Die Lewensredder.

Ek het die vakansie amper so ‘n noue ontkomingtjie gehad wat ek amper gedink het ek gaan die tydelike met die ewige verwissel…

Laat ek die storie maar by die oggend begin… die Ingelsman sê: “Words are cheap” en “Practice what you preach”. As jy so afkyk van Hartenbos se kant af en jy kyk Diaz se kant toe is daar so struktuur wat soos ‘n brug lyk (dit is nie ‘n brug nie vir in geval jy wonder, ek het gaan kyk, dis meer soos ‘n ou pyplyn struktuur)- elk geval ons gesinnetjie met aanhangsel en al stap een oggend vroeg strand af om ondersoek te gaan instel…

Die afgelope paar dae het daar darem verskriklik baie mense verdrink veral kinders… dit breek my hart elke keer as ek dit hoor. Dis net te erg vir woorde… Jonge kinders en tieners wat nog op die drumpel staan van die lewe wat net weggeruk word…

So preek ek die hele pad terug vir kleinsus, as jy in ‘n sleurstroom beland moet jy heel eerste glad nie paniekerig raak nie, moenie spoeg en spartel nie, dryf eerder net rustig, moenie probeer uitswem nie want dis hoe mense verdrink, hulle raak net eenvoudig so moeg dat hulle nie meer kan swem nie, en jy weet mos Jesus is altyd by jou so moet nie te veel stres oor al die haaie nie… (want dis haar grootste bekommernis- sy wil nie graag haai kos word nie.)

Ons kom terug by die kampplek trek swembroeke aan, ons gaan nou swem… eerste keer vir my en manlief, die see lyk nogal ongeskik, maar luister ek het as jong dogtertjie in die see leer swem, vreesloos diep, ek kán swem… ons is nie eers 5 minute in die see nie toe beland ek tussen die vlaggies in ‘n sleurstroom en daar gaat ek, vinnig kan ek nie staan nie, en wat doen ek, ek raak paniekerig en probeer met mag en krag uitswem en die ergste van alles ek vergeet skoon Hy is altyd by my!!  Ja nee… as mens goeie raad kan uitdink en gee, moet mens dit seker kan volg ook nê.

Gelukkig sien my sterk lang man ek is in die moeilikheid en na ‘n gespook en gesukkel kom ek uit, en toe klim ek sommer ook uit… genoeg vir ‘n eerste swem… en so met die uitklim raas ek sommer met ousus wat ook probeer uithelp het, want my ander gepreek vroeg in die vakansie was… as jy iemand in die moeilikheid sien maak jy alarm en jy help net as jy ‘n boogie board het, anders soek jy moeilikheid. Toe moet sy ook uitgehelp word, met die uitklim besef ek die blonde lewensredder was na ons kant toe op pad met die rooi boei, dink nou net die jonge man moet my tannie-lyf daar uitsleep… nee o aarde ek skaam my dood.

Nietemin ek het groot geskrik en deur die groot skrik praat God kliphard met my… soms in die lewe beland ons in stormagtige waters en soms in ‘n sleurstroom, en ons raak paniekerig, moedeloos, opstandig, ons voel alleen… so bitterlik alleen.  Soms begin ons so stukkie verdrink, gee so klein bietjie moed op … en soms stuur Hy in Sy alwysheid die regte mense oor my en jou pad om te help, om te red, regop te help, te ondersteun.

Meermale liewe vriendin, daag die God van die hemel en aarde op, in tyd… Dan gooi die Lewensredder die boei na jou uit en jy kan maar net vashou en ontspan… en met liefde en genade trek Hy jou nader aan die sand en Sy hart. Met liefdevolle hande pluk Hy jou uit die sleurstrome en maalstrome van die lewe. Dan blaas Hy nuwe lewensasem in jou longe en jy kan weer opstaan en met hernude krag aangaan…

Die Lewensredder se oë is altyd op jou, Hy jou Vader wat in die hemel is gooi die Boei na jou uit, Sy Seun. Jy kan maar net vashou aan die Hoop en die Verlossing. Laat Sy genade en liefde oor jou spoel, Sy nuwe asem jou longe vul.

Miskien bevind jy jou vandag, op hierdie oomblik in ‘n sleurstroom en ai jy is net moeg van stroom-op swem, moeg van probeer oorleef elke sekonde van elke dag. Laat Sy stem en beloftes jou opnuut versterk en ophelp. Laat Hom toe om jou te red en te dra vir solank dit nodig is tot jy weer op jou eie bene kan staan, op droë grond.

“Moenie bang wees nie my liefste kind, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, MET MY EIE HAND RED EK JOU. (Jes. 41:10) Selfs al gaan jy deur donker dieptes, hoef jy nie bang te wees nie, want EK IS BY JOU. In MY HANDE IS JY VEILIG. (Ps. 23:4) Wanneer jy uitroep: ‘Red my, o God, want die water het tot by my keel gekom. Ek het in diep waters beland waarin die stroom my meegesleur het…’ (Ps. 69:2-3)

Moenie vrees nie liefste kind, Ek is goed vir wie op My BLY HOOP, vir die mens wat na My wil vra, dit is goed om geduldig te wag op My hulp. (Klaagliedere 3) Die Gees van God het my gemaak, die asem van die Almagtige het my die lewe gegee. (Job 33:4)

2 Replies to “Die Lewensredder.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *