‘n Goeie Vrydag.

In 2004 word die fliek Passion of the Christ van Mel Gibson vrygestel. Dit was ‘n verskriklike fliek om te kyk, ek dink nie ek het al ooit na ‘n fliek so verslae, so hartgebroke gevoel nie. Dit was om die minste daarvan te sê traumaties om die fliek te kyk. Hoekom? Want tussen die woorde van die Bybel, kan jy die kruisiging van ons Verlosser in die Evangelies gaan lees, al die stories en die gebeure chronologies aangeteken, maar die emosie van Jesus gaan verlore tussen woorde en tyd. Tussen Paashasies en hol sjokolade eiers.

En soos die Paasviering al nader kruip sit ek met twee opponerende gedagtes, eintlik twee opponerende versies. Die een gedeelte in Johannes 3:16. Alombekend en geliefd. God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Die ander versie opgeteken in Matteus 27:46, “Eli, Eli, lemá sabagtani?” My God, My God, waarom het U My verlaat? Hartverskeurend erg.

En ek kan my nie indink hoe Jesus gevoel het hier iewers in die nanag in Getsemane- wat beteken die Olyf pars, nie. Hoe stoksielalleen en beangs Hy moes voel toe Hy gekniel en gebid het: “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied!” (Matt. 27:46) ’n Seun in gesprek met sy Pa.

‘n Kantlyn nota by Matteus 27:46 in The Passion Translation sê die volgende. Jesus asked the Father to be spared from death in the garden so that He could go all the way to the cross. His prayer was answered. The blood that dripped in the garden would not redeem. Jesus had to carry the cross and fulfill all that was written of Him. Die Skrif moes vervul word. (Matt. 26:54)

Hoe verskriklik! Hy bid om menslik sterk genoeg te wees om tot die einde uit te hou, om nie dood te gaan terwyl hulle Hom gesél, spoeg, slaan, verkleineer… op die stowwerige pad wat Hy Sy eie kruis moet sleep-dra nie. Sy gebed word beantwoord… ‘n Engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. (Luk. 22:43) Vriendin en ek kan nie help om te wonder hoe sou die gesprek verloop het nie? Kan jy? Jesus het die profesieë geken, Hy het geweet wat op Hom wag.

Jesus Barabbas word vrygelaat, Jesus die Christus moet hang. En Jesus Barabbas verteenwoordig vir my en jou. Sondig en skuldig, maar vry omdat Jesus die Christus bereid wat om namens my en jou op daardie kruis te hang, want Hy verdedig Homself nie, Hy vra nie vir God om twaalf legioene engele beskikbaar te stel nie… Hy kon ten enige tyd Sy Vader in die hemel om hulp vra… maar Hy het nie.

Op Kopbeenplek word Hy gekruisig, binne enkele versies, terwyl in werklikheid 6 ure verloop. Ses ure van pyn en lyding, van snak na asem, en longe wat nie meer kan uit en in asem nie. Senings en spiere wat skeur elke keer as Hy probeer beweeg om nog ‘n klein bietjie suurstof in te asem. Met ‘n stukkende lyf… Hy skree nie, Hy skel nie, Hy hang en wag vir die regte tyd om te sterf.

Bokant Sy kop die aanklag en die waarheid. “Dit is Jesus, die Koning van die Jode”. (Matt. 27:37) [‘n Voetnota by Matteus 27: 37 in The Passion Translation.] In Aramees: Y’shua Hanozri Wumelech a Yehudim. YHWH! God, the Savior, bled to death for you.

Ons noem komende Vrydag Goeie Vrydag. Sjoe maar ek sukkel met die goeie deel as ek dink aan Jesus… Ek besef dis ‘n goeie Vrydag vir my en jou, want dis wanneer daar vir ons verlossing gekom het, maar o hemel die prys was hoog vir Jesus. Hy wat die pyn en smaad namens my en jou kom dra het. En die hele wêreld se sondes en misstappe kom rus op Sy skouers en dit bring skeiding tussen Hom en die Vader.

Hy voel ver van God, soos mense soms doen wat met sonde worstel, soos ek en jy soms doen. Met die mensdom se sondes op Sy skouers kan dit ook nie anders nie!Wanneer Hy dan uitskree: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Voel dit soos skeiding, voel God vir Hom ver. Voel dit of God wegdraai van Hom.

So vriendin onthou gerus Johannes 3:16 hierdie Goeie Vrydag. Onthou presies hoe lief God jou het, herinner jouself aan die feit dat jy waarlik en waaragtig vry is, dat die dood sy angel verloor het en dat jy nie meer ‘n slaaf van die sonde is nie.

Tog vra ek ook mooi, moenie vergeet wat Jesus vir my en jou gedoen het op daardie nie-so-goeie Vrydag vir Hom nie, want die lyding was eg, die prys was hoog, die offer gebring. Die Lam is geslag, en Sy bloed het ons vir eens en vir altyd vry gemaak. Sy liefde vir my en jou so groot dat Hy uitroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” in plaas van:  “My God My God kom haal My van hierdie kruis af, stuur U Engele…”

Wat Jesus vir ons agterlaat, ons nalatenskap uit die oorwinning aan die kruis, is Sy vrede wat alle verstand te bowe gaan. Sy Gees wat in ons harte woon, ons konstante metgesel. Sy liefde- genoeg vir my en jou- om te bly hang aan ‘n growwe houtkruis, tot Hy sy laaste asem uitblaas. Dít is liefde.

No matter what the storm clouds bring, you can face your pain with courage and hope. For two thousand years ago-six hours, one Friday-Christ firmly planted in bedrock three solid anchor points that we can all cling to. For the heart scarred with futility, that Friday holds purpose. For the life blackened with failure, that Friday holds forgiveness. And for the soul looking into the tunnel of death, that Friday holds deliverance. (Max Lucado)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *