
Ek is op ‘n reis, van beter eet, vir beter gesondheid, maar ook ‘n reis waar ek God se aangesig soek, waar ek vrae vra, bagasie aflaai. Ag sommer ‘n voorraadopname van my lewe neem, my gesondheid en al daai lekker dinge. Dis nie ‘n maklike reis nie, veral die eerste paar dae van gewoond raak aan nuwe, gesonder opsies… jy weet waarvan ek praat. Nuut is altyd ongemaklik, nuut is selfs soms moeilik.
Ek stap Dinsdag uit die gym, nat gesweet en moeg. Ek val sommer by Pick ‘n Pay in, want nader is altyd beter. En jy weet mos, soms voel jy mos net, jy kort ietsie om jou te laat beter voel… maar kos en swiets en koek is mos nou nie eers ‘n amperse opsie nie, en ek dink by myself, vlietend, miskien moet ek vir my nog ‘n plantjie koop.
Vriendin, ek het ‘n swakheid vir plante, dit lyk al ampertjies soos ‘n kwekery hier binne my huis, dis net vir my so mooi, en groen, en lewendig. Ietsie wat ek na kan kyk, en versorg. Ek is altyd doodbekommerd as ons Desember maande op vakansie gaan…
Hoeka die afgelope Desember het een van my plantjies erg gelyk, dood gelyk, oortrek van miere… wat seker net ‘n bietjie water soek. Ek het water gegee, later die plantjie buite gesit dat die miere net hulle loop kan kry. Die volgende dag het ek hom weer binne toe gebring, nog ‘n vars watertjie bygesit. Maar nee, die plantjie lyk moeg en afgerem en glad niks lus vir die lewe nie. Glad niks lus vir 2026 nie.
Kan jy glo! Die volgende oggend kom ek in die kombuis en die plantjie staan kiertsregop. Al die armpie-blaartjies in die lig! So asof hy skree… hallelujah. Ek het hom Lasarus gedoop…
Terug by die planterak in Pick ‘n Pay, waar ek die vlietende gedagte gehad het… nee, besluit ek, dit gaan nie werk nie! Ek het sekerlik genoeg plante soos dit is. Ek is ook nie so baie lus om geld te spandeer op iets vir myself, wat ek nie regtig nodig het nie!
Ek koop die paar goedjies wat ek nodig het, reg om te betaal by die kassier, en op haar tafel staan ‘n mooi, groot plant wat wel ‘n bietjie TLC kort, maar net eintlik ‘n skêr. Ek maak ‘n opmerking dat die plant dit sommer huisliker en vroliker laat lyk daar naby haar. “Mevrou, vat die plant, dis joune, ons mag dit nie verkoop nie.”
En net daar besluit ek, dís my bederfie, reguit uit die hemel uit. Reguit uit die hand van God uit. En ja, die plantjie het bietjie aandag nodig gehad, maar jy moet hom nou sien. Absoluut pragtig!
So wat wil ek eintlik vir jou sê? God sien jou raak, Hy is intens, persoonlik betrokke by jou alledaagse lewe. Hy is El Roi- Die EEN wat my raaksien. Die EEN wat jou raaksien, soos vir Hagar, wat in haar wildernis vasgevang was, alleen, moeg en moedeloos.
Onthou die versie in 1 Johannes 4:16 as jy wonder of God jou raaksien, in die klein goedjies, die alledaagse.
Ons ken en vertrou die liefde wat God vir ons het. God is liefde. En wie in die liefde bly, bly in God, en God bly in hom.
Ons moet vertroue hê in God se liefde vir ons, selfs daar waar ons begeerte en behoefte slegs ‘n vlietende gedagte is, slegs ‘n fluistering in die wind. Ek en jy moet ons vertroue sit in Jesus, wat telkemale vir ons deurkom, wat beweeg, daar waar ons nie sien nie, wat reg maak wat gebreek is, wat beter maak waar daar ‘n eina is!
Ek ken nie die pad waarop jy tans is nie, ek ken nie jou seer nie, ek ken nie jou vertwyfeling en dit wat jou in die middernagtelike ure laat rondrol nie, maar ek ken die God wat jou liefhet! En Hy is die EEN wat sien, wat opdaag… wat vir jou bederfies uit die hemel sal stuur, wanneer jy dit die nodigste het.
Ons leef met die wete dat God ons sien, ons raaksien, maar Hy is nie ‘n God van ‘quick-fixes’ nie. Hy is die God wat die groter prentjie sien, Hy is die God wat soms net saamstap in die wildernis, en nie die wildernis net wegvat nie.
Vriendin, my gebed vir jou in hierdie oomblik is: Dat Jesus jou sal ontmoet waar jy jou tans bevind. Al is dit langs jou wildernis-pad. Dat Hy jou sal bederf met dit wat jóú hart aangryp, miskien is dit ‘n lied, ‘n mooi sonsondergang, ‘n vers, ‘n gebed, ‘n boodskap.
Ek bid dat Hy Sy aangesig na jou sal draai, en dat Sy vrede en teenwoordigheid jou sal omring en dat Sy goedheid en guns… ag sommer eintlik net jou voete onder jou uit sal slaan.

Dankie Martha vir due mooi boodskap. Jesus slaan my voete ook onder my uit. Amen. Xx❤️❤️🙏🙏
Daar is ‘n boek met die titel When God Winks at You. Jou storie het my laat dink dat dit pesies was wat hier gebeur het🤗
Hierdie is so mooi! Hy het v jou ñ plantjie gegee!
Ek het regtig egtig bederf gevoel!🪴