My hande hang slap, my knieë knik. Ek het moed verloor. (Is. 35:3-4) Waarom staan U so ver weg, Here? (Ps. 10:1) Red my deur u mag, o God, laat aan my reg geskied deur U krag. (Ps. 54:3)
Moenie bang wees nie. Ek sorg vir die mossies, hoeveel te meer sal Ek nie vir jou, My liefling-kind, sorg nie? (Matt. 10:31) Stel jou vertroue in My, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie! Wat kan ‘n mens aan jou doen? (Ps. 56:12) Ek beskerm die wat My Naam liefhet, Ek beskerm jou. (Ps. 5:12)
Jy lewe deur die Gees, laat die Gees dan jou gedrag bepaal. (Gal. 5:25) Lewe volgens die vrug van die Gees: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. (Gal. 5:22-23) Die Gees wat ek jou gegee het, laat jou nie meer in vrees lewe nie. (Rom. 8:15) Néé, wie My dien se lewe is veilig, so ‘n mens slaap rustig. (Spr. 19:23)
Trek daarom die volle wapenrusting aan wat Ek jou gee. Trek die waarheid as gordel aan, vryspraak as borsharnas, die evangelie van vrede as skoene, vat jou skild van geloof en hou dit stewig omhoog. Sit verlossing as helm op en moet nêrens gaan sonder die swaard van die Gees, My Woord nie. (Ef. 6:14-17)
Jy behoort aan My, liewe kind, Ek wat in jou is, is veel groter as die duiwel wat in die wêreld is. (1 Joh. 4:4) Staan die duiwel teё, en hy sal van jou wegvlug. (Jak. 4:7) Die vyand loop rond soos ‘n brullende leeu, reg om iemand te verslind. (1 Pet. 5:8) Onthou altyd: jou stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose geeste in die lug. (Ef. 6:12) Laat My toe om jou te verander, deur hoe jy dink te verander. (Rom. 12:2) Rig jou gedagtes op alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is en My vrede sal oor jou gedagtes en hart wag hou. (Fil. 4:7-8)
Moenie onsteld wees nie, glo in My! (Joh. 14:1) Hou vas aan HOOP, want Ek is getrou. Ek doen wat Ek beloof het. (Heb. 10:23) Jou swaarkry in hierdie lewe is gering en gaan verby, maar dit loop uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Moet dus nie moedeloos word nie. Rig jou oё op die onsigbare, (2 Kor. 4:16-18) want jy lewe deur geloof nie deur sien nie. (2 Kor. 5:7)
Jy liewe kind is My voete en My hande, bemoedig die wie se hande slap hang, help die wie se knieё knik, sê vir die wat moed verloor het: “Wees sterk, moenie bang wees nie, God is hier.” (Jes. 35:3-4)
Jy hoef nie bang te wees vir die gevaar in die nag of vir aanvalle oordag nie. (Ps. 91:5) Ek is jou LIG en REDDER, hoekom sou jy dan vrees? (Ps. 27:1) Luister na My stem, jy sal veilig wees en hoef geen ramp te vrees nie. (Spr. 1:33) As jy gaan lê om te slaap hoef jy nie bang te wees nie. (Spr. 3:24) Ek wat jou beskerm slaap nooit nie. (Ps. 121:4)
Mensekind, die Gees wat Ek jou gee, maak jou nie lafhartig nie, maar vul jou met liefde en krag. (2 Tim. 1:7) Waar liefde is, is daar geen vrees nie, want volmaakte liefde verdryf vrees. (1 Joh. 4:18) My liefde vir jou is volmaak: weet jy dan nie? Ek is LIEFDE! (1 Joh. 4:8) Moenie bang wees nie, liefste kind, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. (Jes. 43:1)