
En presies hoe hulle my regop hou, staande hou aan die einde van ‘n té besige jaar.
Dit was interessant, ek het gedink ek gaan sukkel om 14 versies te kry, maar ek was verkeerd, want daar is te veel versies wat regtig my hart aanraak, wat eintlik super persoonlik is… miskien lyk jou lysie geheel en al anders, dis ook reg! (Volgende week deel ek nog 7, anders raak hierdie blog-inskrywing net te lank!)
-
Bedaar en erken dat Ek God is, Ek is verhewe bo die nasies, Ek is verhewe bo die nasies. (Ps. 46:11 2020)
Be still and know that I am GOD.
Be still and know that I AM…
Be still and KNOW…
Be STILL…
BE…
Ek vermoed hierdie versie is nie net in my oorlewings-tassie vir einde van die jaar nie, maar gegraveer op my hart as my lewens-versie. Ek dink hierdie versie gaan minder oor stil bly en stil wees, dit gaan meer oor die anderkant, WIE aan die anderkant van daardie stil wees is. Ek en jy kan stil wees, want Hy is aktief besig. Ons kan in stilte op Hom wag, kommerloos, vol moed en vrede, want
Hy is besig…
Hy sluimer nie,
Hy slaap nie.
-
Whenever my busy thoughts were out of control, the soothing comfort of your presence calmed me down and overwhelmed me with delight. (Ps. 94:19 TPT)
Hoor hier, ek weet nie van jou nie. Hierdie tyd van die jaar het ek behoorlike besige gedagtes, van alles wat gedoen, gekoop, gepak, gebak, getoedraai, opgeslaan, weggebêre en saamgevat moet word. En vir een of ander onverklaarbare rede, is die tyd wat ek begin kaste regpak! Ai ek weet, is daar nie genoeg goed alreeds om my en my gedagtes aan die gang te hou nie?
MAAR… ek doen dit nie alleen nie, want Sy alomteenwoordigheid vou my toe in ‘n kokon van liefde en vrede, ten spyte van die lysies en die sub-lysies en die moet-nog-doen-lysies!
-
Vertrou op die HERE met jou hele hart… (Spr. 3:5 2020)
Vir my is God in alles en die waarheid is: ek is 100% afhanklik van Hom. So ek en jy moet leer om Hom te vertrou met ALLES. Ons moet met oorgawe kan agteroor val met die vaste wete dat Hy ons verseker sal vang, elke keer… Hy is ons Helper, ons Rots, Hy is die groter-prentjie Siener. Hy is onveranderd en nog van altyd af in beheer.
-
In my hart koester ek U woord… (Ps. 119:11)
Koester beteken eintlik maar net: in jou binneste lewendig hou en groei. Hoe mooi is dit? Om die Woord van God lewendig te hou in jou hart en daaroor na te dink, dit jou eie te maak, en toe te laat dat die Woord (Jesus) jou kom verander, vernuwe en versterk! Your word I have treasured and stored in my heart (AMP)
Wat ek ook hou van hierdie aller kosbaarste versie, wanneer dit woes-woes gaan, dan kan jy net terugval op dit wat jou hart reeds weet. Op elke vers wat reed in jou hart ingegraveer is.
God is good all the time and all the time God is GOOD!
-
Hy wat in die beskutting van die Allerhoogste woon, sal oornag in die skaduwee van die Almagtige. (Ps. 91:1 2020)
Woning, daar waar jy tuis is. Daar waar jy veilig is, daar waar die elemente en die warm son jou nie kan bykom nie. Ons woon net saam met mense wat ons ‘n verhouding het mee, anders is ons loseerders en nie deel van die binnekring nie. Hoe kosbaar is hierdie Woord? Is jy in die binnekring liefste vriendin, is Hy jou Abba by wie se huis jy nie net tuis is nie? Maar o, so-so welkom?
-
Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. (Jes. 30:15 1983)
Met hierdie versie het my hart en my gees al lekker gestoei. Krag=stil wees + vertroue. Dis omdat dit lyk soos ‘n wiskundige vergelyking dat ek sommer holderstebolder die ander rigting wil in vlug!
Helaas dink ek tog na al die stoeiery is ek en Jesaja 30 vers 15 nou op dieselfde bladsy. Die allerbeste wat ek en jy kan doen is om telkemale, aanmekaar terug te draai na God. Om te vertrou op Sy voorsiening en beskerming, om te vertrou dat Hy ALTYD ALLES ten goede laat meewerk, al lyk dit soms nie so nie, al voel dit soms nie so nie!
Jy kan jou antwoorde in die wêreld gaan soek, jy kan jou vertroue verplaas na self, en geld, en werk, en sukses… maar jy gaan jou krag nie daar vind nie, en jy gaan beslis nie vir God daar tussen werk en sukses gaan uitkrap nie. Want My en jou krag lê in God, en elke belofte in Sy Woord. As ons dit kan regkry om stil te wees ten midde van die storms en net op Hom te fokus sal ons Sy krag in ons op ‘n nuwe manier ervaar.
-
Ek het jou op jou naam geroep, jy is MYNE! (Jes. 43:1 1983)
Hoe mooi is die versie? Ek dink dit kom lê en val veral sag op ‘n vroue-hart wat nie elke dag lekker weet: Wie is ek nou eintlik, regtig? Dit is wie jy is… en dit is wie ek is… ons is Syne. So ken Hy ons elkeen, intiem, op die naam! Hy ken jou hart se storie, jou grootste seer, jou mooiste oorwinning, jou diepste begeerte. Dit is Hy wat jou op ‘n wonderbaarlike manier in die skoot van jou moeder aanmekaargeweef het.
Hy weet presies hoe moeg jy is aan die einde van hierdie jaar. Hy sien elke sug, elke traan wat jy iewers alleen gestort het. Hy weet wat jy alles vermag het, wat jy alles nog wou doen… Vriendin, HY SIEN JOU! Mag Sy goedheid en guns jou vooruitgaan in hierdie laaste stukkie van die jaar.


