Kom klim op My skoot.

Kom klim op My skoot mensekind, kom sit jou kop hier teen My bors. Ek is barmhartig, genadig, lankmoedig, vol liefde en trou. (Ps. 86:15) Al is jy afgetakel na liggaam en gees, Ek is jou sterkte; jý hoort naby aan My hart. Jy behoort aan My vir altyd. (Ps. 73:26) Moenie moedeloos word nie. Uiterlik mag dit voel of jy totaal en al vergaan, maar weet dit liewe kind, innerlik word jy van dag tot dag vernuwe. (2 Kor. 4:16) Moenie onsteld wees nie, glo in My. (Joh. 14:1)

Kom klim op My skoot… daar is ware rus vir jou wat glo. (Heb. 4:3) My vrede wat alle verstand te bowe gaan sal oor jou hart en gedagtes wag hou. (Filip. 4:7) Ek gee aan jou nuwe krag wanneer jy gedaan voel, Ek maak jou wat moedeloos is weer vol moed. (Jer. 31:25) Kom kry rus vir jou gemoed, jy wat só uitgeput en oorlaai is. (Matt. 11:28)

Kom klim op My skoot en wees net by My, want Ek die Here jou God is by jou. (Sef. 3:17) Wees sterk, moenie bang wees nie, want Ek is hier. (Jes. 35:4) Ek is die rots waarnatoe jy kan vlug, waar jy altyd veilig sal wees. (Ps. 71:3) Jou lewe sal meer lig hê as die helder middag, jou donker sal lig word soos die môre. (Job 11:17)

Kom klim op My skoot uitverkore kind. Ek gee aan jou genade en eer. Ek gee aan jou goeie dinge… jy wat reg lewe. (Ps. 84:12) Jy het My guns oor jou lewe, (Spr. 3:4) jou lewe is kosbaar in My oë. (Ps. 72:14) Jý is vir My kosbaar. (Jes. 43:4) Ek wil jou seën en jou beskerm. (Num. 6:24)

Kom klim op My skoot, geliefde kind. (2 Pet. 3:1) Weet jy dat Ek jou liefhet? (Ps. 41:12) Ek noem jou My kind. (1 Joh. 3:1) Ek is liefde. (1 Joh. 4:16) Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, ken nie volmaakte liefde nie. Liewe liewe kind, My liefde vir jou is volmaak. (1 Joh. 4:18) Ek het jou nog altyd liefgehad, daarom is Ek geduldig met jou…wag Ek vir jou. (Jer. 31:3)

Bedaar liewe kind, bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.  (Ps. 46:11) Ek, die Here, die Almagtige, is by jou. (Ps. 46:8) Laat dit vir jou ‘n troos wees…My beloftes hou jou aan die lewe. (Ps. 119:50) Ek help jou wanneer jy struikel en val. (Ps. 121:3) Kom dan met vrymoedigheid na My troon van genade. (Heb. 4:16) Kom klim op My skoot liefste kind na aan My hart. Kom klim op My skoot, want Ek is jou Beskermer. Ek sluimer nie. Ek slaap nie. (Ps. 121:4)

Kom klim op My skoot en haal ‘n slag diep asem. Het Ek jou nie gemaak nie, het Ek die Almagtige nie asem in jou in geblaas nie? (Job 33:4) Laat My vrede ‘n rusplek in jou hart vind. (Kol. 3:15) Ek seën jou met vrede en voorspoed… haal asem liewe kind. (Jes. 26:3)

6 Replies to “Kom klim op My skoot.”

    1. 💙 Dankie tannie Dalene.
      God verwag geen indrukwekkende werke van ons nie, ook nie oordrewe opofferings of asketiese afsondering van die wereld nie. Hy verwag net dat ons Hom kinderlik sal vertrou. John Baillie

  1. Mooi boodskap!
    Dink so baie aan toe ek klein was en ek op my pa se skoot kon sit en gesels. Hwt al baie gewens ek kan so op God se skoot ook sit en met Hom gesels.
    Net gesels en niks vra nie… Net rustig wees en dankie se!
    Dankie M❤️

  2. He comes and restores & refresh your soul…. All you have to do is sit by Him and spend time in His Presence. Dis rerig die beste plek om te wees. Vrede en liefde vir julle almal 💜

    1. 💛 Daughter of God, know that you were formed by God’s hands, dreamed up in His heart, and placed in this world for a purpose. (The soul doctor)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *