Ek hou van foto’s neem. Wat ek nie van hou is om ‘n foto met ‘n selfoon te neem… ek is ook nie baie goed met die selfoon foto nemery nie. So neem ek die ander oggend vir manlief ‘n selfie- werk verpligtinge het hom na ‘n ander provinsie gevat- darem nie ‘n vreemde land nie.
Ek neem die selfie dat hy nou darem nie moet vergeet hoe ek lyk nie- dis nou na 24 uur. Ek is nie mal oor veral selfies nie, want behalwe dat ek selde enige iets anders as af lyk, is ‘n selfie bietjie… wel selfgesentreerd…
Ieder geval ek stuur die foto’tjie- hy vertel my hoe mooi ek vir hom is, en hoe baie hy my laaik en dat hy my mis, jy weet mos al daai mooi dingetjies. Al wat ek kan dink is dat ek defnitief-beslis ‘n plooi en ‘n half bygekry het op my voorkop en my neus raak al langer. Nee jy mag nie lag nie vriendin, dis ‘n feit mens se ore en neus hou nooit op groei nie, of jy jok of nie.
Jannie stuur ‘n selfie terug van hom aan die ontbyttafel… ek dink sjoe ek is gelukkig om met so sexy man getroud te wees, sy onderskrif lees. “Ek moet gewig verloor…” Ai, sien jy wat hier gebeur? Wanneer ons na onsselwers kyk dan sit ons die kritiese bril op, en sien net alles raak wat nie volgens ons reg of mooi lyk nie MAAR wanneer ons deur die bril van liefde kyk dan is daar net mooi, nie perfek nie, maar ons konsentreer nie op die verkeerd nie, gits eintlik sien ons dit nie eers so lekker raak nie! Die fokus verskuif van dit wat verkeerd of minder perfek is na dit wat ons liefhet.
Kyk God nie juis na ons deur liefdevolle kykers nie? As Hy na my en jou kyk dink Hy nie: As sy net 5 kg verloor sal sy darem mooi wees, of as sy net elke dag onthou van die verdomde sonroompie sal daar darem aansienlik minder plooie om die oë en die mond wees.
Weet jy hoe werk God se liefde? Omdat Hy jou so bitterlik lief het, nie ‘n kritiese liefde nie, ‘n bitterlike lief-liefde, ‘n liefde so groot en rein dat die prys dood en die kruis was- los Hy ons nie soos ons is nie. Nee wat vriendin, ek en jy is tot die dag wat ons doodgaan ‘n ‘work in progress’. Onder konstruksie… nog nie daar nie maar beslis op pad.
God se genade vir ons is goed en groot, maar nou wonder ek net as Sy genade so groot is vir ons en ons is veronderstel om die voorbeeld van Christus te volg. (1 Kor. 11:1) Hoekom het ons so min genade en liefde met die persoon wat vir ons terugstaar in die spieël?
But who do you think you are to second-guess God? How could a human being, molded out of clay, say to the one who molded him, “Why in the world did you make me this way?” (Rom. 9:20 TPT)
Sjoe vriendin, en ek wil nie prekerig klink vanoggend nie, so vergeet die woorde, hoor vanoggend my hart. As jy ontevrede is met jouself het jy twee opsies. Net twee, daar is niks tussen in. Verander of aanvaar jouself soos jy is. Want om hier tussen die twee in limbo te spandeer jaar in en jaar uit, is vir niemand goed nie, nie vir jou nie, ook nie vir die mensies om jou nie.
Ek het ‘n sterk vermoede as jy die tweede opsie kies en jouself kans gee om jouself regtig lief te kry en te aanvaar net soos jy is, met die ekstra paar kilogramme en alles wat hap en pla, dan gaan verandering spontaan plaasvind.
Ek het vir jare ‘gestruggle’ (en daar is nie ‘n mooi afrikaanse woord nie) met selfbeeld. Dit het al op skool begin. Ek is een van ‘n nie-identiese tweeling. My sussie was op skool maer, fyn en tingerig… ek was in retrospek net normaal. Maar toe raak ek die ‘vet tweeling’ en sy die ‘maer tweeling’.
Ek dink ek het regtig eers hier begin dertigs begin om van myself te hou. Eers laat dertigs myself begin liefkry en myself aanvaar net soos ek is. Hoekom? Want ek het Hom oor en oor hoor fluister: “Ek het jóú lief!” En ek kan getuig die verandering (in hart, siel en liggaam) het eers gekom met aanvaarding.
God se grootste gebod en die een wat daarmee gelykstaan het alles met liefde te doen. Liefde vir God en vir mense… ons lees soms die deeltjie mis oor selfliefde. Luister, jy gaan sukkel om mense en God lief te hê as jy dit nie eers kan regkry om jouself lief te hê nie!
Kan ons groot asseblief na mekaar deur oë van liefde begin kyk? Mekaar optrek. Hande in die lug hou. Regop hou, ondersteun, lief hê. Kan ons mekaar met deernis en begrip benader? Nie omdat jy noodwendig die dinge waardeur iemand anders gaan weet van of eens verstaan nie, maar met die wete ons almal het ‘n storie… ‘n Hart wat ‘n bietjie genesing kort. ‘n Stukkie van ons menswees wat net bietjie aanvaar wil wees. ‘n Deeltjie van ons wese wat net wil hoor: “Dis okay, jy is okay. Alles gaan okay wees.”
Vriendin, skryf hierdie versie op jou hart en moenie vergeet nie. God het jóú lief.
Ephesians 3:18-19 The Passion Translation
Then you will be empowered to discover what every holy one experiences-the great magnitude of the astonishing love of Christ in all its dimensions. How deeply intimate and far-reaching is his love! How enduring and inclusive it is! Endless love beyond measurement that transcends our understanding-the extravagant love pours into you until you are filled to overflowing with the fullness of God!
Baie baie dankie vir hierdie pragtige stukkie wat jy met ons gedeel het
Dankie Martha.