Stilte…

Toe Jesus dit hoor, het Hy met ‘n skuit daarvandaan weggegaan na ‘n stil plek om alleen te wees. (Matt. 14:13)

“Wees stil en weet Ek is God!” (Ps. 46:10 NLV)

Ek weet nie van jou nie, maar soms is dit vir my ‘n onbegonne taak om stil te word. Dis asof my brein net eenvoudig nie wil saamwerk nie, ‘n volstrekte weiering om aan niks te dink nie. As jong getroudes het ek eenmaal vir my splinternuwe man gevra: “Waaraan dink jy?” Sy antwoord? NIKS. Hoe op aarde is dit moontlik om nie elke oomblik van elke dag aan iets te dink nie?

Die geraas in my kop is konstant, ‘n gedurige dophou van die horlosie, watter kind moet ek wanneer waar hê en weer terug hê. Wat eet ons vanaand… hoender… nee ons kan seker nie weer hoender eet nie, ok maalvleis sal dit dan wees. Ek moet onthou om môre melk te koop, en dan miskien sommer die motor volmaak met diesel… en my ma bel. Gits ek moet net nie vergeet om vir my vriendin wat verjaar ‘n geskenkie te koop nie… en die linnekas kort regpak, die kinders druk-forseer mos net eenvoudig alles terug in ‘n oorvol kas… en so gaan dit aan en aan.

Wat is stilte? Wat is jou definisie van stilte? Is dit ‘n koppie tee in die verste hoek van die huis en jy bid dat niemand jou “ontdek” nie. Is dit ‘n lang warm bad sonder dat ‘n kind benoud instorm en sê: “Ma ek kry nêrens my skoolskoene nie!” Wat is jou stilte? Waar is jou stilte? Jou stukkie hemel? Is jou stilte dalk om net bietjie alleen te wees? Selfs Jesus het behoefte gehad aan alleen wees en stilte.

My stilte het ek ontdek lê in Ps. 46:10. ‘n Stille tevredenheid om te weet ek kan rustig wees, ek kan stil wees want die God van die hemel en die aarde, is in beheer. My stilte lê in Hom. My gees, hart en verstand raak stil wanneer ek na ‘n lied luister wat my menswees kom aanraak, waar ek my hande na die hemel kan oplig en net wees. Stil wees.

Wat is die doel van stil wees? Hoekom moet ons ‘n afspraak maak met stilte? Dit is sodat jy die stem van die Heilige Gees kan hoor wanneer Hy vir jou fluister: “Jy is die appel van My oog.” (Deut. 32:10) “Ek is stil-tevrede in My liefde vir jou. (Sef. 3:17)

My innige hartsbegeerte is dat jy jou stil plekkie sal ontdek, ‘n plek waar jy kan stil word en net wees.

Here, leer my,

die stilte van nederigheid,

die stilte van wysheid,

die stilte van konsentrasie,

die stilte wat praat sonder woorde,

die stilte van verwondering en geloof.

Leer my om my hart stil te maak sodat ek die influistering van U Gees kan hoor. (Anoniem)

uittreksel uit: Die groot boek van Christelike aanhalings. Saamgestel deur Nina Smit.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *