Ek gaan laai die anderdag die girls af, maar kleinsus is laterig. Hulle is darem betyds, maar op pad huis toe sit ek so bietjie vas in die hoofstraat van Durbanville nogals reg langs die baie ou begraafplaas, staan ek eintlik botstil.
Ek dink ek moet net eers sê ek kyk geen flieks wat zombies of enige iets gruweloosliks bevat nie. Ek hou nie daarvan, ek kyk dit glad nie, met dit nou in gedagte sit ek nou lekker vas langs die begraafplaas, ek is nie bang nie, maar op daai oomblik begin speel Lauren Diagle se liedjie. ‘Dry bones come Alive’ en my eerste gedagte is: “Here asb net nie nou nie!” Ek moes lag vir myself en my gedagtes… ha ha dit sou ‘n gruwel fliek van formaat gewees het…
Na die lekker lag, spook die liedjie en die woorde by my en ek gaan lees weer bietjie van die droë bene in Esegiël. En ek besef ‘n belangrike ding, ons vergeet partykeer om te lewe voor ons doodgaan. Ons vergeet om te lewe met opset, met ‘n uitkyk en ‘n verwagting, ‘n uitsien na die dag van môre.
Ek en jy doen wat ons doen om elke dag so min of meer te oorleef, net genoeg. In ‘Robot-mode’, op ‘autopilot’. Ons leef selde in die oomblik- ons gedagtes by alles wat ons moet doen of nog gaan doen. Of reeds gedoen het.
Om te lewe beteken nie dieselfde as oorleef nie. Ek en jy het die lewensasem van God nodig om werklik te lewe, die Gees van God wat in ons bly gee lewe in oorvloed. Dat ons sal besef elke asemteug is ‘n wonderwerk, elke hartklop ‘n stukkie toegevoegde genade.
Wanneer ons sonder God leef, sonder hoop… dan is ons net droë bene wat smag na lewe. Wat elke dag vat soos dit kom, probeer om te oorleef, maar niks verstaan van leef nie. Soms maak ons dit beswaarlik deur sommige dae. Ons leef vir eendag. Eendag wanneer ek oorsee kan gaan, eendag wanneer ek kan aftree, eendag eendag eendag… maar wat van vandag?
Probleme en alledaagsheid maak dat ons vandag vergeet om te lewe, en dan spandeer ons hopeloos te veel tyd in die gisters wat reeds verby is. Vergewe, beweeg aan, kom vry en aanvaar dat jy niks in die verlede kan verander nie. Bêre die verlede in die verlede vir goed.
So tell them: “I, the Lord God, promise to open your graves and set you free. I will bring you back to Israel.” (Ezek. 37:12) Liewe vriendin, waarvan is dit wat jy vrygemaak moet word? Wat is dit wat jou kosbare lewensasem steel? Is dit vrees, hopeloosheid, moedeloosheid, negatiwiteit, depressie? Uit watter gat moet jou Vader in die hemel jou kom uitlig en Sy asem in jou gees en droë bene inblaas?
In die midde van die koudste wintersdag wanneer ons bibber en beef dan hou ons vas aan die hoop van lente wat op pad is. Wat altyd weer kom, miskien soms bietjie laat. Wanneer ons in die donkerste van nagte wakker lê en tob en stoei met te groot probleme dan weet ons nou-nou kom die son op en verdryf die donkerte. Ons hoop is nie in seisoene en dae wat verby stap nie, ons hoop is in die onveranderlike standvatige God van Abraham, Isak en Jakob.
Ek weet dit voel soms of jou lewensbootjie doelloos dobber op ‘n onstuimige see, sonder koers of rigting, uitgelewer aan die elemente. Weet jy wat is die probleem vriendin? Ons het vergeet om die Kaptein van die bootjie in te nooi. En al wat oorbly is vasklou en hoop op oorlewing.
God is ons hoop, ons enigste hoop. Vriendin, kom net soos jy is. Hy alleen kan ons red. Hy wat die gebreekte stukkies bymekaar maak, heel maak. Jesus is ons lewende hoop, Hy wat uit die dood opgewek is. Dood het geen meer houvas op jou nie. Haal asem, staan op en leef!
Kry ‘n ‘n doel, begin net iewers. Gee jy net die eerste treetjie… en as jy faal? Staan jy op, stof ‘n bietjie die val en seer af en begin weer. Ons tyd op aarde is reeds vooruit bepaal, vasgestel. Koop die tyd uit. Leef elke dag asof dit jou laaste is. Maak die beste gebruik van elke geleentheid wat God na jou kant toe skuif. Maak tyd vir die klein dingetjies, die belangrike dinge. Mensdinge.
Ek en jy kan nie meer net ‘n hopie droë bene wees wat elke dag stoei om te oorleef nie.
Ek ken ‘n moeilike-dierbare-oompie🥰, wat nou die dag weer ‘skoor’ soek met ons kerkraad.
Ai ek betree nou gevaar zone, maar ek luister, ek hou van luister, maar ek hou noe van praat nie… hou my gedagtes vir myself, gewoonlik.
…en hy sê vir my dat die ou mense in ons gemeenskap voel verstoot, agter gelaat, on belangrik. Wow! Eina!
En soos gewoonlik voel ek skuldig, want kyk, soms wil ek maar die skuld op my skouers ook dra.
Ek sê vir hom, my oompie: “…ek voel ook soms so en dis hoekom ek altyd groet met ‘n drukkie i.p.v. ‘n skud met die hand.” Ek voel dat dit meskien nie net die persoon wat die drukkie ontvang, die een is wat hom nodig het nie…
Soms maak selfs net ‘n glimlag die verskil.
Dankie M, dis pragtig.