Ek sien die anderdag ‘n oulike video-clip van ‘n ma en haar dogter. Die dogter is sekerlik al diep in haar sestigs en die ma laat tagtigs. Die dogter vra vir die ma: “So mom, when did you stop stressing about us kids…?” Die ma draai na die dogter en sê: “Well dear, as soon as that happens, I’ll let you know…” Lyk my ‘n Ma wat gedurig oor haar kinders worry is ‘n ding. Ai, so die einde van bekommerd wees oor kinders is nie in sig nie…
Audrey Hepburn het gesê: Die moeilikste deel van moederskap is die innerlike bekommernis en hoe om dit nie te wys nie.
Die probleem is, kinders is jou hart wat buite rondloop. Ek besoek nie te lank terug my Ginekoloog nie, sy vertel van ‘n Pappa wat so verlig was om die baba se hartjie te sien klop nadat daar probleme was, dat hy begin huil het. Hy vra toe benoud vir die Dokter wanneer gaan die gevoel van stres oor hierdie klein mensie beter raak? Op 12 weke? Die eerlike antwoord en waarheid is heel waarskynlik nader aan … NOOIT NIE! Dis stresvol om ‘n ouer te wees.
En ek kry die oumagrootjies die heel jammerste. Ek onthou my ouma het ‘n hele lys gehad van kinders, kleinkinders en agterkleinkinders waarvoor sy elke oggend en elke aand gebid het. Harde werk om ‘n biddende ma, ouma en oumagrootjie te wees. Groot verantwoordelikheid ook!
Ek dink ook nie ons as ma’s staan soggens op met ‘n bekommerd-lysie waaroor ons beplan om vandag te bekommer nie… dis ‘n baie natuurlike ongevraagde gevoel. En natuurlik wil ons nie hê dat dit met ons bloedjies moet sleg gaan nie. Ek en jy sukkel soms om die hobbeltjie in die lewenspad van ons eie persoonlike kindertjies te sien en nie totaal uit te ‘freak’ nie. Al wat jy jouself af vra, is hoe gaan EK dit beter maak?
Ons hardloop holderstebolder alles om, om betyds te keer, op te help, beter te soen, reg te maak. Maar vriendin, wanneer ons hulle persoonlike ‘fixer’ raak en alles loop reg, altyd reg… dan klink ons meer soos ‘n Toyota advertensie as ‘n goeie ma. Ons moet baie versigtig wees om hierdie kindertjies wat die goeie Vader aan ons toevertrou het nie in entitlement in te ‘fix’ nie. Die eintlike vraag wat onsself moet afvra is: Wanneer gebeur die groei? Wanneer gebeur die vorming van sterk inbors en ‘n goeie karakter? Beslis nie op die gladde lewenspad waar alles voor die wind verloop nie…
Die gebed van ‘n gelowige, veral ‘n gelowige ma, het ‘n kragtige uitwerking. (Jak.5:16) Ons moet die gebede wat ons tot God bid, wat ons kinders aanbetref, nie gering ag nie. Dink jy as jy vir Vader-God sê ek sukkel om my kind so te sien swaarkry, dat Hy wat sy Enigste Seun aan ‘n growwe houtkruis sien sterf het, nie sal verstaan nie? En ja soms raak ‘n smeekgebed voor die Vader meer ‘n huilgebed, meer trane en snikke as woorde, maar ook hoop… en geloof… in ‘n God wat kan, ‘n God met ‘n plan.
Before you do anything, put your trust totally in God and not in yourself. Then every plan you make will succeed. (Prov. 16:3 TPT)
Mamma, jy kan God 100% met jou kind vertrou. Hy het jou kind in elk geval liewer as wat jy ooit sal kan. Daar waar jou liefde en arms nie kan bykom nie, het God se genade reeds jou kind omarm. My en jou toekoms en die toekoms van ons kosbare kinders is in ‘n bekende, beminde, geliefde God en Vader se hande.
Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. (Heb. 11:1) My en jou geloof is in ‘n God wat altyd goed is in alle omstandighede, selfs al voel dit nie altyd so nie. ‘n Ma se wapen teen ‘n konstante bekommerd voel oor haar kids is juis haar geloof en elke gebed wat sy met vertroue rig tot die God van die heelal.
Ons bekommer, ons lê wakker, ons probeer hier ‘n raad volg, daar ‘n pilletjie gee i.p.v om te onthou wat Hy gesê het: Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie. (Jer. 33:3)
Soms is die antwoorde nie so voor die handliggend nie. Soms kos dit ‘n klop en ‘n weer klop, ‘n meer as een keer soek en ‘n konstante vra na wysheid, ‘n vermoë om te kan onderskei en Goddelike insig. “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” (Matt. 7:7-8)
Vriendin, ek en jy is soms ‘n voornag of ‘n nanag ‘worriers’ in plaas van ‘n ‘gebeds-warrior’. Miskien is dit juis in die stilte en eensaamheid van die donkerste nag wat die vyand sy kans sal waarneem om jou ma-wees van stryk te bring, maar wat daarvan as dit juis die tyd word wat ek en jy stilletjies in die troonkamer insluip om met God die Vader oor ons kinders te gesels?
Tog sal die Here weer op ‘n dag sy trou laat blyk en sal ek selfs in die nag ‘n lied vir Hom sing, ‘n gebed tot die God van my lewe. (Ps. 42:9)
‘n Leë ma kan nie gee nie, en wegkruip plek op hierdie aarde is daar nie vir ma’s nie, en geen hoeveelheid borrelbaddens, glase wyn, koppies tee of koffie of vrede soek in die verste hoekie van die tuin sal die ding doen nie. ‘n Ma het leiding en genade nodig van haar God. Die enigste plek waar sy vol kom, waar sy vrede ervaar is in die teenwoordigheid van haar Vriend en Maker… maar eers wanneer sy die uitnodiging aanvaar wat sê: “Kom na My toe, jy wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal jou rus gee… Ek is sagmoedig en nederig van hart, en jy sal rus kry vir jou gemoed.” (Matt. 11:28-29)