Daar is ‘n aanhaling wat sê, as jy lag, lag die wêreld saam met jou, wanneer jy huil, huil jy alleen. Ek dink daar steek miskien ‘n bietjie waarheid in. Mense kan jou dalk in die steek laat. Maar God sien elke traan raak: You’ve kept track of all my wandering and my weeping. You’ve stored my many tears in your bottle-not one will be lost. For they are all recorded in your book of remembrance. (Ps. 56:8 TPT) Mens bêre en onthou nie onbelangrike goed nie. Jou trane is kosbaar in die oë van jou Here. Jou trane is ‘n gebed wat reguit hemel toe gaan.’n Gebed sonder woorde. ‘n Gebed van die hart.
Ons almal gaan deur tye wat bietjie moeiliker is as ander tye, ons almal ly soms so bietjie in stilte. Die lewe is nie altyd ‘n lied nie, soms kruip daar ‘n paar vals note en melodieë in. Dit kan onmoontlik nie altyd goed gaan met my en jou aan die kant van die hemel nie.
Wanneer die lewe jou ‘n paar wilde klappe uitdeel en jou aan die kraag gryp en jou onderstebo pluk, weet net die volgende met sekerheid. God is goed… altyd. Hy is vir jou en nie teen jou nie. Hy is jou rots. Hy is standvastig. Hy is altyd dieselfde, gister, vandag, môre.
Ek en jy is soms vinnig om te vra: Waar was God? Toe ek my werk verloor het, toe ek iemand kosbaarder as goud aan die dood moes afstaan, toe ek deur die dal van doodskaduwee moes loop… ai man weet jy wat ons almal vra soms die moeilike vrae. En ons mag maar, ons kan maar. God is groter as ‘n simpel vraag.
Die wêreld is stukkend, gebroke… ek en jy is nog nie in die hemel nie… wil jy weet waar God was in in die diepste, seerste oomblikke van jou lewe? By jou, naby jou hart… God is ‘n naby God nie ‘n ver God wat in die hemel iewers is nie. Hoor wat God vandag vir jou sê: “Ek is oral in die hemel en op die aarde.” (Jer. 23:23) Ek is altyd by jou, omdat Ek by jou is sal jy nie struikel nie. (Ps. 16:8)
Ek dink nie ek en jy hoef of moet in stilte ly nie. Ons moet ons bondeltjies seerkry en swaarkry mooi netjies bymekaar maak en by die voete van ons Vader gaan los. Nader tot God en Hy sal tot jou nader. (Jak. 4:8) Ons moet bietjie by Hom gaan sit en net wees tot die pyn en lyding draagliker raak. Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. (Ps. 73:28) Naby Sy hart, waar jy altyd veilig en geborge sal wees. Steeds naderby…
Ek en jy is kinders van die Almagtige God, moet ons regtig swaarky? Die Seun van God is nie gespaar en beskerm van swaarkry nie. Jesus se pad van lyding was ‘n alleen-pad. Sy pad was gevul met bloed en swaarkry, van Getsemane tot Golgotha. Maar weet jy wat my liewe vriendin, my en jou lydingspad op aarde is nimmer as nooit alleen nie! Ek en jy stap nie die swaarkry-pad meer alleen nie. Nee Jesus kom vat jou hand, en stap saam met jou. Stap jou vooruit… Neem jou kruis op en volg Hom! (Matt. 16:24) Die tyd is nou dat ek en jy ons vlees en eie wil op die altaar moet neerlê!
Maar dit is nie net die Skepping wat swaarkry nie. Ons kry ook swaar. (Rom. 8: 23, Die Boodskap) Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. (2 Kor. 4:16-17)
Wanneer swaarkry tye soos ‘n swart tonnel om my en jou vou, dan hou ons vas aan elke belofte in God se Woord. Aan Jesus, wat self die Woord is. Laat ons elke las afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en die Voleinder van die geloof. (Heb. 12:1-2)
Hoe oorleef ek en jy hierdie gebroke wêreld? Ek en jy kyk diep in die oë van Jesus. En ons kyk vir geen oomblik weg nie. Ons vestig ons hoop, drome en lewe op Hom. Die oomblik wat Petrus sy oë van Jesus afgeneem het, het hy begin sink. Jesus het nie kopskuddend gekyk hoe Petrus sink tot op die bodem van die meer nie. Nee! Hy het Sy hand uitgesteek en Petrus gehelp. Hoekom sal Hy nie Sy arm uitstrek na jou nie my liewe vriendin?
My liefste kind, Ek is jou skuilplek. My arms is altyd onder jou. (Deut. 33:27) My arm is nie te kort om jou te help nie, en My oor is nie te doof om te hoor nie. (Jes. 59:1) Kom na My toe… nog nader… (Matt. 11:28) My krag, My mag en My teenwoordigheid is by jou, want Ek het jou nog altyd liefgehad. (Ps. 44:4) Liewe kind, verstaan jy steeds nie? My Genade is vir jou GENOEG! My krag in jou kom juis tot volle werking wanneer jy swak is… wanneer jy in stilte ly… (2 Kor. 12:9)
Baie pragtig en inspererend baie dankie
Dankie liewe Martha vir die pragtige boodskap.van hoop en vertroue..
Wow……dankie vir hierdie awesome pitkos Martha.