My tieners sê graag: ‘Bou ‘n bruggie en kom daaroor’, of eerder bou ‘n bietjie ‘n bruggie en kom net bietjie oor jouself. Jip, dis waar ek nou is, ek moet ‘n bruggie bou en net weer bietjie oor myself kom. Hier in die midde van my gestruikel en soeke na die regte materiaal om hierdie bruggie te bou stuur my beterhelfte vir my hierdie bittere mooi aanhaling. En dis sommer net ‘n bevestiging van die bruggie wat gebou moet word.
Calmness is a superpower. The ability to not overreact or take things personally keeps your mind clear and heart at peace. (Marc & Angel Chernoff)
Ek het ‘n mooi versie raakgeloop wat so mooi die aanhaling vasvat: …hierdie opdrag is om liefde te wek wat uit ‘n rein hart, ‘n goeie gewete en ‘n opregte geloof kom. (1 Timoteus 1:5) Mooi nê!
Jy weet mos soms sê mense sommer net iets, net om iets te sê, en soms gooi hulle onwetend ‘n handgranaat na jou hart se kant toe. Jy kan nie eers anders as om diep gekrenk en seergemaak te voel nie.
Ek werk tans kliphard aan die bruggie en waaraan ek ook werk is my splinternuwe superkrag. Eintlik meervoud. Superkragte… kalmte van gees en innerlik vrede. Dis dit. Ek wil nie kan vlieg soos Superman nie, want wie vlieg kan val. Ek wil nie sterk wees soos die Hulk nie, want dit kan dalk verreikende gevolge vir my arme kinders hê, ek wil ook nie weet wat jy dink nie, nee asseblief eerder nie. Net kalmte van gees en innerlike vrede vir my asseblief en dankie!
Dit gaan beslis harde werk vat… want steeds laat ek mense toe om my kalmte te versteur en my vrede te steel. ‘n Keuse wat ek bewustelik of heelwaarskynlik onbewustelik maak. Wat mense sê, of soms nie sê nie. Die doen en late van ander mense wat my redeloos ontstel. Maar hoekom ontstel dit my? Maklike antwoord, want ek laat dit toe.
So dan vra ek myself af, kan God se opinie van my nie maar net die enigste een wees wat tel nie, die enigste een wat gewig dra nie? Al fokus wat daar moet wees is Jesus en wat Hy sê! Ek weet, my God, dat U die hart ondersoek en dat U opregtheid wil hê. (1 Kron. 29:17)
Die vraag is, doen en sê ek goed wat in die veilige grense is van Sy wil vir my lewe? Is ek en jy opreg in ons diepste wesens, of net daar waar ander ons kan sien? Ons moet nooit vergeet nie: Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike. (1 Sam. 16:7)
‘n Wyle terug sit en kyk ek en manlief vir kleinsus terwyl sy kompetisie boogskiet. Haar fokus is 100% op die kolskoot. Sy konsentreer net op wat voor haar is, daar waar die pyl moet tref. Niks of niemand trek haar aandag af nie, al is daar hordes mense om haar. Is dit nie die tipe fokus wat ek en jy op Jesus moet hê nie?
Kan ons die goed wat wel aandag aftrek, die vrede-stelers en die kalmte-diewe nie maar net sien vir wat dit is nie? Die vyand wat ons aandag van die kolskoot wil aftrek. Ons aandag aflei van Jesus. Die vyand steel van ons deur wat ander mense sê en doen. En meermale is dit kinders van die Here wat die grootste, seerste eina’s toedien. Mense naby jou hart, iets wat jy nie gesien kom het nie.
Ek het ook weer die afgelope week of twee besef dat jy niks wat ander mense vir jou sê persoonlik moet opneem nie, want dit wat hulle vir jou sê is eerder ‘n refleksie van wat in hul harte omgaan en lewens aangaan. Hulle persepsie van ‘n situasie maar uit die gebrokenheid van hulle eie menswees. Soos die oorbekende versie in Matteus 12:34 sê: Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Vat dit van wie dit kom… maar nie op ‘n lelike venynige manier nie, maar eerder op ‘n genadige manier. Op ‘n Jesus-manier.
Ek het ook klaar besluit, my bruggie se stellasie is in plek… ek moet nog die fynere details uitsorteer, maar daai bruggie gaan gebou kom, sodat ek oor myself en die bruggie kan kom! Raai wat? Ek vermoed wanneer jy net oor die bruggie van self kan kom gaan jy vir Jesus daar aan die anderkant van daai einste bruggie ontmoet. En kalmte en vrede sal jou porsie wees.
Ons is soms so vreesbevange bang wat ander mense van ons sê! Maar regtig wat maak dit nou ook saak? Solank jou hart rein is en die intensies waarmee jy ander behandel goed en reg is. God ken immers elke mens se hart. (1 Kon. 8:39) En luister dit beteken nie ‘n meerderwaardigheids-kompleks waar jy dink jy is altyd reg nie. Kom ons vergewe gou en vra omverskoning wanneer ons iemand te na gekom het. Nie vir ander nie, maar vir self. Enige iets om die kalmte van gees en die innerlike vrede te bewaar. Slow to anger and quick to forgive.
Ek wil myself ook nie meer voor mense verdedig nie, dit weet ek verseker. God is aan my en jou kant. Hy sal vir jou opkom, vir jou in die bresse tree, namens jou sal Hy veg! Mag die versugtinge van jou en my hart wees om soos Dawid met opregtheid te vra: Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig. (Ps. 51:12)
Martha hierdie is net wat ek nodig het om te hoor. Dankie!
Wees geseënd my vriendin!
Ek mis ons tee-drink sessies…♥
Dankie Martha…ek weet my God dat U die hart ondersoek en opregtheid wil hê. Skep in my n reine en opregte hart
God het elkeen van ons so lief,
asof daar net een van ons is
om lief te hê.♥
(Augustinus)
Liewe Martha
wow , jy skryf ongelooflik!
Aww dankie liewe Endri! Ek doen dit vir Hom… net vir Hom!♥