‘n Skilpad is my gunsteling diertjie, of dit nou ‘n skilpad op land of in die water is… ek is mal oor skilpaaie. ‘n Skilpad lyk altyd vir my wys, en bietjie skaam, wantrouig en grasieus. Die ding met ‘n skilpad is wanneer dinge bietjie intens raak, wanneer gevaar hom in die gesig staar doen hy een van drie goed. Hy vries, onttrek of vlug. (Ek weet nie presies hoe die vlug werk nie, want ‘n skilpad is nie jy juis berug of beroemd vir sy spoed nie) Ek vermoed die rede hoekom ek so hou van die skilpad spesie is, soos ek, is sy ‘n konflik vermyder van formaat!
Skilpaaie is ook nie woes sosiaal oor die algemeen nie, hulle is meermale alleen, op hul eie aangewese. Siestog nê? Miskien is dit uit keuse of net eenvoudig hoe die Vader hulle gemaak het. Wie sal weet?
‘n Skilpad het ‘n sal-self mentaliteit. Skillie verklaar meermale met oortuiging: “Dit gaan goed met my…” al is haar huwelik besig om stukkie vir stukkie uitmekaar te val, al veg sy kliphard teen depressie en sukkel sy om op te kom vir asem, al ‘struggle’ sy elke dag deur om dit net-net te maak. Nee, met haar gaan dit goed, en dan trek sy haar koppie terug in haar dop in, dan gaan dwaal sy rond in haar eie wêreld, daar waar min ander welkom is…
Die probleem is: Ek en jy is nie ‘n skilpad nie, en ons moet nie skilpad-maniertjies of ‘n skillie-mentaliteit aanleer nie. Sodra die lewe woes raak, wanneer ons voel die mat word onder ons uitgepluk, wanneer ek en jy ons wind heel uitval op die lewenspad moet ons versigtig wees om nie te vries nie, om nie van die wêreld te onttrek nie, maar nog erger van God te probeer wegvlug nie.
Weet jy wat is die nommer een rede hoekom ons eerder maak soos Skillie as om te sê: “Stop die bus, ek het hulp nodig, bid vir my, Vader help my?” ons is so-so bang om geoordeel te word deur mede perfekte sussies wat al hulle eendjies mooi in ‘n ry het, wat se varkies almal op hok is (of so vermoed ons) … ons voel so alleen in die situasie waarin ons ons bevind. Alleen, eenkant toe gestoot, verlore, verdrietig… hopeloos.
Weet jy wat is die probleem met self-isolasie, jy is blootgestel aan die pyle van die bose. Jy is ‘n sagte teiken so eenkant en alleen. Jy is nie deel van die familie nie, jy het so pas die prooi geword. Dis soos wanneer ‘n skilpad omdop, voetjies wat in die lug rondtrap op soek na stewigheid, maar niemand na genoeg wat kan help met die terugdop-slag nie.
En ek weet, ek stem 100% met jou saam, mens kan ook nie vir elke Jan rap en sy maat gaan vertel van jou omstandighede nie, van jou seer en jou struggles nie. Maar ek wed as jy mooi dink sal jy ten minste aan een of twee mensies kan dink wat na aan jou hart is met wie jy jou hart kan deel, by wie jou hart veilig sal wees… Vriendin, ‘n gedeelde las was nog altyd ‘n ligter las.
As jy glad nie kans sien om met ‘n ander jou las te deel nie, dan ken ek Iemand op wie se knoppie jy 24 uur per dag kan druk. Wat altyd beskibaar, altyd bereikbaar is. Sy naam is Jesus. Hy ken van struggle, Hy ken van alleen, Hy ken van bloedsweet van angs, Hy ken JOU waaragtig, deur en deur!
En omdat hy jou intiem ken, hoor Hy wanneer jy smeek-vra: Steek my weg Abba Vader, beskerm my, trek my nader. Onder U vleuels sal ek skuil tot die bedreiging verby is. (Ps. 57:2) Omsingel my met U goedheid en guns, bedek my met U liefde. Laat lewe en genade my porsie wees tot in ewigheid. U Here, beskerm my van alle kante. (Ps. 3:3) U beskerm my wat U Naam liefhet. (Ps. 5:12) Here, vir my is dit beter om by U te skuil, as om op mense te vertrou. (Ps. 118:9) U is goed, my Here en my God, U is my toevlug in tye van nood, U sorg vir my wanneer ek by U kom skuil. (Nahum 1:7)
Liefste vriendin, luister mooi na die stem van jou Verlosser… kruip uit jou dop, gaan kruip by Hom weg, gaan vertoef ‘n bietjie by Sy voete.
Liefste dogter na aan My hart,
Ek is vir jou ‘n toevlug, Ek is jou beskerming; Ek was nog altyd bereid om jou te help in nood. (Ps. 46:2) Ek laat jou oorwinningsliedere sing. (Ps. 32:7) Ek gaan saam met jou, verstaan jy steeds nie liefste kind, Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. (Deut. 31:6) Ek beskut jou onder My vleuels, Ek is vir jou ‘n veilige skuilplek. (Ps. 91:4)
My regterhand ondersteun jou, deur My hulp het jy STERK geword. (Ps. 18:36) Geen wapen wat teen jou gesmee word sal iets uitrig nie, onthou kind, Ek sorg vir jou wat My dien. (Jes. 54:17) Liefste dogter: Ek is jou Rots. Ek is jou Skuilplek. Ek is jou Redder. Jou Skild en Sterk Verlosser. Jou Bevryder. (2 Sam. 22:2-3)
Jy het My altyd by jou, omdat Ek by jou is, sal jy nie struikel nie. (Ps. 16:8) My Naam is ‘n sterk vesting; jy wat regverdig is vind daar skuiling. (Spr. 18:10) Hou op vrees, want Ek is by jou. (Ps. 118:6) Liefde, VADER