Die Wedloop.

Die lewe is soos ‘n wedloop, intens, put mens soms totaal en al uit. As daar een belofte in die Woord is waaraan ek en jy moet vasklou met alle mag en krag is dit: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. (Matt. 28:20) Wat beteken dit vir my? Beteken dit God staan op die kantlyn van my lewenspad en skree bemoedigende versies na my kant toe? Of beteken dit: God is saam met my daar… daar waar die tekkie die teer tref, in die midde van die stryd, langs jou, onder jou, agter jou, bo jou, binne jou?

God sê: “Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou.” (Ps. 32:8) Dit glo ek met my hele hart. God is by my… altyd. Ek is NOOIT alleen nie. Hierdie wedloop is nie ‘n solo wedloop nie, God hardloop saam met my, elke tree van die pad.

Jy kan jou oë vestig op die eindstreep want die Here het Sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. (2 Kron. 16:9) Jy kan ook nie ‘n ander se wedloop namens hom of saam met haar hardloop nie, jy kan wel ‘n bemoedigende toeskouer wees.

Kom ons praat bietjie oor toeskouers. Wie is die toeskouers langs jou lewenspad? Dis so belangrik om die regte toeskouers te hê. Boeties en sussies in Jesus wat bemoedig en aanmoedig. Hoe lyk ‘n wedloop ook nou sonder toeskouers? Kies jou toeskouers wys. Hulle kan die eindresultaat van jou wedloop sleg beïnvloed.

Soms val ons lekker hard op hierdie wedloop-pad, nerf-af knieë, moed-in-die-skoene tipe valle. God gaan staan nie dan op die kantlyn en kyk hoe jy spoeg en spartel om te probeer opstaan nie. Nee, Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde. (Ps. 147:3) Hy is die een wat die pleisters opplak…

Soms is die val so hard dat ons vir ‘n hele ruk nie wil of kan opstaan nie. Die wind uitval kry-nie-asem-tipe valle. Dis dan wanneer die Heilige Gees van God langs jou gaan lê en jou vierkantig in die oë kyk. Dis Hy wat jou stukkie vir stukkie bymekaar sit en ophelp tot jy weer die uitgestrekte hand van God kan neem en verder loop, tot jy weer kan hardloop.

Die lewenspad is ook nie altyd ‘n reguit stuk teerpad nie, nee soms is die pad vol slaggate, lang afdraendes en uitmergelende nimmereindigende opdraendes. Nie maklik nie nê? Hou moed sussie in Jesus want, die Here gee vir jou die krag, dis Hy wat jou voete soos ‘n ribbok sin maak. Op hoë gevaarlike plekke sal jy veilig loop. (Hab. 3:19)

‘n Atleet wat aan ‘n wedstryd deelneem, kan die prys wen slegs as hy volgens die reëls meeding. (2 Tim. 2:5) Weet jy nie dat atlete wat aan ‘n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan so dat jy die prys kan wen. (1 Kor. 9:24)

Mag jy ook aan die einde van jou lewe, wanneer jou uurglas hier op aarde omval, soos Paulus sê: “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. (2 Tim. 4:7) Dan my liewe vriendin, as jy in die oë van Jesus kyk en Hy die onverganklike oorwinnaarskroon op jou kop plaas sal jy weet… jy is uiteindelik tuis. Die wedloop is gewen, maar tot dan hou uit, hou vol, hou moed…

2 Replies to “Die Wedloop.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *