Ek kry partykeer so lag by my selwers as ek in Pick ‘n Pay instap… (ja ek is ‘n Pick ‘n Pay meisie, ‘n gewoontedier soos min, en ek gaan glad nie met enige iemand argumenteer oor Woolworths of Checkers nie- elke diertjie het mos maar sy giertjie) Ek kry lag want ek herken die mammas wat by die huis bly van ‘n afstand af. Die Tuisteskeppers, Uitvoerende Huislike Beamptes noem hulle wat jy wil net asb nie huisvrou nie want dit klink dan kompleet asof ons heeldag voor die TV sit en niks doen nie.
As jy wil weet hoe jy weet, ons dra die gemaklike klere. Kortbroeke, jeans, hempies en tekkies of plakkies. Gemaklike klere waarin ons kan huisskoonmaak en hardloop agter al ons huismensies aan.
So kan jy ‘n suster ook uitken, epaulette en “Scrubs” is aan die orde van die dag. Boere is ook maklik om uit te ken. Hulle dra ‘n verskeidenheid skakerings van kakie, soms pienk ook, ek hoor hoeka pienk is die nuwe kakie, en ‘n pet, moenie die pet vergeet nie. ‘n Man met vellies, jeans en ‘n blokkieshemp (moet ‘n blokkieshemp wees en die kans is 80% dat dit ‘n blou blokkieshemp is) daai is jou ingeneurs.
Die super stylvolle dames is gewoonlik reps… so kan ek aangaan maar die punt is mens kan nogals mense uitken aan hul klere keuses. Wat ons almal darem in gemeen het is ons loop nie kaal by die deur uit nie, ons almal dra klere…
Tog dink ek baie van ons strompel sommige oggende poedel-nakend kaal by die deur uit, ons geestelike klere is op en gedaan, vol gate. Dit bedek net- net die nodigste… soms nie eers nie! Ons geestelike klerekaste word afgeskeep. Ons vergeet skoon heeltemal van ons Wapenrusting, ons is net bekommerd of ons ooghare gekam is en ons gesiggies mooi ingekleur is. Dit wat ons en almal kan sien raak soveel belangriker as dit wat ons nie noodwendig kan sien nie!
Die Woord sê: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. (Ef. 6:10) So hier is die ding my liewe vriendin as ek en jy by die deur uitstorm sonder ‘n gordel, borsharnas, skoene, skild, helm en swaard… is ons die weerloostes, is ons ‘n teiken, is ons ‘n maklike prooi vir die vyand wat soos ‘n brullende leeu rond loop, reg om ons te verslind. Waarmee gaan jy jouself verdedig, waarmee gaan jy jou man en kinders mee verdedig?
Die Satan is altyd honger, altyd op die uitkyk vir die swakkes en die weerloses. Dink jy die duiwel gaan op jou afstorm as jy geklee is met God self? Met Sy wapenrusting? It was faith that immersed you into Jesus, the Anointed One, and now you are covered and clothed with His anointing. (Gal. 3:27 TPT) Nee, vriendin ek vermoed hy gaan ‘n wye draai om jou hol.
Hy gaan jou een kyk gee en besluit… nee hou maar verby. Wanneer hy besef jy gaan nie val vir sy versoekings nie, jy gaan nie jou ore en hart uitleen vir sy baie leuens nie. Jou wapenrusting is nie daar vir die mooigeit nie, om te wys watter brawe meisie jy is nie. Jou wapenrusting beskerm jou.
Maak jou gordel van waarheid stewig vas om jou heupe … want die waarheid sal jou vrymaak. (Joh. 8:32) Ek en jy is deur die heilige Gees gesalf en ken die die waarheid. (1 Joh. 2:20)
Die borsharnas wat jou hart beskerm, vryspraak deur God self. So as die Satan nader kom en jou herinner aan jou baie sondes, dan tik jy net beterweterig op die borsharnas. Vrygespreek omdat ek en jy in Christus glo. (Filip. 3:9)
Trek jou vredes skoentjies aan… vrede met almal, nie net die waarvan jy hou nie. Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. (Matt. 5:9)
Jou geloof is jou skild, waarmee jy elke brandpyl van die Bose kan afweer. (Ef. 6:16) As jou skild klein en nietig voel, liewe vriendin… vra Hom… “Gee my meer geloof, ‘n groter skild” (Luk. 17:5)
Sit jou helm van verlossing stewig op jou kop, wees versigtig wat jy dink, hou jou gedagtes gerig op Jesus. Die Satan is ‘n saadjie-in-die-gedagtes planter van formaat.
Moenie jou swaard vergeet nie vriendin, met die Woord van God kan jy enige geestelike oorlog wen. Veg en verdedig… doen dit alles deur die Heilige Gees, deur opregte liefde, deur die woord van die waarheid en deur die krag van God. Ons wapen vir aanval en verdediging is om die wil van God te doen! (2 Kor. 6:7)
You are always and dearly loved by God! So, robe yourself with virtues of God, since you have been divinely chosen to be holy. (Col. 3:12 TPT) In die 1953 vertaling sê dit: Beklee julle dan met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Dit moet die geestelike klere wees wat in my en jou kas hang. ‘n Klerekas gevul met omgee, ‘n klerekas wat oorloop van genade en liefde.
God sê vanoggend vir my en jou… “Dis reg sussie, trek mooi klere aan, versorg jouself, ruik lekker vir jou man, maar moenie vergeet van jou geestelike klere nie, moenie vergeet wat vir My belangrik is nie… Jou skoonheid moet dié van die innerlike mens wees: blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het by My groot waarde.” (1 Pet. 3:4)

So bitter waar.