‘n Paar jaar gelede het ek die dienste van ‘n Projekbestuurder benodig. Ons het Kaap toe getrek en die TO DO lysies op die yskas het al meer geword. Nimmereindigende lysies vol belangrike en minder belangrike goedjies en soos dit maar met die tyd gaan, het dié al minder geraak. Ek het paniekerig begin voel. Jy weet mos daardie gevoel wat die olifantjie sonder seremonie op jou borskas homself kom neer plak. Ek het al slegter geslaap en het totaal en al oorweldig gevoel. Een oggend oppad werk toe het ek net besluit tot hier toe en nie verder nie. Ek moes bietjie aan myself erken… hierdie gaan ek nie alleen gedoen kry nie… ek het hulp nodig gehad … ek het besluit om ‘n Projekbestuurder aan te stel.
Ek het my baie lysies van my yskas afgehaal en hulle aan my Projekbestuurder oorhandig. Daar was so baie goed op die lysies, groot lewensveranderde besluite wat moes geneem word. Huis moes verkoop word, huis koop in die Kaap vir die regte prys, regte omgewing, skooltjie vir Kleinsus en Primêre skool vir Ousus. Vervoer van meubels. Bekostigbare verblyf in Roodepoort vir die laaste maand. Troeteldiere vervoer, nuwe maatjies vir die girls, uitsorteer, weggooi, inpak, uitpak ens. Dit was ‘n ellelange lys… sonder ‘n woord het my Projekbestuurder die baie los papiertjie uit my hande gevat, vir my ooggeknip en gefluister…als gaan ok wees…
Ek het geweet die sukses van die skuif Kaap toe hang van die Projekbestuurder af, daar was geen moets en moenies van my kant af nie. Ek het besluit om die Projekbestuurder volkome te vertrou, ek sou Hom nie bevraagteken nie, hierdie Projekbestuurder van my was altyd beskikbaar, 24/7. Altyd maar te gewillig om te luister, te help, raad te gee…
Wanneer ek moeg en moedeloos gevoel het die Projekbestuurder in my oor gefluister: “Jy is tot alles in staat want jou krag kom van My af!” (Fil. 4:13) Verloop alles altyd seepglad al het jy die hulp van die Projekbestuurder? Natuurlik is dit nie ‘n waarborg nie. Potplante sal breek, ‘n geliefde Kokerboompie maak dit dalk nie en jou TV kom dalk nie heel anderkant uit nie, maar wat jy wel weet is dat die Projekbestuurder vir jou alles ten goede laat meewerk. (Rom. 8:28)
Is jou lewe op die oomblik ‘n deurmekaarspul? Het jy miskien ‘n Projekbestuuder nodig? Is jy nie bietjie moeg van alleen sukkel en struikel op die lewenspad nie? Laat my dink as ons klein is en ons wil tog so graag wys ons kan alles self doen, op die ou end staan jy aangetrek voor die spieël: TA-DA! Net om te besef jou klere is onderstebo en jou skoene agterstevoor, maar jy is so trots op jouself. Jy het dit self gedoen! I did it my way soos oom Frank luidkeels sing.
Jy hoef dit nie self te doen nie… regtig. Wie is jou projekbestuurder? Jyself? My Projekbestuurder se naam is Jesus en net sodat jy weet Hy spesialiseer nie net in verhuisings nie. Nadat ek daai oggend oppad werk toe my hande in die lug opggegooi het en gesê het, Jesus vat oor… het alles in plek geval. Alles op my TO-DO lysie is afgehandel, afgemerk. Tot die fynste detail van die trek het uitgewerk, want sien ek was nie in beheer nie… Hy was!
Amen Amen Amen 🙏🙌♥️
💛 Jy sal genoem word: “Die een vir wie die Here liefhet.” Jes. 62:4
N Boodskap net vir my. Baie dankie 🌷
🌻 Pour out all your worries and stress upon Him and leave them there, for He always tenderly cares for you. 1 Peter 5:7 TPT
Ek stem saam dis wonderlik om so n Leidsman te hê
Jesus, ons Leidsman en die Voleinder van ons geloof. (Heb. 12:1-2)💮