‘n Tannie stuur die anderdag vir my die mooiste woorde: ‘Die meetsnoere het vir jou in lieflike plekke geval.’ Ek lees dit vir manlief en sê-vra of dit nou nie die mooiste ietsie is wat hy al gehoor het nie? Ek weet nou nie presies wat dit beteken nie, maar dis darem net so mooi.
Nou loop en wonder ek waar staan dit en wie het dit geskryf. My nuuskierigheid kry die oorhand en ek gaan vra vir Mnr Google, wat naas my alles weet! En wraggies daar kry ek dit in die Groot Boek. Dawid het dit geskryf in Psalm 16:6 (1953) Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.
Ek gaan skryf die versie groot op my swartbord kombuisdeur en so loop en lees ek die versie elke keer as ek by die deur uitloop, en ek dink en wonder oor hierdie versie wat so groot indruk op my hart gemaak het. Wat is ‘n meetsnoer? HAT sê: ‘n snoer is ‘n lyn om grond ens af te meet. So, dis ‘n spesifieke, afgemete deel.
So, die versie sê eintlik dit wat God vir jou afgemeet het (nie die deel wat jy verdien nie, maar jou genade porsie) is mooi en goed en spesiaal vir jou. Die 1983 vertaling is net so mooi: ‘n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het is vir my mooi.
Vriendin, ons moet baie eerlik wees met mekaar en dit vir mekaar sê, ons kan nie God gaan vra hoekom ‘n ander se meetsnoere mooier lyk vir my as my eie nie. Ons kan nie gaan aanspraak maak op ander of mekaar se meetsnoere nie.
Ons kan nie mekaar se meetsnoere vergelyk nie, ons is anders, my meetsnoere gaan nie mooi in plekke val vir jou nie. Jou meetsnoere, wat God baie spesifiek vir jou afgemeet en uitgesit het, dit wat God vir jou bedoel het, gaan nie vir my in lieflike plekke val nie.
Het jy al daai simpel sms’e gekry wat sê daar is ‘n onopgeeisde erfporsie van 950 000 pond wat daar iewers vir jou lê en wag…? Ek weet… if only. Soms dink ek in die hemel is daar ook ‘n hoop onopgeeisde erfporsies. Omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. (Rom. 8:17)
Whom have I in heaven (but You)? And besides You, I desire nothing on earth. My flesh and my heart may fail, But God is the rock and strength of my heart and my portion forever. (Ps. 73:25-26) God is jou porsie vir altyd en ewig. Hy wat vir jou is en nie teen jou is nie.
Ek en jy is kinders van God, daarom is ons erfgename. Ons is erfgename van wie God is nie wat Hy het nie. Jou meetsnoere, jou erfporsie kan nie gemeet word in goete, geld en dinge nie. Dis ‘n erfporsie met ‘n ewigheidswaarde. Ek dink ek moet dit net weer sê: Ons is erfgename van wie God is, nie van wat God het nie. ‘n Stukkie van Sy hart, Sy DNA wat deur ons liggame vervleg is, Sy bloed wat deur ons are borrel en bruis. Die aarde en alles daarop behoort tog aan hom. Jou geld, my geld, jou goed, my goed, alles behoort tog aan Hom.
Vriendin, maar as ons God kan vra vir sekere goed wat is dit wat jy soek van Hom, wat is dit wat jou hart soek en smag na? Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly HOOP, vir die mens wat na Sy WIL vra; dit is goed om geduldig te wag vir die Here. (Klaagl. 3:24-26)
Hier is my meetsnoer lysie:
Vrugte van die Gees. Genade wat elke oggend splinternuut is. Goedheid en guns wat my volg al die dae van my lewe. Versorging. Beskerming. Versterking. Krag. God se nabyheid. Verantwoordelikheid. Wysheid. Insig. Skuilplek. Onderskeidingvermoë. Die hemel… en wanneer als gesê en gedoen is… die Ewige Lewe saam met God.
Lord, I have chosen you alone as my inheritance. You are my prize, my pleasure, and my portion. I leave my destiny and it’s timing in your hands. Your pleasant path leads me to pleasant places. I’m overwhelmed by the privileges that come with following you, for you have given me the best! The way you counsel and correct me makes me praise you more, for your whispers in the night give me wisdom, showing me what to do next. Because you are close to me and always available, my confidence will never be shaken, for I experience your wrap-around presence every moment. (Ps. 16:5-8 TPT)
My liewe vriendin, my gebed vir jou wat vandag hier lees, is dat die meetsnoere vir jou in lieflike plekke sal val. Dat die Here jou sal seën en jou behoed; dat Sy aangesig oor jou sal skyn en dat Hy jou sal genadig wees, dat die Here Sy aangesig oor jou sal verhef en dat Hy jou sal vrede gee en jou vrede sal wees. (Num. 6:24-26 1953)
Dankie Martha Pragtige lied.
Amen! Sjoe! ….Dankie!
Quinet, mag die meetsnoere ook in lieflike plekke val vir jou.
Die lewe is soms so besig, dat ons in die malle gejaag die mooi miskyk.
Dankie vir die deel van iets wat vir jou só mooi is.
Dis kosbaar.
Geseënde is elkeen wat kan stilwees.
… want ons krag lê in stilwees en vertroue. Dankie Tinette vir jou kosbare woorde.🌼
Dankie, Marta!💛
Moes dit vandag lees…
God is so getrou, Hy kom ontmoet ons altyd halfpad.