‘n Dankbare Hart.

Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam, want die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie… (Ps. 100:4-5)

As jong ouers van klein kindertjies was die refrein in die huis môre, oggend en aand: “Sê dankie mamma!” of “Hoe sê mens?”. Elke ouer se begeerte is tog goed-opgevoede kindertjies met mooi dankie en asseblief maniere.

As grootmense vergeet ons soms wat ons met soveel passie vir ons kleine kindertjies geleer het, maar dankbaarheid is soveel meer as net ‘n dankie. Dankbaarheid is ‘n dankbare hart en ‘n getuienis van ‘n lewe van dankbaarheid.

Dankbaarheid is…
‘n Ingesteldheid.
‘n Lewenswyse.
‘n Denkpatroon.

Die skrywer van Kolossense 3:15 skryf: Wees altyd dankbaar. Ons, as gelowiges, moenie  dink dis ‘n voorstel nie, want dit is nie! Dis die opdrag. Wees ALTYD dankbaar. In alle omstandighede, want dis wat God van ons verwag.

Wanneer ons vasval in ‘n toestand van onvergenoegdheid en ontevredenheid, weerspieël dit nie net in ons doen en late nie, maar dit weerspieël ook in ons hart en siel. Die siekte van nog, maar nooit genoeg nie. Hoe meer jy dankbaarheid aankleef, hoe meer dankbaarheid deel raak van jou DNA, van wie jy is, hoe gelukkiger sal jy wees. Ten midde van storms en ongemaklikhede in jou lewe.

Soms dink ons dankbaarheid word gekoppel aan die groot en indrukwekkende dinge van die lewe, mooi huise en meer as genoeg van alles. Dankbaarheid vind juis sy oorsprong in die kleine, in die dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar.

Ons gesondheid, want dis eers wanneer jy die greep op goeie gesondheid verloor dat jy tot die besef kom watter kommoditeit dit is. Selfde met huwelike, eers wanneer jy jou maat afstaan aan die dood, besef jy die kosbaarheid van ‘n lewensmaatjie. Soms in die oomblik van hier en nou, vergeet ons skoon van dankbaarheid.

Soms wanneer ons vasgevang word deur ‘n gees van onvergenoegdheid, dieselfde gees wat maak dat ons kla met die spreekwoordelike witbrood onder die arm, ai en ons is almal skuldig, want ‘n saadjie van vergelyk met wat ander het, en wat ander doen, skiet graag wortel en voor ons ons kan kry, sit ons met ‘n vrug van ondankbaarheid.

Kom ons wees ook nou maar doodeerlik met mekaar, kla is vir die deursnit Suid-Afrikaner ‘n lekker tydverdryf, amper soos braai, dis makliker om te kla as om dankbaar te wees. Om dankbaar te wees en te bly is harde werk.

Dan vra ek myself af, watter ander offer kan ek dan ook vir die God van die hemel en die aarde gee as my dankbaarheid? Dat Hy ons uitverkies het en eerste liefgehad het ten spyte van, dat Hy ons Rots is en altyd maar altyd vir ons goed is, maar bowenal wat anders het ons as dankbaarheid as ons dink aan die onskuldige Seun van God wat op die middel kruis op Golgotha vir ons sondes gesterf het?

Ek wonder tog? Is daar regtig vir ‘n volger van Jesus ‘n ander opsie as om dankbaar te wees en dankbaar te leef? Wat anders het ons dan om vir ons Koning te gee behalwe ‘n dankbare hart?

Mag ek en jy met bewuste dankbaarheid hierdie feesseisoen binnegaan, met ‘n ingesteldheid op God se goedheid en guns. Mag dankbaarheid die geskenk wees wat ons voor die voete van die Seuntjie in die krip neerlê, tussen die goud, wierook en mirre van die Wyses uit die Ooste…

Geluk ontstaan waar iets groei en blom, waar iets vermeerder, waar lewe ontstaan, blom en vrug dra vir liggaam en siel. En wanneer dit bestendig aanwesig is, froei daar tussen die stingels van die vrug die eerste geskenk van die geluk… die dankbaarheid van die hart. (Jörg Zink)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *