Middeljare is volgens Mnr Google tussen 40 en 60 jaar. Plus minus 10 jaar aan elke kant dit maak dit dan 50, nê? Phew dan is ek darem nog 5 jaar weg van offisiële middeljarigheid. Hoekom dink ek nou daaraan? Ousus het die ander dag dit gewaag om na my en Jannie te verwys as middeljarig? Wat? Ek weet, as sy nader was het ek haar met een veeg van haar voete afgeklap. Kleinsus weer het so week of terug albums deur gegaan op soek na ‘n baba foto van haarself. So kom sy af op ons jongmens en trou foto’s. Sy sê nogals ewe onskuldig… sjoe mamma WAS beautiful toe mamma jonk was. Verlede tyd, vervloëe dae se dinge.
So kan ek skop teen die veranderinge wat ongemerk insluip, ek kan my horende doof en siende blind hou. Feit is dit is wat dit is. Middeljare het my ingehaal en ek vermoed dis nie sommer van weghol, wegkruip en ignoreer nie.
Verlede jaar moes ek ‘n bril kry, ek sien glo nie ver genoeg volgens my oogkundige nie. Mind you… ek kan die son en die maan sien, so ek is nie presies seker hoe ver mens nou eintlik behoort te sien nie. In dieselfde asem sal ek dan ook maar rondborstig erken ek sien alles nou mooier, in fokus. Jannie kan weer nie naby sien nie, ag aarde wat ‘n verligting… hy sien nie al die nuwe plooie, rolle, kraters en selluliet nie. Altyd iets om voor dankbaar te wees nê?
Asof die bril nou nie al erg genoeg “in your face is nie” laat ek toe mos my cholesterol verlede week toets, ai ek weet dit was baie onverantwoordelik van my! Jip en toe bly dit nie net by brille nie, binne 6 maande toe kom die pille besigheid ook by…
Ek het ook agtergekom ek skrik maklik, en natuurlik van dat Jannie dit agter gekom het maak hy my skrik om elke hoek en draai. Ek sou ‘n paar maande terug sonder om te dink van ‘n paar trappe afspring, nou is ek ewe skielik bang ek breek, kneus of buig iets uit plek uit. Miskien het ek vir die eerste keer in my lewe verstand gekry! Wie weet? Ek moes lag die anderdag toe ek die versie in Prediker 12:5 raak lees. Dit is die tyd wanneer hy bang is vir ‘n hoogte en vir alles op die pad skrik… klink soos ek!
Die vakansie was ook nie verbruikers-vriendelik vir my gewig nie, die skaal het byna ‘n oorval gekry toe ek dit waag opklim, ook net omdat die suster by die kliniek gesê het ek moet klim. Intussen het ek nou maar weer die Weigh Less boekie nader gesleep. Nie omdat ek nou voel ek moet so danig gewig verloor nie, maar ek sal seker iets moet doen tussen die skaal en die cholesterol pille.
Die eerlike waarheid, ek sien uit na hierdie fase. Ons het mos nou al ‘n paar lessies geleer en ‘n paar toetse geslaag. Ek het besluit om van my kant af alles te doen om my gesondheid, skaniere en lyf te beskerm, na te kyk en te vertroetel, maar bowenal om my lyf te waardeer en nie die hele tyd dinge te wil verander nie. Te leef en beleef in die hier en nou. Nuwe fases, nuwe dinge.
Ek en jy lewe in elk geval deur geloof, en daarom raak ons nie moedeloos. Al is ons uiterlik besig om te verander, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. (2 Kor. 4:16) Met die grysheid kom daar darem ook wysheid. Wysheid kom in die gryse ouderdom en insig na baie jare. (Job 12:12)
Middeljare of te not een ding weet ek verseker. God is en bly my sterkte, aan Hom behoort ek vir altyd. (Ps. 73:26) Ek sal my krag in die Here vind, ‘n toenemende Goddelike krag. Ek sal vol lewenskrag wees en bly. (Ps. 92:15) En hoe bly mens jonk en veerkragtig, hoe jaag jy die ouderdom weg, sit hom summier op sy plek? Deur elke dag te leef met ‘n dankbare hart, wanneer jy jou vreugde in die Here vind, wanneer die vreugde van die Here jou krag is waarop jy staatmaak. Wanneer die vrede van God in jou lewe en hart vasstrapplek gekry het. Jy is mos maar net so oud soos jy voel!
As daar een gebed is wat ek bid wat ek vra van die God van die hemel en die aarde is dit: Leer my my dae so gebruik dat ek wysheid bekom. Skenk my elke dag U liefde in oorbvloed dat ek my lewe lank mag juig en bly wees. Laat my U goedheid belewe; hou die werk van my hande in stand, ja, die werk van my hande, hou dit in stand. (Ps. 90:12-17)
Mense is so jonk soos hulle geloof in God,
so oud soos hulle twyfel;
so jonk soos hulle selfvertroue,
so oud soos hulle vrese;
so jonk soos hulle hoop,
so oud soos hulle oorgawe aan die wanhoop.
(Douglas MacArthur)
Dankie vir die stukkie bemoediging! Ek leef nog so bietjie in ontkenning oor middeljarig wees 🙈 maar die gedeelte laat my weer jonk voel.
Ek dink ontkenning is deel van die middeljare… hoe dan anders?😂
Ai liefste vriendin. Lag ek nou so lekker hier waar ek lê en lees. Jy kan ‘n ding darem so raak sê. So baie waar. Pragtig gestel!