As ons regtig eerlik is met mekaar, as daar nou een spesie is wat jou nederig hou met jou voete stewig geplant op moeder aarde dan is dit beslis ‘n kleuter. Net soos jy dink jy het die ma-ding nou lekker onder die knie, net soos jy op kom vir asem, dan het hulle ‘n splinternuwe toertjie in die mou…vertrou gerus ‘n kleuter om jou op jou tone te hou. Veral binne die Spar, ek weet nie wat is dit met ‘n Spar nie!
My kinders het so baie van mekaar verskil. Wat vir ousus gewerk het, het glad nie vir kleinsus gewerk nie. Verskillende boompies en temperamente maak dat ‘n ‘een grootte pas almal’ benadering hoegenaamd nie werk nie, maar daar is tog ‘n paar goedjies wat ononderhandelbaar is as jy jou kleuter in een stuk wil groot kry.
Die eerste en belangrikste les is: Respek. Respek teenoor myself en my lyfie en respek vir en teenoor alle mense. Om vir hulle respek te leer is darem nie te ingewikkeld nie. Apie sien, apie doen. As jy alle mense met liefde, geduld en genade hanteer, sal hulle dit verseker ook doen. Wat jy doen is veel belangriker as dit wat jy sê.
Les twee klink baie soos Les een. Respek vir goed. Jou eie goed, my goed en ander se goed. Dis ‘n beginsel wat mens sommer van kleintyd af vasmaak.
Min, verstaanbare reëls werk by verre beter as bladsye en bladsye vol reëls. Kleuters hou van reëls. Dan weet hulle presies wat is toelaatbaar en wat nie. Daar is veiligheid binne die perke van reëls. Dan is daar min spasie vir stry en onderhandeling. Les nommer drie. Reëls laat kleuters veilig en geborge voel.
Les nommer vier het alles met sielkunde te doen… Die slim mense, wat glo aan sielkundige grootmaak van kleuters, sê jy moet vir jou kinders keuses gee, opsies gee. En regtig, ek stem 100% saam- so hier is die keuse: doen wat ek sê-vra of dra die gevolge- dis ‘n keuse. Kom ons tel gou die speelgoed op… is nie ‘n onderhandeling nie, dis ‘n opdrag. En verkeerd kies gaan hulle verkeerd kies, en die gevolge moet hulle dra, want dis hoe hulle leer!
Jou ja moet ja wees en jou nee nee. Altyd. Jy kan nie vanaand raas, straf en baklei oor vuil voete op die bank en môreaand is dit maar okay want dit is darem Vrydagaand… nee is nee… altyd… nie onderhandelbaar… En vir ingeval jy gewonder het dis ‘n Bybelse beginsel. Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. (Matt. 5:37) Les nommer vyf. Ja beteken ja en nee is altyd nee. As nee gereeld ja word dan is die woordjie NEE nie meer geloofwaardig nie, en geen kleuter gaan op so ‘n amper-nee reageer nie.
Les nommer ses is magies. Gebruik die towerwoorde… asseblief en dankie. Altyd. En dit gaan dalk vra dat jy 500 keer moet sê: “Dankie mamma, asseblief mamma…” “Hoe sê mens?” Daar is min dinge so mooi soos ‘n kleuter met mooi maniere.
Die volgende les is alles oor positiewe versterking. Woorde wat opbou en prys het by verre ‘n beter effek as dreigemente wat selde uitgevoer word. Fokus op dit wat hulle reg en goed doen. Dit sal klein kindergesiggies laat straal en kleuterhartjies laat blom. Dit beteken nie jy ignoreer stoute, aandagsoekende gedrag nie. Jy hanteer dit, maar die positiewe woorde per dag moet die negatiewe woorde oorskrei.
Leer hulle sommer van baie klein af om te deel, speelgoed, eetgoed, lekkergoed, dit maak die lewe sommer net makliker as jy les nommer ag al sommer klein-klein onder die knie kan kry. ‘Myne’ is ‘n woord wat hulle liefs nie voor of na elke sin moet gebruik nie. Dit maak hulle klein selfsugtige wesentjies wat op alles en almal jaloers is.
Les nommer amper laaste is om nooit, soos in glad nie, die volgende woorde te gebruik nie. “As jy dit of dat doen of nie doen nie maak jy Liewe Jesus se hartjie baie seer.” Moet nie Jesus in jou dissiplinne prosesse intrek nie. Behalwe dat hulle ‘n woes skewe beeld kry van Jesus, glo hulle dat Jesus hulle minder liefhet elke keer as hulle stout is of ietsie verkeerd doen. Wat van. “Mamma is baie lief vir jou, maar dit wat jy gedoen het was nie mooi nie.”
Die heel laaste lessie is die belangrikste, leer klein-klein jou pikkewyn van Jesus. Lees die Bybelstories, praat van Hom asof Hy daar langs jou staan, want Hy doen… Vat daai klein mensie kerk toe. (Ek weet die moederskamer is nou nie die lekkerste plek nie, maar weet jy wat, voor jy jou oge uitveë, is daai seisoen van jou lewe ook verby en vergete.)
Onthou altyd hierdie kosbare klein woeste kleutertjie van jou word net aan jou geleen, sy behoort nie aan jou nie. Sy behoort aan die God van die hemel en aarde. Die belangrikste werk van ‘n mamma is om die pad na God en die hemel van kleins af duidelik te maak. Sodat wanneer hulle groot is dit vir hulle moeilik is om van die pad af te dwaal en verlore te raak…
Die mense het ook kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Toe die dissipels dit sien, het hulle met die mense daaroor geraas. MAAR Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.” (Luk. 18:15-16)