Gods water oor Gods akker.

Die Franse sê: Que Sera, Sera. Die Engelse sê: What will be, will be. Ons boere volkie sê: Gods water oor Gods akker. My tieners sê: Whateva. Dis ‘n skouer ophaal houding van verontskuldiging.

God sê: My kind, hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan. Roep insig by, vra na gesonde begrip. (Spr. 2:2-3) God het vir ons elkeen ‘n mooi brein gegee gevul met pragtige grysstof en nog ‘n linker en regter hemisfeer ook daarby.

‘n Komplekse dink-orgaan, ‘n brein wat kan redeneer en soms hopeloos te veel argumenteer ook! Saam met die mooie brein wat Hy vir ons gemaak het is daar boonop nog ‘n ope uitnodiging daarby: “As jy wysheid kortkom liewe kind, vra dit van My, en Ek sal dit aan jou gee sonder voorbehoud en sonder verwyt.” (Jak. 1:5) Hierdie brein is ook goed met verskonings uitdink wat absoluut niks met wysheid te doen het nie.

Soms praat ons, sonder om te dink. Doen ons sonder om die gevolge op te weeg. God, sê vandag vir my en jou dat ons regtig niks oorhaastig hoef te sê of te doen nie. Ons is baie welkom om bietjie tyd af te vat en bietjie by sy voete te kom sit vir ‘n rukkie. Hy het goeie raad en bitter baie wysheid om vir my en jou te gee.

Ek en jy moet geestelik volwasse genoeg wees om verantwoordelikheid te vat vir dit wat ons sê en doen. Ons kan nie net bly verskoning vra en verskonings maak nie. Ek krimp soms ineen as ek sien hoe Christene mekaar kan aanval en verneder en sleg sê. Geen ouer hou daarvan as daar gevegte is in die huis tussen kinders nie. God is ook nie mal daaroor as ons as boeties en sussies in Hom die heeltyd oor alles vassit en baklei nie. Ons voel tog so sterk dat elkeen geregtig is op sy eie opinie… reg of verkeerd…

As kinders van God het ek en jy sekere regte en voorregte, maar saam met dit ook ‘n groot verantwoordelikheid. Die verantwoordelikheid om die regte ding te doen, ongeag wat die wêreld sê! Ook ‘n verantwoordelikheid om nie my en jou opinies en standpunte op ander en mekaar af te dwing nie. Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is. (Ef. 5:10)

Simpel voorbeeld: Ek en jy bly in Suid-Afrika, een van die mooiste lande in die wêreld, maar ai nou seker nie die veiligste nie. So, wat doen ons? Ons doen alles in ons vermoë om ons gesin en ons eiendom te beveilig. Maar ek en jy gaan tog nie net bid en sê: God sal vir my sorg en my beskerm nie? Verder doen ons niks van ons kant af nie. Ons vat geen verantwoordelikheid nie… Waar is die grysstof nou… Het ek en jy nie ‘n verantwoordelikheid om ook ons deeltjie te doen nie?

Jy spring tog nie van Tafelberg af en skreeu: “Here, red my nie!”, ek kan jou ‘n briefie gee jy gaan vir jou te pletter val… iemand sal vir jou daar doer onder met ‘n tweezer en ‘n sponsie moet gaan optel…

Soms, wanneer ons met die God van die hemel in gesprek tree klink ons vra meer soos ‘n opdrag. Dan sê ons plegtig Amen… maar het ons lank genoeg gesit om darem die antwoord ook te hoor? Het ek en jy nie ‘n sekere verantwoordelikheid nie? Kan ons regtig die: God’s water oor God’s akker, ‘what will be will be’ houding inneem? Jy sien ek dink dat God vir my en jou gesonde verstand gegee het… vir ‘n rede. Oordeelkundigheid sal oor jou wag hou en verstandigheid sal jou bewaak. (Spr. 2:11)

Wysheid, oordeelkundigheid en verstandigheid hou ons veilig.

Siemsalabiem… Sien jy die kulkunstenaar? Ek en jy moet nie aan God dink asof Hy ons persoonlike kulkunstenaar is en as ons, ons vingers klap kom die haas uit die hoed te voorskyn nie. Ek en jy moet ‘n Heilige Respek vir God hê… omdat Hy God is!

Ek en jy moet met die vrees van die Here in ons harte leef, want Hy is groot, Almagtig en Heilig. Hy is die Leeu van Juda. Wees stil voor die Here, al wat leef! Hy kom uit sy heilige woning te voorskyn. (Sag. 2:13) Vrees God. (1 Pet. 2:17) Hy is God, vir hom het die hemelse vergadering ‘n heilige ontsag. (Ps. 89:8)

Ek en jy moet besluite kan neem, verantwoordelike, regverdige besluite.  Laat elkeen sy eie doen en late ondersoek: as dit goed is, kan hy daarop trots wees sonder om dit met die van ‘n ander te vergelyk. Elkeen sal rekenskap moet gee oor wat hy gedoen het. (Gal. 6:4-5) God het my en jou ‘n wil gegee, vrye keuses en ‘n vermoë om self te besluit… kom ek jy leef met onderskeiding en wysheid voor die God van die hemel en die aarde. Laat ons soos Dawid vra: “Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my rots en my Verlosser.” (Ps. 19:15)

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *