Wa’s my Vrede Heen?

Ek hou van vrede. Vrede in my huis. Vrede in my huwelik. Vrede tussen die kinders. Vrede met myself. Ek noem dit sommer self-vrede. Wanneer jy vrede maak en het met jouself. Wie jy is, hoe jy lyk, waarvoor jy staan. Vrede met ander… en nie net mense vir wie jy lief is nie. Almal… mind you dis nogals ‘n belangrike opdrag van Bo. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. (Rom. 12:18)

Dis ook nie altyd maklik om in vrede met almal te leef nie, party mense maak dit maar moeilik om daai opdraggie uit te voer. Vir hulle wil mens eintlik maar net sê: “Luister man, ek het vrede met jou!” Sjoe ek dink nie dis die vrede wat Jesus verwag ons moet met ander hê nie.

‘n Ander vrede wat mens moet najaag is Goddelike vrede. Vrede tussen jou en jou Maker. Dis by verre die lekkerste vrede om te hê, en wanneer mens mooi daaraan dink, as jy eers die tipe vrede onder die knie het kom die ander vredes seker makliker.

Party dae lewe ek met hope tonne vrede in my hart, ander dae weet ek weer glad nie wat het dan nou van die vrede geword nie. Vriendin, maar jy weet soms gee ons die vrede wat ons het verniet weg. Soms laat ons toe dat die vyand ons vrede steel, ons gee dit weg net met dinge en probleme wat nog net-net oor die horison loer. En soms is al wat dan oorbly slapelose nagte, spanning en ‘n weet-nie-watter-kant-toe nie.

Dis een ding wanneer iemand jou vrede kom steel en ‘n heel ander ding as jy dit sommer pasella weggee. Ander dag is Jannie uitstedig. Vroeg die oggend probeer mense so paar huise van ons af inbreek. Gelukkig jaag die alarms hulle weg voor hulle behoorlik kan in. Laatmiddag dieselfde dag is daar nog ‘n amper-inbraak… ‘n straat of twee in die ander rigting. Wat doen ek? Ek gee summier my vrede weg, niks het met ons gebeur of eers amper gebeur nie… ek slaap daai nag ‘n hele 2ure, die res van die tyd lê ek wakker met groot oge in die donkerte. Vredeloos en vol vrees.

Die Vyand maak graag vrede bymekaar, nie dat hy die vrede soek nie. Hy vat jou vrede en gaan gooi dit op die ashoop. Soms laat ons toe dat mense ook ons vrede steel. Die taxi wat voor ons indruk ry op die ou end met ons vrede weg in sy reeds oorvol taxi. Die Boemelaar op die hoek wat nie wil ophou karring en vra nie hy druk jou vrede tussen sy karige besittings in en loop daarmee weg.

Hoe lyk die vrede metertjie in jou hart liewe vriendin? Bly vrede jou ontwyk. Of kom kuier vrede net sporadies vir ‘n dag of twee? Waar is vrede dan nou heen? Vrede is iets waarvoor ek en jy hard moet werk. Veral om die vrede te behou. Om die vrede te bewaar is weer ‘n perd van ‘n heel ander kleur.

Vrede kom vinniger as jy een van twee goed besef, glo en in jou hart bêre. God is in beheer. Altyd in beheer. Hy het nie van jou vergeet nie. Hy het jou lewe in die palm van Sy hand. Jou lewensdae is getel en neergeskryf. Niks wat jy daaraan kan doen nie.

Dit help ook as mens vrede maak met die feit dat jy nie in beheer is nie, maar nee skop sal ons teen die prikkels skop… want ons weet nie regtig wat die alternatief is nie. Miskien het jy jou vrede verloor, verniet weggegee of so lanklaas vrede ervaar dat jy dink dis heel waarskynlik nie vir jou bedoel nie. As ons net kan leer om altyd vrede te hê dan sal dit lei tot kalmte van gees en ek dink dit kan dalk baie van ons emosionele seer en gebrokenheid genees.

Kan ons vrede vind hier op aarde? Of moet ons eerder ‘bargain’ op vrede in die hemel wanneer ons die tydelike met die ewige verwissel? Nee, vrede is vir ons beskore hier op aarde. Hoor wat sê Jesus in Johannes 16:33: Dit sê ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar HOU MOED: Ek het die wêreld klaar oorwin. VREDE laat Ek vir julle na; my VREDE gee Ek vir julle. Die VREDE wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Liewe dogter, moenie ontsteld wees nie, moenie bang wees nie. (Joh. 14:27)

Christus is ons vrede. (Ef. 2:14) Jesus is die verpersoonliking van vrede, as jy jou vrede verloor het gaan soek jou vrede by die Prins van Vrede. Laat Sy vrede in jou lewe die deurslag gee. (Kol. 3:15) Deurweek jou lewe, hart, siel en verstand met vrede wat alle verstand te bowe gaan. God is tog ‘n God van vrede. (1 Kor. 14:33)

Liewe vriendin ek bid vandag vir jou, as jy vrede kort, mag God die bron van hoop, jou deur jou geloof met alle vreugde en VREDE vervul, sodat jou hoop al hoe sterker kan word deur die krag van Sy Heilige Gees. (Rom. 15:13) Leef in vrede, jaag vrede na. En die God van liefde en VREDE sal by jou wees. (2 Kor. 13:11) Mag die VREDE van God, wat alle verstand te bowe gaan, oor jou hart en gedagtes die wag hou in Christus, sodat niemand jou VREDE van jou sal kan afrokkel nie. (Filip. 4:7) En liewe vriendin, mag God, wat VREDE gee, jou volkome aan Hom toegewyd maak en jou geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom! (1 Tess. 5:23)  AMEN! Vrede tot volgende week.

Toe het die Here gevra: “Moet ek self saamgaan en vir jou vrede gee?” Eksodus 33:14

2 Replies to “Wa’s my Vrede Heen?”

  1. Dankie Martha… Ek hou van vrede.. Maar met 3 Groot volwasse kinders,(dogters) kan ek nie meer by hou en vure doodslaan nie.. Want hulle het nie vrede met die Here nie.. Hulle het Weg gedwaal!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *