Ek kan vir die lewe van my nie onthou dat die kies van vakke enigsins ‘n moeilike ding was jare terug nie. Dit was eintlik maklik. Jy kon kies A of B x4 en dan jou tale. Sommige skole was so klein dat vakkeuses eintlik nie ‘n keuse was nie, dit was ‘n vat wat jy kan kry tipe situasie. Nou raak dit ‘n geweldige storie en kopseer vir menige ouers en hulle baie deurmekaar 15 jariges.
Goeie nuus, enige kindertjie na die eerste ene raak gelukkig progressief makliker… en minder vreesaanjaend. Ongelukkig nie vir die 15 jarige in jou huishouding nie. Die arme goed voel oorweldig, so kompleet asof hierdie ‘n permanente keuse is vir die res van hulle 70 of 80 jaar hier op planeet aarde. Hulle dink hulle moet al die moeilike antwoorde op onmoontlike vrae hê, wat gaan jy word, watter presies graad gaan jy by watter presiese instansie studeer? Hoofbrekens probleme vir die arme bloedjies!!
Ek het ‘n paar goedjies geleer so tussen ousus en kleinsus se vakkeuse krissise. Bietjie meer kennis en wysheid so tussen die lyne opgedoen.
Met ousus se aanleg toetse het dit gewys sy moet maar die Groot 6 vat, Skeinat, Biologie, Rekeningkunde, Wiskunde, Afrikaans en Engels. So gesê so gemaak. Probleem is sy het nie van Skeinat gehou nie, veral nie die Chemie deel nie… nou wil sy ophou met die vak, want sy sukkel maar die loopbaankeuse tannie sê, nee Mianke moet sover moontlik hou by die Skeinat.
Nou ploeter sy maar voort met die vakkie wat sy nie baie van hou nie, sy moet soveel ekstra tyd insit, ekstra hard werk om te verstaan, met ekstra klasse wat darem baie gehelp het en eelte op die sitvlak wat getuig van deursettingsvermoë en baie ure agter die boeke. In matriek behaal sy ‘n gemiddeld van 77% vir hierdie vakkie wat sy nie so baie van hou nie. Met baie bloedsweet en harde werk.
Nou gaan ousus volgende jaar B.Ed studeer en ek besef al die pyn en lyding wat skeinat aanbetref was eintlik vir niks. Dit het haar wel geleer dat waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg. Ek besef ook as sy skeinat gelos het toe sy dit wou los, het sy nooit die besluit gemaak om ingeneurswese te gaan swot nie… sy sou nie kon nie. Daarom glo ek met my hele hart, jou kosbare kind sal opeindig presies waar hulle eendag moet opeindig. Dis ‘n God-ding.
En ja soms is die paadjie om daar uit te kom ‘n grondpad, soms ‘n ompad en soms selfs ‘n kronkelpad, en partykeer is ons gelukkig om van die begin af op die ‘regte’ pad te wees. Jy moet verstaan vriendin, nie een van hierdie paadjies is die verkeerde pad nie, want met elke kronkel en ompad vind jou kind homself ‘n bietjie meer, word karakter gebou en vind voorbereiding plaas vir die skoene wat volgestaan moet word vir eendag.
Met kleinsus het ons die hele vakkeuse besigheid bietjie anders benader. Nie wat wil jy eendag word nie, maar watter vak hou jy nie van nie? Watter vak is jy mal oor? Wattter vak is jy goed in? Om vir kleinsus gemoedsrus te gee het ons baie gesels oor elke vak, en selfs met die maak van die vakkeuse het ek en sy seker gemaak daar is ‘n plan B vir elke vak in plek. Maar dit was haar keuse. Lyk haar keuse soos my keuse vir haar sou gelyk het? Dit doen nie, maar ek is mos nie sy nie. Ek het my vakkeuses gemaak doerie tyd, nou moet sy hare maak.
Mens het nie wiskunde en skeinat nodig om ‘n suksesvolle mens te wees nie. Om ‘n sukses van jou toekoms te maak nie. Daar is te veel ouers wat nog glo dat Wiskunde en Skeinat ‘n absolute MOET is. Almal is eenvoudig nie aangelê om te presteer in hierdie vakke nie en ons kan onsselwers en ons kinders soveel verdriet, spanning en trane spaar as ons net hoor, regtig hoor wat hulle sê.
So liewe 15 jarige in my huis.
Jy kan asemhaal en ontspan.
Jy hoef regtig nie op 15 jou hele lewe uitbeplan te hê nie.
Jy hoef regtig nie te stres oor môre en al sy wat asse nie.
Jy hoef nie jou kop te breek oor al die sê nou maars
wat aan jou deur klop nie.
Doen vir nou alles wat jou hand vind om te doen,
en doen dit met oorgawe,
doen alles tot Sy eer,
asof vir Hom,
dan sal Hy jou paaie gelyk maak
en jou op die regte paaie lei tot die eer van Sy Naam
Liewe vriendin, kom ek en jy wees die ma wat nie ekstra-onnodige druk op ons kosbare kinders sit nie, kom ons bly hulle nie probeer inforseer in die boksie wat skool is nie. Hulle almal pas nie ewe gemaklik in die boksie in nie. Vir sommige is dit ‘n stryd, harde werk. Kom ek en jy wees nie die ma’s wat ons agterweë-gelate-drome en onverwesenlike ideale probeer uitleef in ons kinders nie.
Children aren’t coloring books. You don’t get to fill them with your favorite colors. (Khaled Hosseini)
Daar is deesdae soveel opsies beskikbaar (seker eintlik te veel!) Ek glo met my hele hart dat my girls gaan opeindig presies daar waar God hulle eendag wil gebruik, daar waar hulle gaan blom, presteer en gelukkig wees. Ek glo met my hele hart dat hulle gaan blom waar hulle geplant is deur die God van die hemel en die aarde. (met of sonder skeinat)
Children are not things to be molded but are people to be unfolded. (Jess Lair)