Oggend en Aand Praatjies.

Woorde is nie net woorde nie. En jy kry baie woorde… Woorde wat heel, woorde wat breek en dan is daar net woorde, woorde wat net die spasies opvul. Net sommer woorde. Toe kom ek op die versie af … ‘n Gelowige se woorde is soos ‘n fontein. Dit bemoedig mense, troos hulle, wys hulle die regte pad. (Spr. 18:4 Die Boodskap) Miskien moet ek en jy nuut dink oor woorde, want ‘n gelowige se woorde moet soos ‘n fontein wees en moet bemoedig, vertroos en rigting aanwys.

Die fontein waaruit die woorde spruit dui die toestand van jou hart aan. As jou gedagtes vol negatiwiteit is sal jou woorde negatief wees. As jou hart vol vrede is sal jou woorde ooreenstemmend wees, want waarvan die hart vol is loop die mond van oor.

Ek en jy moet ophou om woorde roekeloos te gebruik, sonder om te dink, net te sê. Baie keer as ek iets sê wat nie lewe spreek nie, iets oor iemand of ‘n situasie uitspreek en ek hoor wat ek sê dan sê ek vinnig, ek vat dit terug. Ons besef nie die krag van woorde nie. Die tong het mag oor dood en lewe. (Spr. 18:21)

Ons woorde stem soms nie met ons doen ooreen nie. My moeder sê altyd jou oggend en jou aand praatjies moet ooreenstem. Al wat dan gebeur is die woorde uit jou mond is nie geloofwaardig nie. Ek en die girls was ‘n hele ruk terug by ‘n praatjie. Ek het nie die spreker geken nie, maar die girls wel. Halfpad deur die praatjie fluister ousus vir my dit wat sy sê en wie sy is stem glad nie ooreen nie. O aarde!

Wanneer ons sê en ons doen nie ooreenstem nie raak dit ‘n probleem. Wat moet die ander persoon dan glo? Jou doen of jou woorde? Of kies mens maar net die beste tussen die doen en die sê? As jou oggend en jou aandpraatjies nie ooreenstem nie, as jou doen en jou woorde nie in lyn is nie, gaan dit wat jy sê geen impak hê nie, dit doen skade aan mense en die Koninkryk. Ek het op hierdie waarskuwing afgekom en ek dink ek en jy moet dit ter harte neem: As iemand dink hy is godsdienstig maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos. (Jak.1:26)

Die probleem met my en jou tong is hy is altyd beskikbaar… Die ander probleem ons gebruik presies dieselfde tong om te skel en te aanbid. Uit dieselfde tong kom lof en vloek. (Jak. 3:9) Ai reuse probleem! Ons dink te stadig en praat te vinnig en dan wil ons agterna ons tong afbyt…

“Be careful with your words. Once they are said, they can be only forgiven, Not forgotten.”(Anonymous)

‘n Interessante feit is ons woorde is soos klippe, meer as bereid is om ander te stenig, dis nie die interessante deel nie, want die ander waarvan ek praat is meermale die mense na aan ons hart. Mense wat ons nie ken nie wat ons kwaad maak, kry meermale die besadigde jy, nie die een wat skel en skree nie. Woorde maak of breek. Dit tel vir almal, jou man en kinders ingesluit. Mense kan jaar in en jaar uit loop met wonde wat deur woorde veroorsaak is. Die een wat die woorde gesê het lankal vergeet wat gesê is maar die aanhoorder nooit nie. Woorde op papier kan uitgevee word, woorde wat op harte val breek en vernietig links en regs.

Ek het op ‘n Dinsdag gewoonlik aflos Hip Hop klasse gery voor die ‘groot verandering’, ek en ousus het gewoonlik vir kleinsus gewag, ek vra vir haar toe sy moet bietjie haar wysheid deel oor woorde. Die arme ding was op daardie stadium gedaan aan Skeinat geleer, brein was al soos ‘n sif, maar sy kon darem met die stukkie wysheid vorendag kom: “Dis nie wat jy sê nie, dis hoe jy dit sê, liggaamstaal spreek baie harder as woorde.”

Op pad kuns toe van die Hip Hop af vra ek vir kleinsus om haar 1c gedagte by te voeg oor woorde. Sy sê sy weet nou nie eintlik nie maar sê toe: “Ek dink mens moet altyd aan die woord genade dink voor jy praat.” Dis diep vir ‘n jongmeisie hart. So in die ry sê ek: “Skryf dit sommer op die agterkant van my petrol slippie neer dat ek nou nie vergeet nie… van genade en woorde nie.”

“Kind words can be short and easy to speak, but their echoes are truly endless.” (Mother Teresa)

 Ek moet bietjie harder werk aan my WOORDE, ek en ousus het sommer gesit in en dink waarvoor WOORDE sou kon staan.

  • W~Waarheid.
  • O~Opreg.
  • O~Oordeelkundig.
  • R~Respekvol.
  • D~Deernisvol.
  • E~Eerlik

Ons kon nie lekker saam ooreenkom oor die eerlik nie, want soms kan goed bedoelde eerlike woorde bitter seer maak, ons kon wel saamstem dat as ons die akroniem net kan gebruik as dit in absolute liefde geskied en sit kleinsus se genade by dan het jy ‘n wenresep!

‘n Sagte antwoord laat woede bedaar. (Spr. 15:1) Kalmerende woorde bring lewe. (Spr. 15:4) Moet van niemand kwaadpraat nie en rusie soek nie. Wees inskiklik en bedagsaam. (Titus 3:2)

Ek los jou vandag met hierdie stukkie wysheid:

“Words can inspire and words can destroy. Choose yours well!” (Anonymous)

2 Replies to “Oggend en Aand Praatjies.”

  1. Elke woord of sinsnede is wonderlik
    As alle mense net n paar selfs al is dit een in sy lewe uit leef. Agter kom iets in sy lewe is anders sal die wereld n besondere plek wees. Liefde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *