En voor ek my oë kon uitvee het die uitstapdag van die matrieks gekom en gegaan. So ook die 12 jaar van skool, van baba liefielyf, kleuter-geite, tween-buie, tiener-dinge, net so in ‘n oogwink staan ons eersgeborene, voor ‘n nuwe deur, met die deur agter haar wat wil-wil toeslaan… ‘n deur wat geen huiwering toelaat nie, ‘n finale deur. Maar sjoe die deur voor haar is woes opwindend… sy sien uit, ons sien uit vir hierdie nuwe seisoen in ons, maar veral haar lewe.
Die laaste dag van skool neem ek my vroeg-vroeg voor dat ek nie ‘n tjankbalie gaan wees nie, ek gaan nie dáái ma wees nie, ek gaan vir my gedra en my emosies net ‘n bietjie dieper in my hartkamers indruk, vasdruk. Vir later prosessering wanneer ek die die tyd, die lus en die krag het.
Op pad skool toe sê ek vir ousus speel ‘n bietjie die liedjie wat sê: I lived … en daar begin ousus huil en ons soek vir tissues, maar kry net wet wipes. En ek sluk swaar verby die té groot knop in my keel… want ek gaan mos nie huil nie… met die uitstapseremonie lui ousus die klok en in ‘n warrelwind is die hoofstuk van skool toe gaan finaal afgesluit. Te vinnig vir voel en trane…
Nietemin, so praat ek baie met my Pa in die hemel oor hierdie kosbare kind van my… en miskien is dit hoekom die trane nie so geredelik wil kom nie oor hierdie lang gesprekke oor leë neste, oor ‘n brose ma hart, oor onbekendheid wat onbemindheid veroorsaak. Miskien het dit te doen met die afgelope jaar se lesse oor vertroue, ‘n vertroue wat verder strek as net bloot vertrou… ‘n vertrou wat sê: ek het geen beheer nie, ek en ook sy is 100% afhanklik van Sy goedheid en guns, maar veral baie genade vir ‘n moeder-hart. ‘n Vertroue wat uitskree laat gaan en laat God… Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom, Hy sal sorg. (Ps. 37:5)
Ek weet een ding met sekerheid, nee eintlik twee goed… okay miskien drie goed. Hy het haar liewer as wat ek haar ooit kan hê, sy is veilig in die palm van Sy hand en Hy sal haar nimmer as te nooit alleen los nie. En as dit nie die pleisters vir my moederhart en siel is nie, wat sal dan ooit tog kan wees?
My baie wyse man sê al vandat die girls bitter klein is, ons moet vir ons girls arendsvlerke groei sodat wanneer hulle die nes verlaat hulle kan vlieg, met selfvertroue, met sterk vlerke. Die nes is nie groot genoeg vir hulle toekomsdrome en dinge nie. Daar is nie keuse nie… dis vorentoe… en as hulle self besluit om hulle vlerke te sprei dan is dit nie nodig dat ons hulle uit die gemaklike nes uitskop nie. En weet jy wat vriendin, dis nie asof hulle uit ons huis en harte uitstap nie… dis nie daai tipe uitstapdag nie, ek wed jou hulle gaan meer as gereeld huis toe kom al is dit net vir wasgoed en ma se kos. Dan vat ons dit…
Dis ook maar net ‘n klein tree in die rigting van grootmens-dinge, en grootword, onafhanklik wording. Ek en jy is nie skielik nie meer só nodig nie. Ons rol skuif net so effe op die agtergrond sodat hulle tot volwassenheid kan groei en self begin leer om verantwoordelike besluite en keuses te maak.
Ons gaan nog daar wees vir hulle… altyd daar. ‘n Veilige vesting, ‘n hawe wanneer die storms van die lewe te rof raak. ‘n Rusplek, ‘n plek van vrede en genade. En daar waar ek en jy onwetend nie kan bykom nie, daar sal Vader hulle opraap en teen Sy bors dra.
So in die afgelope week of wat sê ek vir Vader ek is nie heeltemal reg vir die besigheid nie, my swakke hart. Elke dag sê ek vir myself dis net 25km, dis net 20 minute… Stellenbosch is nie so ver nie. Soos ‘n troos- refrein wat my moet laat beter voel.
Weet jy wat fluister God vir my… “vir 3 jaar en 3 maande het jy alleen tyd saam met hierdie krulkop dogtertjie gehad, dit was net jy en sy… dit was kosbare tye, deur die slapelose nagte en terrible two’s wat nie te terrible was nie, en toe kom kleinsus”. En dis net hier waar genade my hart omvou en vertroos, “want vir die volgende 3 jaar en 3 maande tot kleinsus deur die deur stap is dit julle tyd… tyd vir saamwees, ondersteuning, lekker avonture saam met hierdie kosbare jongste dogter van jou. Dis haar beurt” … en toe raak ek opgewonde vir impromptu koffie afsprake, saam kos maak, lewenslesse saam leer, saam leer om sonder ousus elke dag klaar te kom.
Ek is die ewige optimis, ek gaan absoluut konsentreer op al die positiewe goed… soos dat ek volgende jaar 5 buitemuurse ryery en waggery minder gaan hê per week… en miskien net miskien wanneer ons haar afgelaai het volgende jaar by die koshuis sal ek myself toelaat om ‘n traan of twee te pik soos wat ons wegry en haar alleen figuurtjie al kleiner en kleiner in die tru spieëltjie raak…
Dankie Martha. Ek het n kleinseun wat nader aan my hart is as enige kind. Hy maak ook klaar met matriek en Stellenbosch wag vir hom. So ek weet hoe jy voel.
Dankie tannie Dalene, dit is so lekker om te weet mens is nie alleen nie!