Wat jy saai sal jy maai.

Opgedra aan my oudste dogter op wie ek so verskriklik trots is!

Man, ek is lief vir hierdie aanhalinkie: Wat jy saai sal jy maai. Daar is ‘n versie in die Bybel wat maar op dieselfde beginsel fokus. For what you plant will always be the very thing you harvest. (Gal. 6:7 TPT) Dis lekker om hierdie aanhaling te gebruik so deel van ‘n dreigement, So met die lig van ‘n wenkbrou: “Ja-nee, wat jy saai sal jy maai. Die ander aanhaling wat ek ook graag gebruik is: “As jou kop dom is sal jou lyf suffer…” Selfde saai-maai beginsel.

Toe ousus hier einde graad 9 se koers kom, het daar ‘n reusagtige kopskuif plaasgevind wat nie ek of manlief voor krediet kan vat nie. Sy het besluit sy gaan by Maties studeer en dat sy in ‘n koshuis gaan bly. Keuring vir koshuis is woes, maar ousus het net besluit sy gaan haar sokkies ekstra hoog optrek en hard werk.

Sy het haar alles gegee, voor die belangrike Graad 11 eksamen het ons haar skaars gesien, al het ons almal steeds in dieselfde huis gebly, sy het net opgekom vir asem, slaap en proviand van die kombuis se kant af. Met tye moes ons haar uit haar kamer sleep net vir ‘n bietjie afleiding, as ons weer kyk sit sy maar weer en vraestelle uitwerk. Soms, was daar trane van moeg en frustrasie, dan troos ons, dra tee en eetgoed aan en dan sit sy terug eerste rat toe en leer dat die biesies bewe.

Mens se kinders het die vermoë om jou kosbare lesse te leer. Toe sy aansoek doen vir Universiteits toelating het ek volle vertroue gehad dat die Here die begeertes van hart vir haar sal gee. Want sien dit was nie sommer net ‘n begeerte nie, van haar kant af het sy haar heel-heel beste gegee… Sy het gebid, gevra… gegaan en gedoen.

Ek is weer op Weigh Less vir ‘n paar weke, en ai… dit gaan nie so goed nie. Nee, ek wil nie kilogramme en kilogramme verloor nie, ek wil gesonder leef en eet en dit sal ‘n bonus wees as ek nie elke keer as ek gaan sit my jeans se knoop hoef los te maak nie- dis nou om asem te kry.

‘n Week of wat het ek stil gestaan (ek weet dis darem ‘n troos) maar die week daarna het ek 200g opgetel. Ai, na al die nee dankies en soet wees. Ek bel op pad huis toe my klankbord en sê as ek by die huis kom gaan ek ‘illegally’ ‘n Cappuccino drink en twee beskuite eet… dis hoe groot die frustrasie was… nietemin manlief praat moed in en sê ek hou seker water terug… (ai wat sal ek sonder hom doen)

Maar toe ek by die huis stop toe kom die hele saai/maai gedagte so sterk op en ek dink aan Ousus wat so vrek hard gewerk het vir dit wat sy wil hê en net daar besluit ek dan kan ek ook mos. En ek eet my 20g Pronutro Wholewheat en drink water…

Ek moet erken ek is nie sleg met verskonings uitdink hoekom ek nie die gewig verloor nie. Die lysie lyk soos volg. Dis seker my skildklier se skuld. (‘n Dokter het eenkeer vir my gesê dis eintlik meer die speekselkliere as die skildklier wat die probleem is.) Ek is nou offisieël middeljarig en my metabolisme is nie meer so lekker vinnig nie, dis my hormone… en so gaan my lysie met die mooi verskoninkies aan!

Baie van die goed wat ons doen of eerder nie doen nie gaan maar oor al die verskonings wat ons so goed is om uit te dink. Ek en jy is besonders goed daarin om onsself uit ‘n goeie ding uit te praat. Ons verskonings só oortuigend dat ons elke een soos soetkoek opeet.

Vriendin, ek weet nie waar jy jou tans bevind met ‘n situasie of iets waar jy besig is om stadig maar seker spoed te verloor nie, vandag wil ek jou aanmoedig om te volhard. Uit te hou, aan te hou, vol te hou. Soms moet ons net weer bietjie in onsself begin glo.

Wanneer ek en jy dit kan regkry om ons kop reg te kry, om te fokus op die positiewe goed, om die negatiewe gedagtes en denke uit jou kop te skuif. Nie net agtertoe nie, want anders skiet dit saad… voor jy kom kry het dit ontkiem in ‘n negatiewe idee oor jouself en jou situasie.

Ek en jy is wat ons dink … dis waar. As ek glo ek kan nie dan kan ek nie en die lus om te begin, te probeer, vorentoe te gaan gaan op sy beste ‘n halfhartige poging wees. Die vyand sal jou grootste aanhanger wees om tou op te gooi, om te verklaar: “Ek kan nie!”

Jou krag kom altemit nie uit jouself uit nie. Wat ookal die berg of ding is wat jy moet oorkom, jou krag kom van Hom en dan kan jy mos alles doen? Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk. (Spr. 16:3) Kom vriendin moenie tou opgooi in jou situasie nie.

As jy gister van die bus af geval het, vandag is ‘n nuwe begin. ‘n Splinternuwe oor begin. Spreuke 4:25 sê: Hou jou oë op die pad vorentoe, kyk reg voor jou uit. Los die verlede in die verlede. Leer uit jou foute en beweeg aan. Wees sterk en hou goeie moed, jy wat jou vertroue in die Here stel. (Ps. 31:24)

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *