Sjoe! Dis moeilik om ‘n nuwe roetine of goeie gewoonte of wat ookal aan te leer. Dit is net merkwaardig maklik om daardie einste goed-aangeleerde gedrag af te leer. Dit is net ‘n dag of drie en jy is weer vasgevang in ‘n groef.
Dit tel ook vir sondes of slegte geestelike gewoontes waarmee jy sukkel en waaroor jy maklik struikel. Ons raak almal so nou en dan die spoor byster, die belangrikste is om dan net weer so spoedig moontlik die spoor te sny en op die regte pad te kom.
Ek het al gesê, een van my groot struikelblokke is my gedagtes, dan moet ek bysê, ek het ook, verkeerdelik, gedink ek het dit eens en vir altyd oorwin, en dat ek die dink-ding lekker onder die knie het. Ek praat spesifiek van die tipe gedagtes wat nie gerig is op die dinge daarbo nie, maar meer die tipe wat fokus aarde se kant toe. (Kol. 3:2)
Gedagtes wat spreek van ‘n klein bietjie ongeloof wat iewers ingesypel het, gedagtes met vrae wat vra: “Maar sê nou maar, of wat as…” Gedagtes wat op loop gaan oor situasies en dinge waaroor ek min tot eintlik, as mens doodeerlik is, geen beheer het nie.
Iedergeval, ek droom die ander nag ‘n onstellende droom, ek skrik wakker met ‘n kloppende hart. Nou het mens sekerlik twee keuses, jy kan jou gedagtes vrye teuels gee of jy kan met God gesels oor jou bekommernisse. Sjoe! Dit klink eintlik darem net so maklik. Vang die gedagtes, stop die stoomroller van gedagtes… maar ja, dis harde werk!
Nou lê jy in die nanag wakker, alleen, met ‘n benoudheid in jou siel en ‘n vrees in jou hart met net jou gedagtes as geselskap. Weet net dit! Die vyand slaap nie, dis ‘n goeie tyd vir hom om vrugbare grond voor te berei, om gedagtes te plant en uiteindelik jou vrede te steel. Gits probleem is, hy is so subtiel, jy gaan dink die idees kom uit en van jouself af.
Nou lê ek wakker met ‘n warboel gedagtes om deur te sorteer, sê nou maar dit wat ek gedroom het gebeur regtig met my, of nog erger met een van my girls? En dit bly nie net by gedagtegange wat skeefloop nie, maar voor jy jou kan kry het vrees homself pens en pootjies in jou hart tuis gemaak. Jy verstaan? En dis asof Heilige Gees my net saggies nader trek en my herinner aan nog 2 ander kere die afgelope tyd wat dit my ‘n tydjie gevat het om my gedagtes te rig op dit wat WAAR is, wat EDEL is, dit wat REG is, dit wat REIN is, dit wat MOOI is, dit wat PRYSENSWAARDIG is. (Filip. 4:8)
Ek besef, ek sal moet wakker slaap, ek is besig om te ontspoor, die vyand het ’n gaping in my wapenrusting gesien, als my eie skuld. Die gaping sal hy uitbuit en teen my gebruik.
Sodra jy bewus raak van die spore voor jou wat al dowwer raak, dof genoeg, dat jy met tye die spoor heeltemal mis, volg net Sy voorbeeld, (1 Kor. 11:1) Bely, smeek nuwe krag, vars genade van bo en leef met die besef: Soos jy jou eie gesig sien as jy in die water kyk, so sien jy jouself in wat jy dink. (Spr. 27:19)
Vriendin, miskien lyk jou ontspoor heeltemal anders as myne, maar tog weet jy presies waarvan ek praat! Jy struikel, sukkel en beur voort om net kop bo water te hou, net weer die dowwe spoor in die stofpad raak te sien. Ek wil jou vandag kom bemoedig. Moenie moed opgee nie. Hou jy maar net aan!
Soms is die pad alleen, en jy voel dis net jy wat sukkel in hierdie wêreld. En ai jy kan so teleurgesteld wees in jouself, want jy het jouself belowe, die afdraai-paadjie vat ek nie weer nie, maar soms, wanneer ons deur ‘n seisoen gaan wat meer vereis as wat ek en jy kan gee, meer as wat in ons is, dan gebeur die ontsporings sommer baie maklik. Hou moed liewe vriendin, God sien jou raak en het nog lank nie van jou vergeet nie.
Jesus het hier op aarde gesukkel met dieselfde goete waarmee ek en jy sukkel, maar Hy het staatgemaak op Sy Vader in die hemel, en Hy het lang intense gesprekke met Hom gevoer. Raad gevra. Krag gekry. Nabyheid gesoek. Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid. (Luk. 5:16) Dit is die voorhandliggende antwoord vir meeste van ons ontsporings… ons praat te min met Hom, en leen hopeloos te veel ons ore uit vir die wêreld. Ons probeer om self die dingetjies wat pla uit te sorteer, plaas ons gaan sit dit net in Sy Almagtige hande.
Liewe ontspoorde vriendin, Sy genade vir jou is genoeg in hierdie seisoen. Hy is jou Helper, Herder en Rigtingwyser. Mag jy elke dag ervaar hoe Hy jou vooruitgaan met goedheid en guns. Leef met die besef in jou hart dat jy werklik nooit alleen is nie, nie eers in die nanag wanneer jy alleen en benoud wag vir die eerste lig van ‘n splinternuwe dag nie. Spits jou ore vir Sy stem, die een wat jou liefhet fluister vanoggend vir jou:
Listen, my radiant one- if you ever lose sight of Me, just follow in My footsteps where I lead My lovers. Come with your burdens-and cares. (Song of Songs 1:8)