang nie… ek troos my daaraan, ‘n student sal sy pad huis toe kry al is dit net vir ma se kos en ‘n skoon bondel wasgoed…

Jy is bekommerd oor studentwees, van groot wees, onafhanklik wees, op eie voete staan, het jy haar genoeg geleer? Het sy geluister, verstaan? Het jy van jou kant af alles gedoen om haar te beskerm teen hierdie nuwe vreemde, soms wrede wêreld?

Iewers langs die pad begin aanvaarding vir die onvermydelike kom. Vir elke ‘laaste’ word ‘n traan gepik en ‘n brokkie onthou in jou mamma hart gebêre vir later. Vir elke afskeid kom die besef, verandering is ‘n noodsaaklikheid vir groei, vir karkater bou.

Gelukkig is al die baie emosies vlietend van aard, en wat ookal volgende gebeur, of nie gebeur nie, sal jy vind dat elke situasie oorgenoeg genade het. Maak nie saak hoe pynlik die lessies is nie, God is goed, altyd goed. Sy planne vir jou kind is goed. In die holte van Sy hand is jou kosbare kind veilig.

So tussen die koop van ‘n nuwe duvet-stel, en die perfekte matjie, en ‘n twedehandse yskas, en die wag vir matriek punte, die soek van verblyf, want wanneer als gesê en gedoen is, al wat oorbly is om vir jou kind te BID.

Onthou vriendin, jy word nie summier uit die prentjie geskuif nie, jy het net bietjie tyd nodig om aan te pas by jou nuwe rol as ondersteuner en aanmoediger. Ek verstaan heeltemal, die toekoms is onseker, maar ek en jy dien ‘n standvastige GOD. In God kan ons sekerheid lê.

So vriendin, as jy jouself vang dat jy met tye oor-emosioneel is, dat jy dalk met tye skoon tranerig voel, moenie te hard op jouself wees nie, wat jy nodig het is tyd en genade met self om by die nuwe lewensfase aan te pas, want allereers gaan dit tog nie regtig oor emosies en afskeid nie, maar dit gaan oor die liefde van ‘n ma vir haar kind.

A mother’s job is to teach her children not to need her anymore.
The hardest part of that job is accepting success.
(Rochelle B Weinstein)

Vriendin ek bid vir jou vir hierdie tydjie van afskeid wat voorlê… ek is die ewige optimis, selfs as my hart seer is. Jy gaan 50% minder ry as jy twee kids het, 33.3% as jy drie kids het. Sjoe vriendin, en as dit jou laaste ene is wat die nes verlaat, gaan groot.  Gebruik die ekstra tyd vir jouself. Ek het ‘n lysie van goed wat ek wil doen, en ek is opgewonde om myself in hierdie nuwe seisone te herontdek. Maar vir eers los ek jou met hierdie kosbare woorde:

Psalm 91
Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind
en die beskerming van die Almagtige geniet,
hy sê vir die Here:
“U is my toevlug en my veilige vesting,
my God op wie ek vertrou.”

 Hy beskut jou onder Sy vleuels
en is vir jou ‘n veilige skuilplek.
Sy trou beskerm jou aan alle kante.

One Reply to “Uit die Nes Uit.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *