Ag Nee Wat! Dis nie só Erg nie!

Om ‘n tiener ma te wees is ‘n groot voorreg, maar dit is ‘n groter verantwoordelikheid en die grootste uitdaging ooit. En ek praat nie van uitdagende tieners met stink houdings en gevaarlike monde nie, ek praat van die doodnormale tipe. Die tipe wat hier in my huis rondslinger.

‘n Mens leer mos maar vaardighede aan soos hulle groot raak en jy groei in jou rol as ma. Dit gebeur nie oornag nie, en dit gaan gepaard met foute, tweede kanse en weer probeer. Van opgee op tieners is daar egter geen sprake nie.

Een van die frases wat ek geleer het jy nooit op tieners gebruik nie is… “Ag nee wat sussie, dit is nie so erg nie.” My ouma wat by Liewe Jesus is, het altyd gesê die eerste of was dit die tweede wêreld oorlog was baie erger? Nietemin, dis betekenlose woorde. Dit klink miskien nie vir jou so vreeslik erg nie, maar jy moet verstaan jou tieners se wêreld bestaan meermale uit “me, myself and I”. Klein-klein wêreldjie waarin hulle leef en wat vir jou soos ‘n klein probleempie lyk, lyk vir hulle soos ‘n reusagtige, onoorkomlike probleem.

Daar is nog so frase wat ek dink hulle hoef nooit te hoor nie, en mind you, hierdie paar woordjies glip so maklik uit en sê só lekker… Dis die woorde wat sê: “Ek het jou mos gesê…” Hierdie woorde is nooit deel van die oplossing nie, dit raak eerder deel van die probleem… Hoe so? Dink jy jou tienerkind gaan volgende keer na jou toe kom vir bystand en hulp? Ek dink nie so nie…

So as jy nie mag sê ‘kom oor jouself’ of ‘dit is nie so erg nie’.  Wat op dees aarde mag jy dan sê? Wat van: “Mamma kan sien hierdie situasie/probleem/vriendin het jou nou baie onstel. Ek is jammer daaroor.” Ek kry nie ‘n mooi afrikaanse woorde vir ‘validate’ nie… ‘validate’ net daai groot emosies in jou tiener se hart dat hulle tog net nie so stoksielalleen voel in hulle eie klein wêreldjie nie.

Met tieners se emosies voel dit vir my soms soos ‘n alles of niks situasie… altyd. Almal haat my, niemand is lief vir my nie, alles loop skeef, niks maak sin nie. En hoor hier, hulle soek nie jou oplossings nie, want jou oplossings kom uit die oude doos en gaan nie werk nie, nooit nie! Eintlik soek hulle net jou oor, en jou aandag, hulle wil net weet, my mamma is aan my kant… altyd aan my kant. Miskien as jy mooi luister en mooi die te groot emosies validate, dan vra hulle tog, wat sal mamma doen, wat dink mamma? Klein oorwinninkies…

In elk geval ek het al gesien, as ek my goed bedoelde opinies begin gee dan trek die gordyntjie toe, ligte is aan maar niemand is by die huis nie. Jy mors jou kosbare asem, jy kan maar ophou! Ag weet jy wat vriendin, as ons mooi terug dink en onthou dan het ons ook nie graag na ons ouers se raad geluister nie. Dit is maar wat dit is! Hulle was ‘oud’ en ‘hulle sal tog nie verstaan nie’!

Wat kan jy doen? Leef met oop oë en ore en met oop arms, dat boeta weet as ek nodig het om te praat sal my ma die tyd hê om te luister, as sussa se emosies oor haar wange loop dan weet sy mamma se arms is oop en gewillig vir vashou met ‘n tissue of twee byderhand. Wees net daar!

Wanneer een van my girls by die huis kom en ek luister na ‘n probleem of ‘n situasie dan herinner ek myself altyd. ‘n Storie het drie kante, my kind se kant, die ander persoon se kant en die waarheid. So probeer om nie blaam te skuif of te oorreageer nie. Gelukkig weet ons tieners oorreageer nooit en blaas niks uit konteks uit nie. Ha ha! Volg situasies op… vra hoe gaan dit met die verhouding? Die probleem? Net dat hulle weet jy is die heeltyd bewus van hulle.

Hierdie tieners van ons leef in ‘n onvriendelike wêreld… kom ons probeer hulle laste ligter maak, nie swaarder nie! Jy weet as jy ‘n gewigtige saak met ‘n tiener moet bespreek het ek gevind tydsberekening is nie belangrik nie, tydsberekening is alles. Dis die verskil tussen ‘n gesprek en ‘n bakleiery. Moenie jou kind by die skool oplaai en preek tot by die huis nie. Ek weet dis ‘n lekker manier want dis nie asof hulle iewers heen kan ontsnap nie… maar na ‘n harde dag van skool is die tydsberekening heel waarskynlik vrot!

Wanneer jy jou goed bedoelde, kosbare raad en bystand deel op die verkeerde tyd gaan dit mooi netjies by die een oor in en by die ander oor uit! Wanneer jy met jou kind wil praat, praat eers met God oor jou kind, daar waar niemand jou kan sien nie, smeek jy druppels wysheid uit die hemel uit. Vra jy vir insig. Bid jy vir kalmte van gees en vir vrede.

Ek het ook gevind dit leer hulle absoluut niks van krisishantering wanneer jy hulle situasie met iemand anders se situasie wat erger is vergelyk nie… hulle gaan absoluut niks leer nie, dit gaan hulle net opstandig maak want hulle voel hulle word nie gehoor nie.

Soms, as jy sien hier gaan nou ‘n fout begaan word, is dit nodig om terug te staan, want leer ons nie juis uit ons foute uit nie? Ons kan nie lewenslank hulle ‘fixers’ wees nie…

Ek het ‘n wyse vriendin wat altyd sê: “Do not set your child up for failure…” Dis daai klein strikkies wat ons vir hulle stel in die hoop dat hulle die les sal leer, die boodskap sal kry. Miskien leer hulle so klein lessie daaruit, maar eintlik breek dit net ‘n tienerhart.

Ek het geleer dat dit soms wys is om op jou tande te byt, dat stilbly ook ‘n antwoord is en dat jy hare op jou tande moet hê om ‘n tiener groot te kry. (Eintlik groot te bid!) Ek moes leer ek kan nie alles sê wat in my kop opkom nie. Verhoudings is by verre belangriker as om te voel jy moet altyd reg wees en die laaste sê te sê- ek werk nog daaraan.

Moenie die prekerige ma wees en hulle klap met Bybelversies links en regs nie… Skryf eerder die Woord van God op jou hart, die woorde wat uitkom sal vervleg wees met woorde van liefde. ‘n Sagte antwoord laat woede bedaar, (Spr. 15:1) Here gee ons mammas wysheid sodat ons U kosbare kinders in een stuk kan groot kry! Gee leiding aan ‘n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie. (Spr. 22:6)

2 Replies to “Ag Nee Wat! Dis nie só Erg nie!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *