Slimkoppe en Rigtings.

In Graad 1 het ousus blinkoog by die huis aangekom en verklaar: “Ek gaan eendag ‘n Graad 1 juffrou word.” So groot was die indruk wat haar graad 1 Juffrou. op haar gemaak het dat sy glad ‘n babapop na haar vernoem het. Groot was die hartseer en verlies einde van die jaar toe dit tyd geword het vir aanskuif.

Graad 2 begin so bietjie met rukke en stote, want ousus verlang na Graad 1 en haar Juffrou. Dit vat ook toe nie baie lank nie, toe kom ousus by die huis en verklaar: “Nou gaan ek ‘n graad 2 juffrou word.” Elke dag in haar kosblikkie het ek vir haar ‘n versie ingesit wat sy en die juffrou net voor pouse sou saam lees. Die graad 2 juffrou het diep spore in haar klein dogtertjie hartjie getrap.

In Graad 3 tref ons toe ‘n juffrou wat bietjie anders as die normale is. Sy het ‘n unieke, dog anderse tipe persoonlikheid. Ousus sukkel toe ‘n hele kwartaal om by die “nuwe normaal en juffrou aan te pas”. Nog voor die einde van die tweede kwartaal het sy en die juffrou ‘n lekker band gevorm en kosbare lessies is geleer. Dis ook mos okay om anders te wees, en hoe vroeër jy bewus raak van die andersheid en uniekheid van mense, hoe beter. Aan die einde van die jaar verklaar ousus. “Ek gaan die beste graad 3 juffrou wees.

Graad 4 begin ons in ‘n splinternuwe skool en provinsie. Almal struikel-val so bietjie in die jaar om voete te vind. Ousus word geseën met ‘n mooie blondekop juffrou met ‘n passie vir Wiskunde, so erg dat voor die einde van daardie jaar het ousus by haar aangesteek. Nou eet en drink en slaap sy Wiskunde. Sy verklaar iewers sommer vroeg in die jaar. “Ek gaan ‘n Gr. 4-juffrou word wat wiskunde gee.”

Dit raak toe die droom, arme kleinsus moes elke vakansie skool-skool speel, soms moet ousus haar omkoop met beloftes van Disney flieks saam kyk, soms sjokolade.

So beweeg ons aan deur die res van die skoolloopbaan, maar die droom bly tot hier iewers in Graad 11. Wanneer mense vra wat gaan jy na skool doen? Dan antwoord ousus trots, sy wil Juffrou word. En hier iewers begin sy twyfel, want mense sê goed soos: ‘ jy is hopeloos te slim vir daardie rigting’, ‘sjoe mens kan nie jou breins mors op so rigting nie’, en iewers langs die pad verloor ousus haar passie en haar droom en sy begin die leuens van mense en die wêreld glo.

In die begin van Matriek net so voor die Universiteit aansoeke oopmaak het ousus nog geen idee wat dit is wat sy behoort te gaan studeer nie. Ons vat vir ousus na profesionele mense wat kan raad gee. En saam-saam word daar besluit op ingenieurswese. So gesê, so gedaan. Twee maande in die nuwe jaar  is ousus sielsongelukkig, moeg geprobeer om iewers in te pas waar sy nie regtig hoort nie.

Kan jy onthou ons kinders het toe hulle klein-klein was met ‘n bal gespeel waarin hulle die verskillende vormpies kon inpas. ‘n Sirkel, driehoek, vierkant, sterretjie ens. Dan het ons kliphard geskree en hande geklap as hulle die regte vormpie by die regte gaatjie indruk.

Soms probeer ons ook om in ‘n vormpie in te pas waarvoor ons nie geskape is nie, en dit maak ons moeg, en depressief en hartseer, want probeer soos ons wil is dit net eenvoudig nie moontlik nie. Jy kan nie ‘n driehoek by ‘n sirkel se gaatjie inforseer nie. Of die vormpie of die bal gaan breek…

Vriendin, so vandag met alles wat ons deur is die afgelope maande, wil ek groot asb. vra, nee eintlik pleit by jou, as jy ‘n kind het wat hard werk en goed doen op skool, maak hulle ore toe vir die leuens van die wêreld. Hulle hoor oor en oor jy kan enige iets word wat jy wil… en almal verwag van ‘n kind wat goed doen om ‘n riller rigting soos ingenieurswese of medies te studeer. Ongeag of die goeie Vader hulle geskape het vir die rigting, al dan nie.

As jou kind nie mooi weet wat om te doen die jaar na skool nie gee hulle die grasie van ‘n gapings-jaar. Ons het nie ‘n gapings-jaar gekies nie, ousus was nie te vinde daarvoor nie. Nou is daar ‘n gapings-jaar of ons dit gekies het of nie. Ek het besluit dit is ‘n Genade-jaar. En maak nie saak hoe moeilik en ongelooflik stresvol die eerste paar maande van die jaar was nie, berus ek in God se grootheid en goedheid. Ek weet daar is ‘n ongelooflike plan vir ousus se lewe in plek, daarom kan ons as ouers nie bly probeer verander aan die doel waarvolgens ons kindertjies geskape is nie. Ek weet wat Ek vir jou beplan, sê die Here: Voorspoed en nie teenspoed nie, Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! (Jer. 29:11)

Vriendin, my droom en my gebed vir my girls is eenvoudig, ek wil hê hulle moet okay en gelukkig wees. Ek wil hê hulle moet eendag gelukkig getroud wees. Dat hulle sal vreugde vind in die rigting wat hulle kies. Dat hulle naby Vader se hart sal leef en dat hulle tweetjies hulle skeppingsdoel sal ontdek en voluit sal leef.

Ons as ouers het soms nodig om te stop, asem te haal en net bietjie die besigheid uit ‘n ander hoek te bekyk. Ons moet bietjie met ‘n hemelse perspektief kyk na alles om ons. Sukses word nie gemeet aan watter hoogs betaalde werk jy eendag kan of gaan verrig, of die titel op die deur van die hoekkantoor nie, hoe hoog jy op die korporatiewe leer kan klim sonder om jouself disnis te val nie. Sukses word gemeet aan die verskil wat jy kan maak in doodgewone mense se lewens. Sukses is om gelukkig en tevrede te wees, om te blom daar waar God jou geplant het.

2 Replies to “Slimkoppe en Rigtings.”

    1. Liewe Bonita,
      Die Here sal jou seën en jou behoed;
      die Here sal Sy aangesig
      oor jou laat skyn en jou
      genadig wees;
      die Here sal Sy aangesig
      oor jou verhef en aan jou
      vrede gee.
      Numeri 6:24-26 (1953)

Comments are closed.