By wie vind jy vertroosting as jy sielsongelukkig en verstote voel deur hierdie wêreld en die mense wat die aarde bewoon en bewandel? Is dit nie net by Jesus nie? Is Sy juk nie sag en Sy las lig nie? (Mat. 11:28-30) Hy is naby wanneer jou hart gebroke daarna uitsien, net by Jesus sal jy rus vind vir jou siel, Hy sal jou red wanneer jy verslae van gees is. (Ps. 34:18)
Net by Jesus vind jy volkome vrede… nie die kitsvrede van die wêreld wat so vinnig gaan soos dit gearriveer het nie. Vlietend van aard. Sy vrede is ewigdurend, en wanneer Sy vrede deel word van jou DNA, voor jy jou kom kry het jy vrede te midde van storms. Is jou optrede vol vrede. Is jou woorde gevul met vrede. Te midde van dorings en dissels op die lewenspad. Jesus se vrede is ‘n innerlike vrede, maar dis nie ‘n verniet vrede nie, dis ‘n vrede wat spruit uit ‘n intiem-persoonlike verhouding met Hom. Jesus se vrede bring kalmte, troos ons wanneer ons troosteloos is en versterk ons ten spyte van elke dag se uitdagings, en die onsekerheid van die lewe.
Die Vreugde van die Here is immers ons sterkte. (Neh. 8:10) By my Jesus is daar oorvloedige blydskap… Hoor hoe mooi is Psalm 16:11(1953)- U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor U aangesig, lieflikhede in U regterhand, vir ewig. As jy vreugde kortkom, liewe vriendin gaan kyk dan diep in die oë van Jesus.
Weet jy wat jy nog by Jesus gaan vind? Jouself! God het alles goed geskape. Jy moet net nooit vergeet jy is deel van die skepping en ‘n meesterstuk wat Hy geskape het nie. Jy is waardevol in die oë van Jesus. Wanneer ons selfbeeld geskoei is op die wêreld en die standaarde van mense, en ons meet onsself aan ander en nie die feit dat God ons in liefde geskep het nie, dan loop ons konstant rond met ‘n minderwaardigheids kompleks. Dan voel ons nooit goed genoeg in enige situasie nie. Jy word onvoorwaardelik aanvaar en liefgehê deur die God van die hemel en die aarde. Na die beeld van God is jy geskape.
Jesus is nie die gewer van vrees nie, maar van liefde. Volmaakte liefde. Met Jesus styf teen jou sy kan jy vrees eens en vir altyd agterlaat. Deur geloof in Hom kan ons vrees verban uit ons lewens, kan ons met die versekering leef dat Hy ons nie alleen laat nie, want Die Here is by my, ek ken geen vrees nie. (Ps. 118:6) Vriendin, en Hy het belowe… dat Hy ons nooit sal begewe of verlaat nie…
Geen veroordeling nie… by hierdie Jesus van my en jou is daar geen veroordeling nie, hoor hoe mooi… So now the case is closed. There remains no accusing voice of condemnation against those who are joined in life-union with Jesus, the Anointed One. (Rom. 8:1 TPT) Dis ‘n uit en gedaan situasie! By Jesus is daar nie aantuigings en oordeel nie. Los die gisters in die verlede, Jesus vergewe en vergeet en oor die môres hoef jy jou ook nie te verknies nie… Hy is ons toekoms. Self kan ek en jy nie in die vorentoe inkyk nie. Al sien ek en jy net die hier en nou. Hy sien alles, weet alles, veilig by Hom, dis waar ek en jy is in die hier en nou.
Ek is so dankbaar vir Hom vriendin, vir Sy getrouheid, vir Sy lankmoedigheid teenoor my, maar dis Sy genade wat telkens my asem skoon wegslaan… Sy genadedraad met liefde deur my lewensstorie geweef word, deur joune ook. Ek en jy moet leer om elke dag met dankbaarheid te leef, en met ‘n geloofssekerheid, want ons weet wie Hy is… ons ken Sy liefdevolle oë, ons ken Sy teer stem, ons ken Sy hart vir ons.
My hart soek net vir U, by my, langs my, in my. Geen skatte, dinge van die wêreld kan ooit die honger-pyne na U versadig nie. U is alles in alles. U is my erfenis, my porsie vir ewig, die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, want ek het U altyd by my te midde van onsekerheid, te midde van storms wat my lewensbootjie soms woes skud en van koers afdwing.
U is steeds God, in my menslike gebrokenheid, wonder ek soms, twyfel ek soms. Maar U is God. Ek vertrou op U alleen. Ek vertrou U hart. Ek het vertroue in U liefde vir my. Ek vertrou U met my. U regeer, U is in beheer al voel als soms soos een groot gemors, want Here het ons nie ‘n lekker gemors van die wêreld gemaak nie? Soms laat U toe dat ons na U soek en soek, smag na U… U laat ons toe om U te vind. Telkemale kom U tot ons redding, daag U op, betyds. Kom trek U als wat skeef en skuins is reg. Kom U en laat U soos altyd, vir ons alles ten goede meewerk…
Amen