
Jy mag nie loop en skinder nie, jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here. (Lev. 19:16)
Skinder is ‘n gevaarlike besigheid… Daar is ‘n paar sinsnedes waarmee ek en jy liefs nooit ‘n gesprek moet begin nie. “Ek sê maar net…”, “Ek wil nou nie skinder nie…”, “Net tussen my en jou…”, “Moet vir niemand sê nie…”, “Het jy gehoor?”. Ons is almal skuldig en dis iets waaraan ‘n mens lekker hard moet werk. CJ Langenhoven het gesê: By die een oor in en by die ander mond uit.
Praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom. (Ef. 4:29)
Laat die aanhoorders van jou woord kan sien aan wie jy behoort. Laat jou woorde opbou, nooit afbreek nie. Laat jou woorde gebreekte harte help genees. Dis beter om ‘n hart sonder woorde te hê as woorde sonder ‘n hart. (John Bunyan) Continue reading “Ek sê maar net…”

Woorde is nie net woorde nie. En jy kry baie woorde… Woorde wat heel, woorde wat breek en dan is daar net woorde, woorde wat net die spasies opvul. Net sommer woorde. Toe kom ek op die versie af … ‘n Gelowige se woorde is soos ‘n fontein. Dit bemoedig mense, troos hulle, wys hulle die regte pad. (Spr. 18:4 Die Boodskap) Miskien moet ek en jy nuut dink oor woorde, want ‘n gelowige se woorde moet soos ‘n fontein wees en moet bemoedig, vertroos en rigting aanwys.
Hier is ‘n lekker eksperiment vir jou wat jou ure, miskien dae kan besig hou! Vat ‘n buisie tandepaste (enige maak sal werk) en druk dit uit. Soos in die hele buisie. Nou vir die interessante deel, probeer nou om die tandepaste terug te kry… Wat bedoel jy, jy kan nie? Sien woorde wat ons uiter is baie so. Die woorde wat jy sê kan nie net teruggevat word nie. Dit kan nie ongedaan, ongesê word nie.