Kleinsus kom die anderdag vroeg-vroeg in die kamer in met ‘n bottel lyfroom wat haar eindeloos frustreer. Die probleem is daar is blinkertjies in die room en elke keer as sy die room aansmeer dan loop en krap sy blinkertjies oral af… Ek sê toe: “Ek ruil jou, gee maar vir my die Lama blinkertjie room, jy kan my lekker ruik Nivea roompie vat.” Dis mos wat ‘n ma doen, ons is probleem oplossers van formaat.
Kleinsus is ‘happy’, frustrasie en ongelukkigheid is afgeweer! So sit ek die blinkertjie room aan, maar ek het nie besef dis so blinkertjierig nie, ek vat aan my gesig, dis op die motor se sitplek, bene, arms… oral, op ‘n manier het van die blinkertjies tot op manlief se gesig beland… (ek weet glad nie hoe dit gebeur het nie!), maar dis nie ‘n shimmer nie, dis blink… silwer blink. Ousus sê nogals vir manlief hy beter die blinkertjies afhaal voor sy video call, behalwe as hy nie omgee om FA-BU-LOUS te lyk nie.
Dit lyk of iemand ‘n hele buis blinkertjies in die bottel room omgedop het. As dit Hansie en Grietjie se storie was sou jy my sekerlik die hele dag kon agtervolg… volg net die blink spoor…
Vriendin en soms gebeur dit in sekere seisoene van ons lewens dat ons nie in staat is om ‘n blinkertjie spoor te laat nie, daar is net eenvoudig nie genoeg blink oor om uit te deel nie, en as jy soms die spoor verloor is dit okay… Jesus sê: “Ek is die Lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die Lig hê wat lewe gee.” (Joh. 8:12)
Al sit jy soms in die donker, die Here is jou lig. (Miga 7:8) Soms kom die donker-tye, tye wat ons ver voel van ons Verlosser en Vriend. Tye wat ons sukkel om die lig te sien en te volg. Tye wat die blinkertjie room agtertoe geskuif word in die kas, en dis okay vriendin, want wanneer jou botteltjie agtertoe geskuif word, dan kan jy my blinkertjie spoor volg en wanneer my blink op is volg ek weer jou blink spoortjies!
En elkeen van ons is geroep om ligdraers te wees, nie ons eie liggie te skyn nie want dan sou die goeie Vader ons almal vuurvliegies gemaak het. Nee, ons moet Sy lig draers wees, Sy lig deel en uitdeel vir die om ons. “Julle is die lig vir die wêreld” (Matt. 5:14) Dis ‘n julle-ding, nie ‘n jy-ding nie. Ons is beter as ek.
Vriendin, maar tog leer die blinkertjie room my ‘n groot les, want is dit nie wat ons daagliks moet doen nie, soos die blinkertjies oral afval en bly lê, so moet ons vir ander Jesus wees, Sy Lig, Liefde en Vrede oral waar ons gaan agterlaat. Ek besef ook die oggend wat ek nie die blinkertjie room aansmeer nie gaan ek nie blinkertjies loop en afgee die hele dag nie, onwetend… Ja, ja ek weet dis nie ‘rocket science’ nie, maar ek en jy kan slegs Jesus afgee, Jesus wees vir ander as ons Jesus op die voorgronde van ons harte het.
Jare terug het ek saam met ‘n dame gewerk wat graag gepreek het, sy het met die Bybel onder die arm rondgeloop… spreekwoordelik. Die probleem was dit het gevoel of sy jou disnis klap oor die kop met haar goed bedoelde, onwelkome preektjies. Ons het geleer om te ‘duck en te dive’. Want anders as blinkertjie room wat net so elke nou en dan ‘n blinkertjie laat val, het dit gevoel of sy die botteltjie blinkertjies op jou kop omdop. Ons moet waak daarteen, minder woorde, meer liefde en genade wys teenoor ander. Ons moet die Vader se hart vir ander wys, soms sonder woorde.
Bietjie blink, bietjie lig, bietjie liefde los oral waar ons gaan. Maar net genoeg nie te veel nie… anders kom ons prekerig en alwetend voor. Hy het ons uit die duisternis geroep na Sy wonderbare lig. (1 Pet. 2:9) Ek en jy ‘n kind van die LIG! Blinkertjie draers van Sy liefde, vrede en genade.
In Lukas 11 vers 35 is daar ‘n waarskuwing wat ek en jy defnitief ter harte moet neem. Pas dus op dat die lig in jou nie donker is nie. (Luk. 11:35) Enige vorm van donker sal nooit ooit lig wees nie!
‘n Lamp gee lig, Sy Woord is die lamp wat my en jou die weg wys. (Ps. 119:105), maar onthou vriendin vir Hom wat Lig is, my en jou Lig is, vir Hom is selfs die duisternis nie donker nie. (Ps. 139:12) U, Here, laat my lamp helder skyn; My God gee lig as dit donker is om my. (Ps. 18:29) Sy perfekte liefde verdryf elke stukkie donker in die verste hoekies van ons harte.
Donkerte het ‘n geneigdheid om vrees te veroorsaak, dis die nie-sien, die nie-weet wat veroorsaak dat donkerte ons bang maak. As ons net onsselwer kan oortuig dat die Here is ons lig en ons redder, vir wie sou ons bang wees? Die Here is ons toevlug, vir wie sou ons vrees? (Ps. 27:1)
Awesome 😀🙏❤️