Ek lees weer die anderdag die storietjie van die verlore seun, en dis asof ek vir die eerste keer besef, daar is eintlik drie hoof karakters in hierdie gelykenis. Drie mense se lief en leed wat gedeel word.
Die seun wat uit eie keuse besluit het om verlore te raak. Hy vra vir sy Pa vir sy deel van sy erfenis. Sy erfenis wat sy identiteit is. Is dit nie amper soos om te sê: “Ek wens Pa was dood!” nie? Daar gaat hy na ‘n vreemde land en mors sy geld lekker uit. Op uitspattigheid en roekeloosheid spits hy hom toe.
Ai, soos die lewe maar gaan is dit woes lekker… tot en met die geld opraak. ‘n Honger maag en ‘n varkerige werkie laat hom terug verlang na sy Pa. Ek vermoed die varke oppas was nie eintlik vir hom nie, hy was immers ‘n Jood, hier moet hy hom ophou met ‘n onrein dier. (Dis interessant hoe ons soms tussen varke moet beland voor ons besluit om terug te keer na ons Pa toe.) Hy neem sy eerste en beste besluit in ‘n lang tyd en vat die lang pad huis toe.
As ek aan die Pa dink, dan is hier altyd hierdie beeld in my kop van ‘n ou omie, oud en afgetakel, dood bekommerd oor sy verlore kind. ‘n Pa wat dag na dag bult op en bult af sukkel met ‘n kierie op die uitkyk vir ‘n Seun wat verlore gekies het bo gevind.
Die Passion Translation beskryf hierdie toneeltjie van herenig knop in die keel mooi: From a long distance away, his father saw him coming, dressed as a beggar, and great compassion swelled up in his heart for his son who was returning home. So, the Father raced out to meet him. He swept him up in his arms, hugged him dearly, and kissed him over and over with tender love. (Luke 15:20)
Dan gebeur daar sommer baie goed gelyk: Vergifnis word gevra en gegee. Die Seun wil soos een van die dagloners behandel word, dis immers sy eie skuld dat hy so in die knyp is, maar in die pa se opdragte en handeling kan ons sien die pa sê eintlik. Jy is my seun, jy sal altyd my seun bly. My genade is vir jou genoeg, My vergifnis is joune.
Hy kry die beste klere, nie ‘n slawe uniformpie nie. Hy kry ‘n seëlring aan sy vinger, ‘n ring wat sê aan wie hy behoort, sandale aan sy voete. Die vetgemaakte kalf word geslag, en die feesviering begin in alle erns.
Die oudste broer was nog in die veld, en met sy tuiskoms sien hy hierdie oordrewe feesviering en hy was nie ‘n bietjie beïndruk nie… hy was woedend. Hy wat nooit drooggemaak het, wat sy aan sy met sy pa gewerk het, getrou in sy doen en late. Wat dan van hom? Hy weier volstrek om saam met hulle fees te vier.
Vriendin en saam met die stukkie dink ek sommer aan ‘n versie in Lukas 5:31: Toe antwoord Jesus hulle: “Díe wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar díe wat siek is. Ek het nie gekom om mense wat op die regte pad is, tot bekering te roep nie, maar sondaars.”
Albei kort genade, albei hierdie seuns kry dan ook genade by hulle Pa, maar dit voel tog of die verlore seun bietjie voorgetrek word nê? Kompleet asof die oudste ene aan die korste ent trek. Asof ek half en half ook die onregverdigheid aanvoel, wil opkom vir die oudste seun, maar vriendin as ons so dink en redeneer dan verstaan ons nie genade nie, ons ignoreer die feit dat God liefde is en ons verstaan nog minder die hart van ons Pa in die hemel.
Ek en jy wat die weg ken, die waarheid ken en weet hoe om by die ewige lewe uit te kom, ek en jy kan nie bekostig om die houding van die oudste seun te hê nie. Ons moet saam met hierdie Pa wat dag en nag op die bult staan en kyk vir al sy verlore seuns en dogters, bly wees, verheug wees oor elke liewe ene wat sy pad terugvind na Vader toe.
My bekering was nie ‘n ‘big in your face event’ nie, daar is nie ‘n storie nie, daar is nie eers ‘n datum nie. Ek was vandat ek my verstand gekry het nog net altyd lief vir die Here. (Ek dink dis my oumas wat hulle kniekoppe deur gebid het!) Ons kan dan maklik vra, maar wat van my? Vader sien my ook raak, ek soek ook daai klere, sandale, ring en vetgemaakte kalf… die waarheid is vriendin, jy en ek het dit alreeds!
God se genade teenoor ander het niks met my en jou te doen nie. God sê vir Moses: Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm. (Eks. 33:19) Daar is eenvoudig nie plek vir jaloesie en kleinlikheid nie, dis Koninkrykssake.
Ons is nie verlore nie, ons is gevind… deur die God van die hemel en die aarde. Laat ons bly en verheug wees vir elke storie van oorwinning, elke bekering. Kom ons pak jaloesie en wat-van-my houdinkies diep weg. Wat ons wel kan doen is om te help rigting beduie. Mense smag na die Waarheid, mense smag na Jesus en verlossing. Laat ons dié wees wat al hierdie verlore seuns en dogters aan die Lig bekend stel. Genadiglik is ek en jy nie die verlore seun nie, maar ons kan verseker ook nie bekostig om die verlore seun se boetie te wees nie!