Goed Genoeg? Goed Genoeg.

Vraag of stelling? Sommige dae is dit vir my ‘n stelling, maar ek vermoed die meeste dae meer ‘n vraag, maar weet jy wat my liewe vriendin ons moet daarnatoe werk dat dit maar eerder altyd ‘n stelling is en nooit meer ‘n vraag nie. Dat ons onsselwers sal vind, sal weet wie ons is. Dat ons wie ons is minder sal bevraagteken en weet dat ons weet … deur die genade van God is ek wat ek is… (1 Kor. 15:10)

Teen wie of wat meet jy jouself… want sien dis hier waar al ons probleme begin. Ons vra: “So wêreld, wat dink jy van my? Hou jy nog van my? Vriendin, die reine waarheid is, iemand sal altyd maar altyd mooier, maerder, langer, meer agtermekaar, ‘n beter ma, ‘n beter vrou, meer suksesvol wees as ek of jy. Continue reading “Goed Genoeg? Goed Genoeg.”

Pille, Brille en Oud word Dinge.

Middeljare is volgens Mnr Google tussen 40 en 60 jaar. Plus minus 10 jaar aan elke kant dit maak dit dan 50, nê? Phew dan is ek darem nog 5 jaar weg van offisiële middeljarigheid. Hoekom dink ek nou daaraan? Ousus het die ander dag dit gewaag om na my en Jannie te verwys as middeljarig? Wat? Ek weet, as sy nader was het ek haar met een veeg van haar voete afgeklap. Kleinsus weer het so week of terug albums deur gegaan op soek na ‘n baba foto van haarself. So kom sy af op ons jongmens en trou foto’s. Sy sê nogals ewe onskuldig… sjoe mamma WAS beautiful toe mamma jonk was. Verlede tyd, vervloëe dae se dinge. Continue reading “Pille, Brille en Oud word Dinge.”

Sproetjies.

Sjoe! Dankie Kleinsus vir Sproetjies. Ek eer die Here vir die talent waarmee Hy jou vir nou toevertrou het!

Ek is mal oor musiek. Ek luister omtrent altyd na musiek. Sonder musiek sal ek nie ek wees nie! Ek luister die meeste Christelike musiek, maar regtig enige musiek kan gaan. (Behalwe klassiek, boeremusiek en die Briels, daar trek ek ‘n defnitiewe streep) Die beste geskenk wat Jannie nog ooit vir my gegee het, is ‘n draagbare speaker. (Dankie my engel!) Ek vat die speaker oral saam waar ek gaan. As ek skryf, stryk, wasgoed ophang… die werke. Die ergste is ek sing kliphard saam… Jannie sê hoeka ek klink soos ‘n kat op ‘n warm sinkplaat… arme bure!

Gister is ek oppad skool toe vir my daaglikse me-time. Dis nou die 30-minute wat ek voor die Hoërskool sit en boek lees! Oppad luister ek Sproetjies. Ek raak sommer nostalgies, want dit is mos musiek waarmee ons grootgeword het. Ek raak sommer so bietjie opstandig en ongeduldig met Sproetjies wat haar self nie deur sy oë gesien kan kry nie. Ai en dis mooi goed hoor:

“Sproetjies, daars ‘n reënboog in jou oë, almal wil graag soos jy wees, want jy’s pragtig, lieflik”. En die jare stap aan en Sproetjies verander van ‘n lelike eendjie in die mooiste swaan, ‘n swaan wat kan dans ook nog, met ‘n gehoor wat sy bekoor, maar wat sê Sproetjies? “Ek wens ek kon my deur jou oë sien…” Continue reading “Sproetjies.”