‘n Geraamte in die Kas.

Ek weet dit beteken om ‘n geheim weg te steek, maar die geraamte in die kas het my laat dink aan dood, want ‘n geraamte is beslis nie lewendig nie. En dit het my ook laat dink dat ‘n geraamte in jou kas lekker wapens en ammunisie is vir die vyand om jou ‘n hele nag wakker te hou. En ek vermoed hierdie geraamte distansieer homself totaal en al van vergifnis. Geen vorm daarvan sal vir hom aanvaarbaar wees nie.

Onthou, jy is nie jou sonde of probleem nie! Jy is wel ‘n mens met ‘n sonde of ‘n probleem. Dit maak jou nie inherent ‘n slegte mens nie. Dit maak jou… wel menslik, want mense maak foute en sondig… ons is allermins nie perfek nie.

Ek en my man het anderdag hierdie gesprek (ons het deesdae vreeslike intelektuele gesprekke oor alles wat ek leer in my kursus) oor trauma. En hoe moeilik dit is om trauma te verwerk, maar hoeveel moeiliker dit is om enige iets te verwerk as jy die trauma veroorsaak het. Dis ‘n perd van ‘n ander kleur, want selfs met opregte berou, sal daai geraamte in die kas dit moeilik vind om nie die heeltyd sy mond te spoel nie. En al het almal jou al vergewe, God inkluis, maar jyself vergewe jouself, net tot op ‘n punt, vir net ‘n kort tydjie. Dis wanneer dit ‘n moeilike affêre afgee.

As ek nie antwoorde kry oor groot vraagstukke in die lewe nie, gryp ek altyd na my Bybel, want glo dit of nie, die Bybel het wraggies al die antwoorde.

Onthou jy vir Dawid, ‘n man na God se hart? ‘n Koning uitverkies deur God self. Wat doen Dawid? Hy steel ‘n ander man se mooi vrou, maak haar swanger, en laat die arme Urija doodmaak- maar Dawid besef hy het gesondig en skryf Psalm 51, ‘n diep Psalm vol gebrokenheid en berou. (19) Offers aan God is ‘n gebroke gees, ‘n gebroke en verpletterde hart sal U, o God, nie minag nie. God verwerp nie vir Dawid nie, Hy kyk na Dawid se hart en sien sy diepgewortelde berou.

Mense wat lief is vir God, bly mense, feilbaar, vol foute. God gebruik gebroke mense, en bring herstel selfs na trauma.

Petrus versaak Jesus in Sy grootste uur van nood en lyding, Hy ontken Hom drie keer, en toe kraai die haan, en Petrus se hart is gebreek. Jesus gee tweede en derde kanse. Drie keer vra Hy, Petrus het jy MY lief? Petrus word herstel en raak ‘n baie belangrike figuur in die vroeë Christelike kerk.

Paulus wat eers Saulus was, was in werklikheid ‘n reeks moordenaar. Hy staan en kyk hoe die eerste martelaar, Stefanus, doodgegooi word met klippe. En van daar af is daar geen keer aan hom nie, hy laat maak christene links en regs dood tot hy Jesus ontmoet op pad Damaskus toe. Die onmoeting verander hom radikaal, van Saulus na Paulus, van vervolger na verkondiger van die evangelie. God herstel en gee aan hom ‘n nuwe naam en ‘n nuwe rigting. Geen lewe is vir God te donker om te herskryf nie. Wat doen hierdie nuwe begenadigde Paulus, hy skryf 13 boeke in die nuwe testament.

Ek wil terugkom na die geraamte in jou kas met die groot mond wat my sommer herinner aan die vyand met sy ewe groot mond, want dit het die tweetjies verseker in gemeen! Luister ons ken mos nou al die vyand se maniertjies en die leuens wat hy graag vertel. Onthou nou weer sy modus operandi: ‘n Dief kom net steel en slag en uitroei. (Joh. 10:10)

So, wat sê hy vir jou en jou geraamte? Kom klim saam met my in die put van hopeloosheid, dis lekker donker hier, en kom ons drietjies gesels bietjie weer oor alles wat in jou verlede gebeur het. Ek sal praat, geraamte sal alles beaam en jy kan net sit en luister, en met elke woord nog onwaardiger voel, met elke sug, nog skuldiger.

Weet jy wie kort jy in hierdie put van hopeloosheid? Jesus. En ek belowe jou die oomblik wat jy vir Jesus innooi gaan die donkerte stukkie vir stukkie vlug, wanneer Jesus gemaklik langs jou kom sit in die onderkant van die put, sal die vyand vlug… en die geraamte sal tjoepstil bly en jy sal Jesus hoor fluister: maar Ek, Ek het gekom sodat jy lewe kan hê, en dit in oorvloed. (Joh. 10:10)

Vriendin, en ek vermoed mens gaan nie ontslae raak van die geraamte in die kas aan die kant van die hemel nie, maar mens moet maar die kasdeur stewig toehou, miskien sluit met ‘n slot of drie. Die grootste oorlog oor hierdie geraamte sal in jou gedagtes gebeur. Die vyand sal nie ophou om jou aan te kla nie, wil jy weet hoekom? Hy wil tog asb nie hê jy moet vrede ervaar nie, hy wil verseker nie hê jy moet glo dat God jou volkome vergewe het nie.

Het God jou vergewe vra jy? Jesus het aan die kruis gesterf vir AL ons sondes. Wanneer ons ons sondes bely met opregte berou, wanneer ons grootste begeerte is om na aan die hart van God te leef… God sien net ons harte, wanneer daar opregte berou is, is daar vergifnis.

Wat sê daai versie nou weer: As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig. (1 Joh. 1:9 [2020])

Ek weet nie wat jou geraamte se naam is nie, wat jy aan wie gedoen het nie, maar is dit nie tyd om jouself bietjie te vergewe nie… en ja soms is dit nodig om na elke donker nag jouself weer van vooraf te vergewe. God sien net jou hart vol berou, onthou dit. God se uitnodiging staan: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee.” (Matt. 11:28 [2020])

One Reply to “‘n Geraamte in die Kas.”

Leave a Reply to Liezel Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *